Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Selfs ’n sluwe linguis vang soms sy baas
Prof. Gerhard van Huyssteen

Sit ’n taalkundige in ’n kroeg,* gemoeid slegs met sigselwers en ’n whiskey.

’n Breedbeborsde, betatoeëerde bokbaard kom sit op die kruk neffensaan.

“So, what’s your name?” vra hy nadat hy ’n tapbier bestel het. Sy aksent klink Amerikaans.

Die linguis sug diep, binnensmonds. Om sy erg Afrikaanse naam en van uit te spel aan dese en gene wat nie régtig belang daarby het nie, is erg vermoeiend. Hy kies dus vir sy “restaurantnaam” – die naam wat hy gebruik as hy telefonies besprekings by ’n restaurant maak.

“Alex Alexander.” Want of jy Afrikaans, Engels of Xhosa is, jy sukkel nie met dié naam en van nie.

“OK, I’m Brett Vandeginste.”

“Nice to meet you, Brett.”

Stilte.

“Sooo, what do you do for a living?” probeer Baardman die gesprek op gang kry.

Dié keer kom die taalkundige se sug effens hoorbaar uit.

Dis die een vraag wat al wat ’n linguis is vrees, want daar is gewoonlik een van vier opvolgvrae:

Ek ken maar weinig taalkundiges wat taalpuriste en skoolvosse is; die meeste van ons verheug ons juis in taalverandering, die variëteite van ’n taal, tale en sprekers in kontak met mekaar.

1. “O gits, dan moet ek seker nou op my taalgebruik let?!”

Dié opmerking kom veral in Afrikaanse geselskap voor, en die res van die gesprek kring dan dadelik uit na die Voortbestaan van Ons Taal en die verloedering daarvan deur die jeug. Ek ken maar weinig taalkundiges wat taalpuriste en skoolvosse is; die meeste van ons verheug ons juis in taalverandering, die variëteite van ’n taal, tale en sprekers in kontak met mekaar. Die misterie van taal lê juis in die randverskynsels, die uitsonderings.

2. “Hoeveel tale praat jy?” Daar is ’n verskil tussen ’n ­linguis en ’n poliglot. Eersgenoemde bestudeer een of meerdere tale, die ander praat/lees/skryf/verstaan meerdere tale. Met die uitsondering van ’n paar Afrikataalkollegas bemeester die gemiddelde linguis wat ek ken so tussen een (gewoonlik Amerikaners) en drie of vier tale (gewoonlik die tokkelokke).

Prof. Ernst Kotzé, oud-Taalkommissievoorsitter en ’n vooraanstaande taalkundige, is 12 tale magtig, maar hy is die uitsondering op die reël.

3. “Mmmmm, so hoe dra jou navorsing by tot ’n beter wêreld?” Dié ene is moeilik, want dis dalk ’n vraag waarmee menige geesteswetenskaplike (of enige akademikus) op die een of ander tyd moet stoei. Ek antwoord gewoonlik dat, sonder taalkundiges, ons dit nie gaan regkry om rekenaars te ontwikkel wat slimmer as mense is nie. Daarom is ons noodsaaklik. Dit lei dan die gesprek flink in ander rigtings, veral as die gespreksgenoot met ’n lyf vol tatoes rondloop.

4. “Jy’s ’n ling . . . wat??” Dié vraag is nie so erg nie, want dan kan ’n mens darem verduidelik dat die woord uit die Latynse “lingua” kom wat letterlik “tong” en later “taal” beteken het. En dan is die skakels vlot na “mother tongue” en ander woord wat met lingua verband hou. Of die gesprek hou dadelik op.

Die taalkundige se ma het hom goed opgevoed en hy antwoord Baardbek dus bedeesd: “I work in the language ­industry.”

“Oh, interesting, and in what branch of the language industry? I’m a linguist myself!”

Moet nooit ’n man op sy baardjie takseer nie . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.