Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Redakteursbrief: 5 jaar, 53 000 intekenare

In mensejare beteken vyf jaar oud jy is nog ’n kleuter, maar vir ’n digitale webwerf is ’n vyfde verjaardag ’n heel skaflike mylpaal, nader aan ’n energieke jong volwassene.

Op 22 Augustus is dit presies vyf jaar sedert Netwerk24 tot stand gekom het. Ons vier dit vandeesmaand met ’n “sirkulasie” van nagenoeg 53 000 intekenare – ’n syfer waarby min gedrukte publikasies deesdae uitkom. Dit maak ons ook die grootste digitale intekennuusdiens in Afrika.

netwerk24

Die afgelope maand was daar meer as 1,8 miljoen unieke besoeke aan Netwerk24 vanaf verskillende toestelle – rekenaars, slimfone, tablette of van mense wat op die app lees. Die app veral is ’n verslawende en gerieflike ervaring. Netwerk24 se gebruikers bring gemiddeld 22 minute per dag op hul app deur, meer as op enige ander app in die Media24-stal.

Ons groei in intekenare wys dat Suid-Afrikaners, nes elders ter wêreld, al hoe meer aanlyn lees. Tog sukkel mense nog soms om te verstaan presies wie en wat Netwerk24 is.

Een manier om dit te verduidelik, is dalk om dit met betaaltelevisie te vergelyk. Netwerk24, die nuusdiens, is soos M-Net, Suid-Afrika se heel eerste betaaltelevisiekanaal. M-Net het later in DStv vertak, met al die fliek-, sport-, internasionale en ander kanale wat dit bied. Net so het Netwerk24 in verskeie “kanale” vertak en bied ons nou ook die inhoud van gunsteling- Afrikaanse tydskrifte, luisterboeke en selfs eersdaags die land se eerste Afrikaanse aanlyn sepie wat ons op weeksdae gaan uitsaai.

As nuusdiens het ons ’n eie landwye redaksie wat heeldag lank nuus-, sport-, sake- en kunsverslaggewing doen, asook menings en ontledings insamel en met video’s, foto’s en grafika sin maak van gebeure. Netwerk24 verskaf ook hierdie inhoud aan die dagblaaie Die Burger, Beeld en Volksblad.

Dit is ’n vrugbare vennootskap, want dit beteken dat ons joernalistiek beoefen wat vir al die onderskeie landstreke belangrik is en stories dek wat dalk nie die nodige aandag sou kry as ons net ’n nasionale fokus gehad het nie. Dit beteken ook ons joernaliste is nog daar buite besig met oorspronklike, op-die-toneel-verslaggewing, pleks daarvan om soos sommige digitale nuusdienste merendeels lessenaarjoernalistiek te doen.

Netwerk24 is in die internasionale koor met hierdie werkswyse, want ook die groot koerante van die wêreld, soos The New York Times, werk digitaal eerste, met die kopie wat stroomaf vloei na die gedrukte koerant. Dit is eenvoudig omdat ons in ’n era leef waar jy voorsiening moet maak vir mense wat hul nuus dadelik en deurlopend wil kry, asook vir diegene wat hou van ’n koerantervaring, waar jy ’n keur van die nuus kry en daar elke oggend ’n begin en ’n einde aan jou leeservaring is.

Net soos The New York Times, The Washington Post en vele ander gesaghebbende koerante het Netwerk24 ook ’n betaalmuur. Hele digitale konferensies word deesdae oor betaalmure gehou, want almal het agtergekom dit is nie volhoubaar om jou kopie verniet weg te gee nie, net so min as wat ’n restaurant sy kos gratis kan weggee. Net advertensiegeld alleen kan nie vir joernaliste se salarisse en al die ander uitgawes van daaglikse gehaltejoernalistiek betaal nie – dit kon nie in die gedrukte era nie en kan veral nie nou in die digitale era waar ons teen Facebook en Google om advertensie-inkomste meeding (en dit boonop met ’n betreklik klein Afrikaanse mark) nie.

As ’n Afrikaanse bestemming (dink DStv) is Netwerk24 die digitale bymekaarkomplek van die Sondagkoerant Rapport en voorste Afrikaanse tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie, Kuier, Tuis, Landbouweekblad, Weg!, Weg! Ry & Sleep, Baba & Kleuter en TVPlus. Jy kan hul koerant- of tydskrifinhoud in webformaat lees en het ook toegang tot ekstra inhoud wat die tydskrifte se redaksies net digitaal skep. Anders kan jy as deel van jou Netwerk24-intekening die publikasies in e-formaat lees, nes dit op papier lyk. Dieselfde geld die meer as 30 gemeenskapskoerante.

henriëtte laubser
Henriëtte Loubser

Die digitale moontlikhede gee ’n nuwe lewensaar en sakemodel vir publikasies soos Finweek, wie se Afrikaanse weergawe deesdae net digitaal verskyn en Die Burger Oos-Kaap, wat van Maandag tot Donderdag in e-formaat verskyn, met ’n bielie-papierweergawe op die Vrydag.

In die digitale kissie is daar baie gereedskap om mee te speel, van beeld en klank tot interaktiewe ervarings soos die verkiesingskaarte waarmee ons lesers onlangs gedurende die politieke verkiesing bederf het. Met multimedia-miniwebtuistes kon ons ook al groot gebeure soos die 50ste herdenking van die eerste hartoorplanting en die maanlanding verbeeldingryk vier.

Op ’n digitale platform kan jy radio, jy kan TV, jy kan kyk, luister en lees en daar en dan jou stuiwer in die armbeurs gooi met ’n stukkie kommentaar onderaan ’n berig. In die toekoms sal ons ook virtuele werklikheid en talle ander innovasies wat tans nog nie eens bestaan nie vir ’n verrykte gebruikerservaring kan inspan. Om nie eens te praat van die moontlikhede vir lesersdeelname om inhoud te help skep nie.

Ja, daar is nog frustrasies. Dit het eeue geneem om die drukproses vir koerante te kry waar dit nou is. Net so is die “digitale drukpers” nog soms ’n probleem. Daar is ingenieurs en ingewikkelde kodering nodig om soms net ’n klein verstelling aan ’n webwerf te maak.

As ’n redaksie val ons soms nog oor ons eie voete met die digitale werkswyse, maar meermale staan ek verstom oor wat my kollegas vermag en die toewyding wat dit verg om hierdie honger digitale dier dag en nag, sewe dae per week, 52 weke per jaar te voed.

Vir die meeste van ons is dit hoogs opwindend en ’n groot voorreg om aan die voorpunt van vernuwing te wees. Hier aan die begin van ons volgende vyf jaar sien ons uit na die verdere reis om ’n digitale toekoms vir gehaltejoernalistiek in Afrikaans te verseker – en om baanbrekerswerk te doen met nuwe inhoudsvorme wat in ons lesers, kykers en luisteraars se behoeftes voorsien.

Loubser is redakteur van Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.