Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Ou tante Anna gebruik graag ’n klamtante
Jana Luther

‘Wat is jou woord van die week?” vra ’n kollega. Uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal kies ek twee: “jammerlap” en “enerveer”.

As verkleinwoord ken party van ons dalk nog ’n jammerlappie: daardie klam vadoekie wat ’n mens soms aan tafel gebruik om jou hande af te vee. Byvoorbeeld, sê die WAT, “by die eet van vrugte of die afkluif van ’n beentjie”. Ander name vir so ’n jammerlappie is glo ’n “desnoodsie”, of ’n “klamtante”, wat ook na ’n waslap kan verwys: “Anna, gaan was jou; gebruik jou jammerlappie.”

By Mosselbaai en in die Vrystaat is ’n jammerlap ’n sukkelaar, meestal iemand wat vuil en onnet is – ’n lunsriem. Maar “jammerlap” het nog twee betekenisse; dis hulle waaroor ek dit het:

Oorspronklik was ’n jammerlap daardie dun band van lanfer, ’n deursigtige, kreukelrige swart gaasstof, wat iemand om sy hoed of arm, of ’n vrou aan haar rok gedra het as teken van rou. Wanneer ek soggens die jongste statistieke lees, krul my hart soos lanfer inmekaar. Dan wil ek ’n jammermantel om my skouers hang, ’n jammerkombers oor my kop trek.

Ek is nie alleen nie. Die laaste ding wat ’n mens nodig het as jy só voel, is nóg jammerlappe. Maar ’n jammerlap is laastens ook nog: “iemand wat altyd iets het om oor te kla”.

Ja, ons leef in ’n enerverende tyd.

In die sosiale media is hulle maklik uit te ken, dié jammerlappe. Onderaan berigte is hulle die spreekwoordelike stuurlui aan wal wat sonder enige positiewe, konstruktiewe, innoverende eie woord of bydrae die bromwerk doen, die taak van kla en berispe op hulle neem en oor enigiets, alles, van anglisismes tot doeninge van ministers, huilkore begin.

In die WAT staan, uit Nederlands, nog die woord “drein”, wat ons nie meer ken nie: “om huilerig op iets aan te dring; om lastig te wees deur huilerig te kla”. Sinonieme vir dié “drein” is “mor”, “neul”, “seur”, “sanik”; “om te kerm soos ’n hond (kat) oor ’n derm”, “om ’n vloermoer te gooi”.

So afmattend soos die nimmereindigende gekap, gesaag en getimmer van die buurman in sy grendelwoonstel bokant myne, so enerverend is die gepruttel van ’n jammerlap oor ’n glas wyn.

“Enerveer,” sê die WAT, is “afmattend op die senuwees werk; iemand sy/haar veerkrag ontneem; ontsenu, uitput.” Ja, ons leef in ’n enerverende tyd. En kla is, net soos spog, ’n streling vir die ego, het ene Jannie Kruger gesê.

In ’n wêreld waar miljoene reeds rede het tot lanfer dra, is jammerlappe helaas ook -balies en -balke (grensbalies, tjankbalies, huilebalke) by wie die WAT se tweede betekenis van “geduld” ontbreek: “Die vermoë om te wag sonder om te kla en om sonder rusteloosheid, oplopendheid of prikkelbaarheid uitstel of vertraging van ’n begeerte te verdra.”

Vir dié jammerlappe, en dié wat deur die genade nog uitgespaar is, word 2020 – die eerste jaar van “die ernstigste humanitêre en ekonomiese krisis van ons leeftyd” – ook ’n oefening in geduld.

  • Jana Luther werk mee aan die WAT.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.