
Die Amerikaner Justin Thomas gaan waarskynlik beboet word nadat hy ’n homofobiese kragwoord in die derde ronde van die Toer van Kampioene-toernooi in Hawaii geuiter het. Foto: Getty Images
Justin Thomas, die nr. 3-gholfspeler op die wêreldranglys, het verskoning gevra vir ’n homofobiese aanmerking wat hy gemaak het gedurende die derde ronde van die Toer van Kampioene in Hawaii.
Daar kon duidelik gehoor word hoe Thomas die uitlating uit frustrasie maak nadat hy ’n sethou van sowat 1.5 meter op die vierde putjie gemis het.
Die PGA-reeks het in ’n verklaring gesê die voorval is onaanvaarbaar en Thomas sal na verwagting beboet word.
“Dit is onverskoonbaar. Ek wil eerstens net verskoning vra,” het die 27-jarige Thomas gesê.
“Ek is ’n volwassene en daar is absoluut geen rede om so iets te sê nie. Dit is verskriklik en dit is ’n groot verleentheid vir my.
“Dit is nie wie ek is nie en ook nie iets wat ek doen nie.
“Ongelukkig het dit gebeur en ek moet verantwoordelikheid aanvaar. Ek moet beter doen as dit en sal hieruit leer.”
Thomas het die derde ronde met ’n telling van 68 – vyf houe beter as baansyfer – afgesluit. – bbc.com