Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Spitsverkeer eis stadig maar seker sy tol
Ivor Price

Een van die dinge wat my elke nou en dan onderkry, is die feit dat dit my tot ’n uur en ’n half kan neem om by die werk uit te kom.

Jare lank, in die dae van vroegoggendradio, het dit my nooit langer as vier minute geneem om my brood en botter te gaan verdien nie. Sjoe, ek was baie bederf.

Teen die tyd dat die meeste mense soggens die snelweg getref het, het ek al my tweede koppie rooibostee agter die blad gehad en rustig deur die dag se koerante geblaai.

Nou is ek weer deel van die spitsverkeerbende en elke keer wanneer my voet die petrolpedaal tref, kan ek voel hoe ek nog ’n grys haar bykry.

Dis nie die stres wat ’n mens ouer maak nie.

Jy het geen beheer oor die daaglikse dosis botsings, weer­-patrone of selfs spitstydpadblok-kades nie.

Dit is die verdomde daaglikse gesukkel om by die werk uit te kom.

Ek het vergeet hoe inspannend dit kan wees om soggens jou huis te verlaat om elke dag vir ’n paar ure iewers in te klok om darem teen die einde van die maand ’n paar rand te kan verdien – en dan verwag sommige kollegas nog van jou om met ’n huppel in jou stap by die koffiemasjien te staan en praatjies maak.

Hoe doen hulle dit? Ek sweer van hulle is op Valium.

Die heel ergste is dat daar regtig geen rasionele verband blyk te wees tussen die tyd wat jy die huis verlaat en presies hoe laat jy by die werk gaan aankom nie.

Vergeet dit, jy bluf eenvoudig jouself deur ’n halfuur of wat vroeër weg te trek, want die kanse is goed dat dit jou in elk geval ’n uur en ’n half (of langer!) sal neem om daar op te daag.

Jy het geen beheer oor die daaglikse dosis botsings, weerpatrone of selfs spitstyd-padblokkades nie.

Is dit nou die vloek van ’n middelklasbestaan, wonder ek gisteroggend iewers op die N1-noord, net voor die Rivoniaweg-afrit in Sunninghill, Johannesburg.

Is dit die lot van die salaristrekker?

Is ek tot die dag van my aftrede verdoem tot ’n verkeersmallemeule wat my duidelik elke dag bietjie maller maak?

Toe ek nog in die Kaap gewoon het, was ek deel van die bende wat al om kwart-voor-ses die verkeerstryd tussen die noordelike voorstede en die middestad aangedurf het.

Daar het ’n mens nie veel van ’n keuse nie, want as jy later wegtrek, sal jy gou as ’n gewoonte-laatkommer uitgekryt word.

Dis hoekom ek so ten gunste is van fleksietyd, ’n verkorte werkweek en selfs aangepaste skofte sodat die grootste deel van die werkendes nie op dieselfde tyd hoef in te klok nie.

Kan jy dink watter verskil dit aan die verkeer sal maak?

Baie maatskappye laat ook reeds hul personeel toe om van die huis af te werk, want tensy jy in ’n fabriek werk, kan jy in elk geval alles tuis doen met ’n selfoon en ’n skootrekenaar.

  • Ivor Price twiet by @ivorprice.
Meer oor:  Ivor Price  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.