Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Nico Gey van Pittius: ‘Só kan Afrikaans vry wees’

Nico Gey van Pittius

Onlangs het twee van ons vriende uit Duitsland (wat op ’n toer deur Suid-Afrika is) ’n paar dae by my en my vrou aan huis kom bly. Hulle, as Duitsers, is nie Afrikaans magtig nie, en ons, as Afrikaners, is nie Duits magtig nie, dus het ons die hele tyd wat hulle by ons was net Engels gepraat, selfs as ek en my vrou met mekaar voor hulle gepraat het.

Ons het dit gedoen omdat ons almal Engels kon verstaan, omdat ons hulle respekteer en omdat dit net doodgewoon ordentlik en goeie maniere is. Ons het dit gedoen omdat ons van kleins af geleer is om ander mense te hanteer soos jy self hanteer sou wou word.

Ons het dit gedoen omdat dit die kommunikasie tussen ons vergemaklik het en omdat dit die beste manier was waarop ons hulle kon laat welkom voel en na hulle omsien in die tyd dat ons in mekaar se teenwoordigheid was. As ek met my vrou in Engels voor hulle gepraat het, het ek nie die hele sin net so weer in Afrikaans vir haar vertaal nie, want sy kan Engels tog wel goed verstaan en dit sou dus onsinnig, tydmors en heeltemal oorbodig wees.

Een van ons Duitse vriende se Engels is wel nie so goed soos die ander een nie, maar dit het nie beteken dat sy opgehou Engels praat het nie. Al wat dit beteken het, was dat haar man so af en toe ’n bietjie ekstra hulp verleen het om hier en daar ’n woord of konsep te vertaal of te verduidelik. In die aande as ons kamer toe gaan om te gaan slaap het ek en my vrou oorgeslaan na Afrikaans, ons moedertaal en die taal waarmee ons die gemaklikste is.

Uit die stemme wat ek uit ons gaste se kamer kon hoor, was dit duidelik dat hulle met mekaar in die kamer Duits gepraat het, hul moedertaal en die taal waarmee hulle die gemaklikste is. Maar die volgende oggend as ons mekaar om die ontbyttafel groet, was dit weer net Engels, en so ook die res van die dag.

So het ons die hele kuier deur dae lank in Engels gelag en gesels, stories vertel en feite en geskiedenis gedeel, van mekaar geleer en mekaar beter leer ken, en in Engels het ons ons verhouding gebou en ons vriendskap was aan die einde van die paar dae net sterker as wat dit was aan die begin van die kuier. Dat ons die hele tyd in Engels gekommunikeer het, het nie beteken dat hulle nie meer Duitsers was en hul taal verguis het nie, en dit het definitief nie meer beteken dat ek en my vrou nou ewe skielik nie meer Afrikaners is wat nie meer lief is vir ons taal en kultuur nie.

Ons het nie ons taal versaak deur met hulle in Engels te kommunikeer nie. Dit het ook nie beteken dat ons huis nou ewe skielik nie meer ’n plek was waar ander Afrikaanse mense welkom was nie of ongemaklik gevoel het nie. Dit het nie beteken dat ek al my Afrikaanse boeke in die asdrom moes gooi nie, en ons nie meer tyd het vir Afrikaanse musiek of flieks nie. Inteendeel, deur middel van Engels kon ons effektief met ons vriende kommunikeer, en die begrippe van wie ons is en waar ons vandaan kom effektief aan hulle oordra. Hulle het geleer wie Afrikaners is en hulle het respek gekry vir ons en ons kultuur.

Hulle weet nou wat sakkie-sakkie is en hulle weet hoe biltong proe. Hulle verstaan ons en ons verstaan hulle. Ons vriende het verryk van ons af weggegaan en ons het hulle met trane in die oë gegroet, want ons weet nie wanneer ons hulle weer sal sien nie. Dit was die krag van effektiewe kommunikasie, al was dit in ’n ander taal. Om mekaar op te bou en nie versperrings tussen ons te plaas nie.

Dink ’n oomblik wat sou gebeur het indien ons die hele kuier deur net Afrikaans met ons Duitste vriende gepraat het, al probeer hulle met ons in Engels kommunikeer? Dit sou ’n baie lang besoek gewees het. Hulle sou niks verstaan het wat ons sê nie en ons sou baie vinnig niks meer vir mekaar te sê gehad het nie.

Ek is vas oortuig dat hulle ons as ongeskik en onvriendelik sou ervaar het (hulle weet ons is Engels magtig), selfs sover sou gegaan het om te dink alle Afrikaners is soos ons, en sekerlik geweldig onwelkom sou gevoel het in ons huis. Ek is vas oortuig dat hulle hul besoek sou kortgeknip het sodat hulle iewers anders heen sou kon gaan, miskien ’n Engelssprekende gastehuis iewers naby waar hulle beter behandeling sou kon ontvang.

Ek vermoed dat die vriendskap heel moontlik daarmee heen sou wees, dat hulle ons nooit weer sou besoek nie, en dat hulle vir almal sou vertel het watter aaklige ervaring hulle by ons gehad het en hoe minagtend Afrikaners teenoor ander mense is.

Die scenario hierbo is die rede waarom ek een van die 226 top-akademici en senior personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) is wat hul steun vir die rektor se taalplan om Engels die voertaal by die universiteit te maak uitgespreek het. Ek wil dit onomwonde stel, ek is ’n Afrikaner en ek is Afrikaans, en ek is ongelooflik lief vir my taal, kultuur en mense. Maar ek is ook ’n mens wat ander mense respekteer en wat vredeliewend en toegewend teenoor ander is, en effektief met ander wil kommunikeer. Dit is hoe ek grootgeword het.

In die laaste jare het ek in ’n groot aantal vergaderings of byeenkomste by die US gesit waar daar ook een of twee nie-Afrikaanssprekende persone gesit het. Soos die universiteit groter en sterker geraak het en meer en meer getransformeer en internasionaal geraak het, het dit al hoe meer gereeld gebeur. Ek was oor hierdie tyd geskok en ontsteld om te sien hoe Afrikaanse mense hierdie mense wat hulle nie kan verstaan nie net doodeenvoudig ignoreer en voortgaan om Afrikaans in die vergaderings te praat. Hulle maak asof hulle nie bestaan nie. Die uitgangspunt is eenvoudig “as hulle nie kan verstaan nie is dit hulle probleem, hierdie is ’n Afrikaanse universiteit”.

Ek dink nie dit is oulik nie, ek dink nie dit is “stry vir jou taal nie”, ek dink dit is net doodgewoon ongeskik en minagtend teenoor ander mense. Dit is iets wat my dwars in die krop steek. Dieselfde mense wat hulle mede-landsburgers so hanteer, sal ure Engels praat as hulle oorsee op ’n kongres of op besoek is, of as ’n oorsese afvaardiging die universiteit kom besoek.

Hulle respekteer dus die mense van ander lande wat nie Afrikaans magtig is nie, maar hulle respekteer nie hul eie broers en susters en mede-Suid-Afrikaners in dieselfde posisie nie. Dit maak nie vir my sin nie. Ek verstout my om te sê dat alle Afrikaanse mense soos hierbo met ons Duitse vriende optree as hulle met mense van ander lande kontak het.

Nou hoekom tree hulle dan nie so op as hulle met mense van hul eie land kontak het wat nie Afrikaans verstaan nie? Dit gaan my verstand te bowe.

Nou hoekom tree hulle dan nie so op as hulle met mense van hul eie land kontak het wat nie Afrikaans verstaan nie? Dit gaan my verstand te bowe.

My besluit om die rektor en sy bestuurspan se standpunt te ondersteun was nie ’n maklike besluit nie. Ek het dae lank getob oor die saak en uiteindelik my naam onderaan die dokument geteken. Want dit is die regte ding om te doen. Die alternatief is nie aanvaarbaar nie.

Aan die een kant is ek baie lief vir my taal en kultuur en wil ek nie iets doen wat dit skade berokken nie, maar aan die ander kant weet ek dit mag nooit gebruik word ter uitsluiting van ander nie. Universiteite is nasionale bates en dit moet vir almal toeganklik en verwelkomend wees vir al ons land se mense. Ek het in Durban grootgeword, in ’n plek waar buite ons huis, skool en kerk, almal net Engels gepraat het.

En ek en my familie het met almal rondom ons, in die winkel, op straat, op die strand, en in die werkplek, net Engels gepraat. Dit het nie gemaak dat ons minderwaardige Afrikaners was nie, of opgehou het Afrikaans praat nie, dit het gemaak dat ek ander mense kon verstaan en effektief in die samelewing kon funksioneer. My oor-oupagrootjie was die president van die Boererepubliek Land Goosen in die 1800’s.

Ek kyk na sy briewe gerig aan Rhodes en die Britse regering en dit is in Engels geskryf. Dit was nie in Boere-Nederlands geskryf nie, hy het dit in Engels geskryf, want hy was Engels magtig en dit was vir hom belangriker om sy boodskap effektief oor te dra en effektief met die Britte te kommunikeer as om hom te bekommer oor die feit dat die brief nie in sy moedertaal geskryf is nie.

Ek beskou die standpunt van die rektor dus as bevrydend vir Afrikaans. Vir die eerste keer sal ons taal (Afrikaans) by Stellenbosch vry wees om sonder dwang te ontwikkel en gebruik te word deur diegene wat dit praat, en aan ander bekend gestel te word, sonder die swaar bagasie van die verlede en sonder om ’n strooipop te wees wat voos geslaan en mildelik gebruik word om politieke gevegte mee te wen.

Ek is trots Afrikaans en ’n trotse Matie. Dit sal nooit verander nie. Die US is ’n wonderlike instelling wat besig is om internasionaal bekendheid te verwerf vir ons uitnemendheid en ek werk hard daaraan om dit nog meer uitnemend te maak. Daarmee saam gaan transformasie, nie net in terme van ras en geslag nie, maar ook in terme van internasionalisering.

Dit beteken meer mense wat nie Afrikaans verstaan nie en meer mense wat onwelkom sal voel as ons dit as primêre taal van kommunikasie gebruik. Ek ondersteun die Woordfees, koop Afrikaanse boeke, luister Afrikaanse musiek en gaan kyk Afrikaanse flieks. Ek doen in my vrye tyd navorsing oor ons Afrikaanse mense se geskiedenis en die van my eie familie.

Maar my mediese navorsing by die US is in Engels en my kommunikasie met my medewerkers in Amerika, Brittanje, Duitsland, Nederland, Tunisië, Frankryk en baie ander lande is in Engels. So ook my kommunikasie met my studente wat nie Afrikaans magtig is nie.

My vergaderings met hulle is in Engels, selfs al is daar Afrikaanse studente ook, want ek moet verseker dat ons as groep mekaar kan verstaan en saam kan werk aan ’n beter toekoms.

Dink aan die scenario met my Duitse vriende hierbo en trek dit deur na US. Wil ons ’n huis wees waarin mense van alle agtergronde, tale en kulture mekaar kan verstaan, kan welkom voel, saam kan lag en gesels en stories uitruil, en as mense groei deur ons interaksie, mekaar verstaan en opbou en respek vir mekaar se kulture ontwikkel? Of wil ons ’n plek wees waar ons (al is 99% van ons wel in staat om Engels goed te praat en te verstaan) uitsluitend optree en ander minag deur te kommunikeer in ’n taal wat hulle nie verstaan nie, en daardeur ons verhoudinge afbreek in plaas van opbou? Is dit die beeld wat ons as Afrikaanse mense wil uitstraal? Ek dink nie so nie.

Dit is definitief nie die beeld wat ek wil uitstraal nie.

  • Prof. Nico C Gey van Pittius is die visedekaan: navorsing van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe en 'n professor in molekulêre biologie

Meer oor:  Afrikaans  |  Maties  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.