Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
DODEDANS
’n Stad sterf
Net ná tienuur die aand van 13 Februarie 1945, hierdie naweek presies 70 jaar gelede, is die mooiste stad in Europa uitmekaargeskiet, skryf Frederik de Jager.
Die skade ná die storm. Foto: Reuters
Die manjifieke Frauenkirche het wonderbaarlik die aanvalle oorleef, maar vanself ingetuimel weens inkrimping van sy boumateriaal toe alles begin afkoel het.
Bo is die herboude kerk met die standbeeld van Martin Luther.
Sir Arthur “Bomber” Harris
Die lyke van inwoners van Dresden in 'n bomskuiling.
Só lyk die Hofkirche vandag. Dit het destyds erg deurgeloop in die aanval en is in die 1980's herbou.

Dresden aan die Elberivier was enige tyd so mooi soos Praag, net ’n entjie suid daarvan, ’n soetgebak van barokargitektuur wat die stad die bynaam “Florence aan die Elbe” besorg het.

Waar deur die jare van kommunisme net oop grond oorgebly het, staan daar nou, ná die Duitse hereniging, weer ’n hele stadsektor met talle van die manjifieke geboue weer opgebou. Maar daar is een belangrike verskil: ’n groot hoeveelheid van die sandsteenklip is onuitwisbaar swart gebrand. Die elegansie is nou somber. Dit is swaar beklee met verskriklike geskiedenis.

Drie groeperings bomwerpers het uit die ooste van Engeland soos ruiters van die apokalips oor die stad gevlieg. Die eerste sowat 230 Britse Lancasters en Mosquitoes het binne tien minute ’n drag van duisende tonne plofstof en brandbomme oor die stad laat reën.

Die tweede golf, ook Britte, het 00:30 van die 14de gekom, nagenoeg 550 vliegtuie. Die eerste aanval was so suksesvol dat daar bra min vir die tweede groep oor was om onder die vuur te steek, maar omdat hulle nie bomme wou mors nie, is die teikengebied na willekeur oos van die oorspronklike uitgebrei.

En, asof daarna nog iets oor was om te bombardeer, het die Amerikaners met 431 Flying Fortresses, die B-17’s, ’n derde besoeking van die inferno aan Dresden gebring. Dit was om 12:00 op die 14de. Die oortrokke weer het die Amerikaanse aanval laat misluk. Eers het ’n deel van die groep verdwaal en Praag vir Dresden aangesien. Die res moes hul bomme los van meer as twee keer so hoog as wat die Britte in skoon lug kon doen, en sonder sig, sodat hul bomme ondoeltreffend versprei is.

Nietemin, erger as enige Ou-Testamentiese plaag, het die 1 200 vliegtuie met 3 900 ton bomme die poorte van die hel vir hierdie stad oopgegooi. Die aanvalle was fyn beplan om te verwoes. Elke aanval het tienduisende bomme en honderdduisende brandbomme, eintlik maar petrolbomme, oor die stad afgegooi.

Die brandbomme moes deur die dakke breek en die plafonne aan die brand steek. Die bomme moes die deure en vensters uitruk sodat die vlamme met lug gevoed kon word. Individuele brande het by mekaar aangesluit sodat die doel bereik kon word: ’n allesomvattende vuurstorm.

Die vuurstorm was die gelyke van ’n orkaan. Van alle kante af het lug na die vuur gestroom. Die winde het alles in hul pad na die hemelhoë vuurkolom meegesleur. Dit was 50 km ver sigbaar. Brandende balke en mense is saam deur die lug geslinger, die vuur in. Dié wat staande kon bly, is deur die vonke aan die brand gesteek.

Die teer het gesmelt en dwarsdeur mense se skoene tot aan die been gevreet. Dié wat ’n toevlug gesoek het in die reservoirs wat vir die brandweer gebou is, juis in die geval van ’n lugaanval, is daarin doodgekook. In die bomskuilings – blote onverseëlde kelders – het die meeste mense versmoor of van koolstofmonoksiedvergiftiging gesterf. Dit was so warm soos kookoonde daarbinne, in ag genome dat die temperatuur buite 1 600°C was.

Die brandweer kon in ieder geval nie by die brand uitkom nie, en ook dit was so beplan. ’n Deel van die vrag van elke aanval was ’n hele aantal 4 000-pond- bomme wat kraters in die paaie moes skiet. Dit is ’n les wat die Geallieerdes by die Duitsers self geleer het tydens die aanval op Coventry in 1940. En die berekening het nie daar gestop nie.

Die veelvuldige aanvalle het so gewerk: ’n Ruk ná die eerste vlaag kom die mense by die bomskuilings uit, die reddingspanne begin met hul werk. ’n Paar uur later, sodra almal dink dit is veilig op straat, kom die tweede vlaag en stuur almal die ewigheid in. In die geval van Dresden, tot oormaat van ramp, was daar drie aanvalle.

Was dit die doel om burgerlikes om die lewe te bring? Sonder twyfel. Deur die loop van die oorlog het die idee om die bevolking moreel te ontmoedig deur hulle direk te teiken, algaande legitimiteit as militêre strategie gekry. Talle stede was daarvan die lydende getuies: Coventry, Londen, Bath, Rotterdam, Hamburg, Dresden, Berlyn, Leipzig en verskeie ander.

Was dit wraak? Nee. Die propagandamasjinerie van die briljante Josef Goebbels het dadelik aan die werk gespring om morele munt uit die aanval te slaan. En hoewel sy werk makliker was as dié van die Geallieerde propagandiste, getuig dit van sy doeltreffendheid dat die opvatting tot vandag bestaan dat Dresden ’n weerlose stad sonder enige militêre belang was, wat uit blote wraak vir ­Coventry vernietig is.

Die feit is dat Dresden se optiese, radio- en presisie-ingenieursbedrywe vinnig in oorlogsproduksie omgeskakel is – byvoorbeeld vir visiere vir lugafweer en aandrywers vir die berugte V1-missiele wat die Duitsers teen die einde van die oorlog van Nederland af op Engeland afgevuur het.

Everything had so far gone terrifyingly right. On this night of February 13-14, 1945, the planners and the markers, the master bomber and his aircrews – not forgetting the ground crew back at base and the “lassies” who filled and packed those incendiaries in their little factories tuck- ed away among the Scottish hills – had created the rarest of things. The perfect firestorm. – Uit Dresden deur Frederick Taylor

Daarby was Dresden ’n belangrike kommunikasiesentrum in die Duitse oorlogsmasjien, asook ’n spoorlyndeurgang van kernbelang vir die geveg aan die oosfront teen die naderende Rooi Leër. Trouens, tydens die Jalta-konferensie tussen die Amerikaanse pres. Franklin Roosevelt, die Britse premier Winston Churchill en die Sowjetleier Josef Stalin het die Russe gevra vir Geallieerde lugaanvalle op die oostelike stede, en spesifiek Dresden, om hul opmars te ondersteun.

Ondanks dit alles, was dit ’n menseslagting. Minstens 25 000 is dood volgens die beste skattings, maar dit kan meer wees. Juis in daardie tyd het duisende burgerlikes van die ooste voor die Russe uit na Dresden gevlug, en die Britte het dit geweet. Sir Arthur “Bomber” Harris, Britse lugmaarskalk in beheer van lugaanvalle, was geruime tyd reeds ’n voorstander van “gebiedbombardement” pleks van gefokusde teikenaanvalle.

Klinies gesien, was Harris korrek in sy argument dat sulke lugaanvalle verreweg die goedkoopste en vinnigste manier was om die vyand op sy knieë te dwing en die oorlog tot ’n spoedige einde te bring. Maar selfs Churchill het hom ná Dresden gedistansieer van die slagting van burgerlikes onder die dekmantel van legitieme militêre optrede. Sy vertroulike memorandum hieroor is spoedig teruggetrek.

  

En nou is dit 70 jaar later. Van oor die rivier gesien is die gesigseinder van die Ou Stad min of meer herstel. Die betekenisvolste van die heropgeboude strukture is die manjifieke Frauenkirche, ’n Lutherse barokkatedraal van die agtiende eeu. Wonderbaarlik het dié kerk die aanvalle oorleef, maar toe tuimel dit vanself in weens inkrimping van sy boumateriaal toe alles begin afkoel het. Die heropbou daarvan was ’n reusagtige en peperduur projek, wat gedeeltelik deur die publiek gefinansier is. Aan die voorkant, waar ’n standbeeld van Martin Luther op die uitgebreide Neumarktplatz staan, is nuwe sandsteen in sy warm goue kleur gebruik. Aan die agterkant, swartgebrande oorspronklike klippe.

By die bewonderenswaardige van die heropbou van die Altstadt is daar iets wat ’n mens hinder. Dit is asof die stad die geskiedenis wil teëgaan en uitdaag: Kom probeer weer. Nuwe klippe voor, die gebrandmerktes agter. Ons is weer wat ons in die goue agtiende eeu was, of in 1939, of selfs aan die begin van 1945. En wat was dit? Die Saksers het die Führer by sy besoek aan Dresden in 1934 geesdriftig toegejuig. Dieselfde Saksers wat in 1918 die Wettin-dinastie omvergewerp het wat Sakse vir byna 1 000 jaar regeer het, en wat ’n sosiaaldemokratiese regering in die plek daarvan ingestel het.

Één nuwe gebou staan daar in skrille kontras met die omliggende barokgeboue: Die nuwe sinagoge is ’n onverbiddelike vierkant, ’n onversierde sarkofaag op die plek waar die oorspronklike gebou op 9 November 1938 – Kristallnacht – afgebrand is. Om geen twyfel oor hul wreedheid te laat nie, het die Nazi-owerheid die klein Joodse gemeenskap beveel om die puin op eie koste weg te ry.

Van die Carola-brug, waar die sinagoge staan, kan jy oor die rivier ’n groot gebou sien wat met sy koepel en minarette na ’n moskee lyk, maar wat nie een is nie. Verder wes daarvan staan daar egter wel ’n moskee. ’n Paar straatblokke verder aan die linkeroewer is die Theaterplatz voor die ook herboude Semperoper, ’n Renaissance-operapaleis.

Op hierdie plein, wat tydens die Nazi-regime tot Adolf Hitlerplatz herdoop is, het daar in Oktober 2014 ’n beweging begin wat vinnig van ’n stuk of 200 tot 25 000 optoggangers elke Maandag gegroei het. Pegida: Patriotische Europäer gegen (“teen”) die Islamiserung des Abendlandes.

“Abendland” is ’n argaïese woord vir die Weste, gelaai met konnotasies van meerderwaardigheid. Hulle gebruik die leuse “Wir sind das Volk” (“Ons is die volk”). Tot haar verdienste het kanselier Angela Merkel haar in haar Nuwejaarstoespraak sterk teen hierdie xenofobiese beweging uitgespreek.

En hoewel Pegida ook in ander Duitse stede kop uitgesteek het, en tot so ver as Antwerpen en Oslo, het hy hom vasgeloop in teenoptogte in verskeie Duitse stede, en het uitgerafel tot omtrent niks.

Neo-Nazisme in die voormalige Oos-Duitsland is ’n ingewikkelde saak. Dresden, waar Westerse TV- en radioseine gedurende die kommunistiese jare versper is, het as die “Vallei van Oningeligtes” (“Tal der Ahnungslosen”) bekend gestaan. Mense het geïsoleerd geleef. Nog tans leer die Saksiese geskiedenis, in 1918 met die einde van die monargie, en weer in 1934 met Hitler se besoek, en wéér in 2014 met Pegida, hoe ’n bevol king op ’n tiekie kan draai.

Oor die afgelope jaar, nog voor die Charlie Hebdo-moorde in Parys, het anti-Islamitiese aanvalle in Duitsland skerp toegeneem. In Januarie is ’n Moslem-gelowige in Dresden vermoor. En soos die hardnekkige herhalings van xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika, is dit vir seker nie die einde daarvan nie.

In reaksie het een Duitse aktivis onder die naam Pippi Konfetti ’n foto van haarself op Twitter geplaas wat viraal versprei het. Onder die opskrif “Das Volk muss weg!” is daar bo-oor haar naakte bolyf geskryf, “Bomber Harris do it again.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.