Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
'Wit ouer, jy doen jou kind ’n onreg aan'
Marius Oosthuizen

Ons gesin woon in Pretoria, daardie pragtige stad met die pers blommetjies en warm somers. Dit is ook ’n warm stad met betrekking tot die mense wat daar woon – lekker plesierige mense wat graag groet op straat.

Maar daar is ’n koue kant aan ons politieke hoofstad.

Die rasseborrel

Baie kinders van Pretoria word groot in ’n rasseborrel. Sedert ons oudste laerskool toe is, het dit vir ons meer en meer duidelik geword presies hoe afgesonderd die rassegroepe van Pretoria werklik is. Ons wou ons kind natuurlik in ’n “goeie” skool plaas, en ’n “bekostigbare” een daarby. Die rassesamestelling van die skool het geensins in ons verwysingsraamwerk na vore gekom as kriteria nie. Maar nou word dit ’n bekommernis. Die skool is te wit! Hier volg die rede:

Ons maak ons kinders groot in ’n klein land aan die voet van Afrika. Hierdie is ’n kontinent, histories, van bruin en ook swart mense. Natuurlik voel Suid-Afrikaanse wit mense ná dekades van setlaar speel ook tuis. Ons verwys na die rooi grond onder ons wit voete as ons land en ons kyk met heimwee na die Hoëveld se doringbome tussen die ligbruin gras. Dis darem lekker hier in ons songebakte Afrikaland.

Daar is net een klein probleem met hierdie prentjie – dit is ’n eensydige illusie. ’n Historiese droom wat ontaard het in ’n apartheidsnagmerrie, en nou sukkel ons ou groepie so ’n bietjie om daaruit te ontwaak.

My kind se skool is te wit, want die werklikheid is, hy is lid van ’n minderheidsgroep in ’n grotendeels “swart” land. Ja, ons het aanbeweeg van die apartheidskwessie, maar het ons daadwerklik aanbeweeg van die rassekwessie, of kruip ons skelmpies agter ons palissade van wit voorregte weg?

Die voorspoedborrel

Die tweede borrel waarin ons skyn vertoef is dié van voorspoed en klasseverdeeldheid. Nee, ek is geensins ’n kommunis nie en aanvaar elke samelewing het sy uitblinkers. Maar daar is ’n groot verskil tussen vooruitgang en materiële blinkers waarmee ’n mens jouself mag dom hou oor die ellende van ander. Nie alleen is my kind se skool te wit nie, daar is beslis iets nie pluis nie as die maandelikse snoepiegeld draai by dieselfde bedrag waarmee ons huishulp haar kinders moet voed.

Die probleem is nie dat ons te veel genietinge het nie. Die probleem is dat ons onkunde van hoe min ander het waarskynlik die grootste bedreiging vir ons voortbestaan inhou.

As ouers het ons ’n verantwoordelikheid om die borrel vir ons kinders te bars.

Die borrel bars

Wanneer ons nuus kyk en sien hoe studente in opstand kom en met rooi barette mobiliseer, ontstaan baie gevoelens by ons. Natuurlik wil elke ouer sy kinders se toekoms verseker en hoop op ’n vreedsame voortbestaan in die land van hul geboorte. Die onsekerhede van ekonomiese verval, geweldsmisdaad en rassespanning rus swaar op elke ouer se gemoed. So, wat sal ons dan maak? As ouers het ons ’n verantwoordelikheid om die borrel vir ons kinders te bars. As my kind enigsins ’n kans gaan hê om in dié land te leef en te presteer, dan is een van die belangrikste toerustingstukke wat ons as ouers hom kan gee meegevoel met die res van die mense van hierdie land. Ek weet hy gaan op skool hoor wat jy dink van swart mense. Jou kind gaan hom vertel net soos jy my vertel.

As ons ons kinders kan leer om nie neer te kyk op arm mense nie en dalk selfs ’n helpende hand uit te steek, kan ons nie dieselfde doen met swart mense nie?

Wit ouer, as jy jou kind in ’n borrel van rasse-afsondering grootmaak, doen jy jou kind ’n onreg aan.

  • Oosthuizen is ’n fakulteitslid aan die Gordon-instituut vir sakewetenskap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.