Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Réney Warrington: ‘Houtwerk, afleiding en herinnering’
Réney Warrington

Boeke skryf is vir die voëls, besluit ek hierdie week.

’n Mens skaaf drie jaar aan een dokument. Verkope, goeie verkope daarby, beloon jou vir twee weke van dié drie jaar. Jy moet jouself skaamteloos bemark. Jy ontbloot jou siel aan die gatkant van die internet. Dan resenseer ? bitchy resensent ? toneel wat nie eens in jou boek is nie. Magtag.

Kuns maak is vir die voëls, besluit ek ook.

Jou vriende dink jy is cool. Jou naam staan op ’n muur, en daar is ’n prys onder jou foto’s. Min mense betaal egter die prys.

Ledigheid is die duiwel se oorkussing, hoor ek. As ek skryf en kuns opgee, waarmee hou ek myself dan uit die moeilikheid?

Hmmm. Houtwerk.

Ek gaan vir myself ’n lessenaar maak, besluit ek. Ek het hoeka ’n hoop 1950’s teak by ’n pel geërf. Wat ek met die lessenaar gaan maak, noudat ek skryf opgee, weet g’n mens nie, maar ten minste is dit ’n voorwerp wat ek kan sien en voel en afshow.

Gebrekkige gereedskap word geleen. Al die olie en skuurpapier deur die woonstel gestrooi word gekonsolideer. Google word geraadpleeg. Plannetjies en sketse word gemaak.

Met my grootste 10 m-leer opgevou op die agterste sitplek ry ek na my ma toe. Ons stoor van die planke in haar garage se dak. Ek dra die leer onoopgeslaan na binne. As ek dit buite opslaan en indra deur die huis, gaan ek mure krap en lampies omslaan.

Die werkbare spasie binne die garage is beknop. In ’n kwessie van ’n halfuur, met omtrent twee meter se spasie tot my beskikking, vou ek ’n driehoek, ’n reghoek, ’n vierhoek, ’n brug en die Eiffell-toring. Nie een vorm sal my veilig tot in die dak kry nie. Boonop het ek myself teen die kop getref met die een been.

Net toe ek wil moed opgee, struikel ek oor ’n lang stuk hout op die vloer. Ja, dit is die einste hout wat ek soek. Die 4 m-panele het nie in die dak gepas nie. Dus was die opslaan van die leer, die formasies en die knop teen die kop nie nodig nie. Ek los als net daar en gaan maak eerder tee.

Sien Ma kans om my hare te sny, vra ek met ? koppie rooibos in die hand.

My ma het in die vroeë 1960’s haarself leer hare sny. My ouma was haar proefkonyn. (My ma het ook toe vriende gemaak met twee gays van Pretoria. Sy sê nou nog hoe mooi hul badkamergordyne was, en dat ’n mens so gebore word. Dit het definitief my uit-die-kas-uit-klim makliker gemaak.)

My oupa was ’n mechanic en my ouma ’n huisvrou. Daar was dus net genoeg geld vir een dogter om universiteit toe te gaan. My ma, vrygewig soos altyd, het teruggestaan sodat haar babasussie fisioterapie kon studeer. Elza was in elk geval die akademiese uitblinker. In haar matriekjaar dog die matriekseuns dit is cool om ’n blokkade op ’n afdraende met ’n skerp draai te pak. Elza sien dit te laat en breek haar been morsaf. In haar eerstejaar kom hulle agter die breek was te sleg en dat sy nie die fisieke krag het wat nodig is vir fisioterapie nie. Haar loopbaan lê aan skerwe.

Ek onthou sy perfekte, tog krom-en-skeef lyf. Die meningitis, die spasmas, die verlamming en die epilepsie het sy lyf gebreek en dan laat stol.

Ja, antwoord my ma, ek het krag.

Ek kry die skêr, kam en handdoek reg en skuif die stoel waar daar genoeg lig is. Ek gaan maak my hare nat oor die bad in die gastebadkamer.

Ek huil krokodiltrane.

Ek het laas my boetie in dié bad gebad.

Ek onthou sy sesvoet-, krom-en-skeef lyf opgekrul in die klein pienk badjie. Hy was mal oor water, want daarin was hy vir ? paar minute verlos van die lompe lyf.

Ek onthou my arms om sy bolyf gevou. Ek moes hom styf vashou, styf vasdruk teen my en dra tot by die bad.

Ek onthou my ma wat kloek oor die watertemperatuur, die spons vir onder sy kop, en die kans dat ons hom kan laat val.

Ek onthou sy perfekte, tog krom-en-skeef lyf. Die meningitis, die spasmas, die verlamming en die epilepsie het sy lyf gebreek en dan laat stol. My ma het daarteen gewoed. Met liefde en oneindige geduld, en roompies, en olie, en boererate het sy daardie lyf uitmekaar gevleg, gewas, ingevryf en beskerm so goed sy kon.

Ek onthou die paar minute van net lê in die water wat ons hom ná die skrop en afspoel gegun het.

Ek onthou die linkerhand wat uitreik na die stortkop en Hannelie wat dit vir hom gee.

Ek onthou ek en my ma wat vorentoe spring om die water teen die plafon en oor die badkamervloer te verhoed.

Ek onthou ek en my ma wat doodstop toe hy die stortkop vat en baie versigtig sy eie krom-en-skeef lyf afspoel.

Ek onthou trane.

Hy is twee weke later dood.

Dit was tien maande gelede.

Dit is waaraan ek vashou. Ek het hom vasgehou. Ek het hom gedra, gebad, afgedroog en aangetrek. Ek was daar vir hom. Ek het hom my tyd gegee.

Nou wonder ek oor ou tannies wat alleen leef, lê en doodgaan in woonstelle. Ek wonder oor ou ooms wat twee keer in die woonstel se muur vasry. Ek wonder oor gestremde kinders wat in agterkamers weggesteek word. Ek wonder hoekom die pa’s loop en die ma’s by dié kinders bly.

Hoeveel lesse leer ons nie? Hoeveel kennis gooi ons weg?

Terug houtwerk toe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.