Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
#taalgeneraal: 10 Anglisismes wat jy onwetend gebruik
Riaan Grobler

In my vorige rubriek het ek verduidelik hoekom die term “brekende nuus” nie ’n anglisisme is nie, maar eerder ’n leenwoord, soos baie ander woorde in Afrikaans wat oor die jare heen uit ander tale ontleen is en algemeen gebruik word.

Wat maak anglisismes dan anders as leenwoorde?

Anglisismes kan metafories met onkruid vergelyk word. Net soos onkruid ander plante verdring, is anglisismes woorde en uitdrukkings uit Engels wat reeds bestaande Afrikaanse woorde en uitdrukkings verdring, vervang en mettertyd uit die volksmond laat verdwyn.

Dit is nie vreemd nie – Engels is ’n wêreldtaal en ook die lingua franca in ’n land soos Suid-Afrika waar sprekers van vele tale ’n manier moet vind om met mekaar te kommunikeer. Wat egter ook gebeur is dat die Engelse “manier van praat” sy inslag in Afrikaans (en ander tale) vind, wat dikwels daartoe lei dat sprekers anglisimes gebruik sonder dat hulle daarvan bewus is.

Hier is 10 voorbeelde van anglisismes wat algemeen in Afrikaans voorkom en gebruik word. Toets jouself!

10. Het jy ’n dokter gesien?

Jy sien met jou oë, maar jy besoek of spreek ’n dokter.

9. Ek is oop vir oortuiging.

Jy is eerder vatbaar vir oortuiging. 

8. Ek het uit sigarette gehardloop.

Gebruik eerder: my sigarette het opgeraak.

7. Sy het haar motor lanklaas laat diens.

Diens is iets wat jy in ’n restaurant kry – gebruik eerder versien of herstel.

6. Jy het darem baie gewig opgetel.

Wanneer jy baie peusel, sit jy eerder baie gewig aan.

5. Dis moeilik om parte vir hierdie motor te kry.

Dis nog moeiliker om onderdele te kry, veral in die algemene spreektaal.

4. Vat jou tyd, die fliek begin eers vyfuur.

Daar is vele ander moontlikhede, soos moenie haastig wees nie.

3. Die saal was gepak vir die skoolkonsert.

In Engels is die saal gepak, in Afrikaans is die saal stampvol.

2. Ek breek nooit enige wette nie/Sy het die rekord gebreek.

Wetsgehoorsame burgers oortree nooit enige wette nie en goeie atlete verbeter graag rekords.

1. Doen my asseblief ’n guns.

As jy instem om iemand met iets by te staan, bewys jy daardie persoon ’n guns.

Hoe het jy gevaar?

Vir meer inligting oor anglismes, besoek wikipedia  en beterafrikaans.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.