Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Wat soek AfriForum in ons skole?

Nadat die Afrikanerregte-organisasie AfriForum onlangs probeer het om haar laerskoolkinders in hul skool toe te spreek het Helena Wasserman se kinders geleer grootmense kan ook boelie.

AfriForum skep bewustheid van “boelies” by Afrikaanse skole. Op die foto is hul gelukbringer in sy oranje-blanje-blou pakkie. Foto: AfriForum

“AfriForum-gesprek: Gr. 4 tot gr. 7.” Verlede week wys ’n ma my op dié item in ons skooldagboek, wat die meeste van ons op die yskas plak sonder om weer daarna te kyk.

Ons staar stip na die inskrywing. Wat sou dit beteken? Nog ’n ma gee haar mening: Dis sekerlik ’n spelfout. Miskien het iemand “Afrikaans” verkeerd gespel. Ja, stem ons saam. Dis seker die een of ander Afrikaanse mondeling.

Maar ek het al my les geleer: Moenie AfriForum die voordeel van die twyfel gee nie.

Nie een van ons het werklik gedink dat AfriForum – die verregse organisasie wat ontken dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was – in ons skole toegelaat sou word nie. ’n Organisasie met duidelike politieke doelwitte. Een wat spog oor sy noue bande met die Amerikaanse president, Donald Trump, en daardeur diplomatiese betrekkinge tussen ons twee lande geskend het.

Só ’n organisasie sal tog nie in ’n staatskool toegelaat word nie? Sekerlik sal AfriForum in elk geval nie kinders toespreek sonder hul ouers se toestemming nie?

Maar ek het al my les geleer: Moenie AfriForum die voordeel van die twyfel gee nie.

Die boeliepolisie

Ek het gou na hul webwerf gaan kyk en daar – tussen al die rassekwota-histerie en vuurwapenopleiding van buurtwaggroepe – sien ek ’n lang reeks berigte oor al die skole wat AfriForum reeds besoek het.

Dis oënskynlik deel van ’n veldtog teen boelies. AfriForum se “boeliepolisie” het selfs ’n gelukbringer: ’n wit ridder.

Te oordeel na al die skole wat AfriForum reeds besoek het, is dit slegs wit en Afrikaanse kinders wat in hierdie land geboelie word.

Ek verwelkom egter enigiemand wat ernstig standpunt inneem teen dreigende gedrag. Afknouery is ’n ernstige saak.

En AfriForum is inderdaad baie kundig op dié gebied.

Vroeër vanjaar toe prof. Elmien du Plessis dit gewaag het om AfriForum op News24 te bevraagteken, het die adjunkhoof van die organisasie, Ernst Roets, gereageer met ’n dreigement oor professors wat gehang kan word.

Ek het ook al voorheen artikels oor AfriForum en Solidariteit geskryf, wat ’n vloedgolf afknouery ontketen het. Aaklige boodskappe op sosiale media en foto’s van my op onder meer rassistiese platforms met swastikas.

Soos baie ander Afrikaners, ontvang ek ook deurlopend apokaliptiese AfriForum-selfoonboodskappe, pogings om ons te boelie om lid van Solidariteit en AfriForum te word.

Helena WassermanFoto: Verskaf

Interessant genoeg praat AfriForum in die skole ook met ouers oor kinders se grondwetlike regte. Dis duidelik dat hul skoolbesoeke nie net bly by boelies op die speelterrein nie.

AfriForum mag nie genormaliseer word nie. Dit is ’n randorganisasie wat op vrees teer.

Maar selfs indien dit daarby gebly het, wil ek AfriForum nie naby my kinders se skool hê nie. AfriForum mag nie genormaliseer word nie. Dit is ’n randorganisasie wat op vrees teer. Ek weier dat my kinders AfriForum leer ken deur ’n mollige gelukbringer en vriendelike ooms en tannies wat met hul eie giftige weergawe van godsdiens – pleks van ’n ware Christelike boodskap van liefde en aanvaarding vir almal – vrees en rassisme bevorder.

AfriForum se 200 000 lede sal aanvoer dat hulle ons skole mag betree omdat hulle ’n burgerregte-organisasie is. Maar AfriForum is ’n politieke beweging, wat in die afgelope maande ál nader aan ekstremiste in Amerika, Europa en Australië beweeg het. Hulle bedien slegs ’n fraksie van Suid-Afrikaners: Diegene wat aanhou soek na probleme, nie oplossings nie.

Ons skool het vinnig gereageer op ouers se klagtes en het die “AfriForum-gesprek” geskrap.

Maar daar sit die dagboekinskrywing nog steeds op my yskas, tussen aantekeninge oor swemgalas en musiekkonserte – heeltemal uit plek, soos ’n Middeleeuse wit ridder wat windmeule probeer bestorm in ’n land wat hom ver vooruit is.

Naskrif: AfriForum hét toe my kinders oor boelies geleer. Ná die publikasie van hierdie rubriek op News24 het ’n AfriForum-aanhanger foto’s van my kinders op sosiale media versprei en my jongste het daarop afgekom. Belangrike les: Grootmense kan ook boelie.

*Die oorspronklike rubriek het op News24 verskyn.

*Wasserman is die redakteur van Business Insider South Africa.

Meer oor:  Donald Trump  |  Ernst Roets  |  Helena Wasserman  |  Afriforum  |  Boelie  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.