Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Live QA
‘Daad wat opklink oor die aarde’: ’n Ware skikking?

Dis ’n ope vraag of die Groote Schuur-byeenkoms van 1990 die beste manier was om die onderhandelinge tussen die NP en die ANC mee te begin, sê Hermann Giliomee in dié uittreksel uit die verkorte en aangevulde weergawe van Die Afrikaners.

Teen Januarie 1990 sou min mense voorspel het dat die NP-bewind oor net meer as vier jaar die mag aan die ANC sou oordra.

Daar is geen gevalle in die geskiedenis waar ’n minderheidsregering taamlik vrywillig ’n ingrypende regime-verandering aanvaar het nie, behalwe as hy militêr verslaan, finansieel bankrot of deur interne verskille verlam is.

Die ANC het in die woorde van Nelson Mandela sterk op “gewone meerderheidsregering” aangedring, waar die sterkste party die beslissende mag het. Geen besondere voorsiening word gemaak om die wense van minderhede te akkommodeer nie. Daar word algemeen aanvaar dat dit ’n stelsel is wat net goed werk in lande sonder groot rasse-, etniese of geloofsverskille.

Afrikaners het sterk getwyfel of ’n veelrassige demokrasie in Suid-Afrika kon slaag. Dit het, in die woorde van Piet Cillié, destydse redakteur van Die Burger, vir die Afrikaners na “selfmoord” gelyk.

De Klerk wou nie die militêre met hul kennis van teen-revolusionêre oorlogvoering as raadgewers gebruik nie. Hy het hulle vervreem deur dele van die gesamentlike bestuurstelsel uit te faseer wat die opstand in die 1980’s doeltreffend onder beheer gebring het.

Daar was die moontlikheid om aan die mag vas te klou. Sowel De Klerk as [Frederik] Van Zyl Slabbert het ná 1990 gesê dat wit beheer nog vir 10 tot 15 jaar voortgesit kon word.

De Klerk het bloedige onderdrukking as ’n moontlikheid verwerp. In Januarie 1990 het hy agter geslote deure aan 800 senior polisie-offisiere gesê: “As ’n Armageddon dan sou plaasvind en die bloed vloei enkeldiep in ons strate en vier miljoen of vyf miljoen mense is dood, dan bly die probleem nog presies dieselfde as wat dit was voordat die skietery begin het.”

De Klerk wou nie die militêre met hul kennis van teen-revolusionêre oorlogvoering as raadgewers gebruik nie. Hy het hulle vervreem deur dele van die gesamentlike bestuurstelsel uit te faseer wat die opstand in die 1980’s doeltreffend onder beheer gebring het. Hy het die staatsveiligheidsraad min gebruik, militêre uitgawes gesny en die diensplig-tydperk met die helfte verminder. Dit was ’n duidelike teken dat die regering hom nie vir ’n geveg voorberei nie.

’n Hoogs simboliese geleentheid

Oudpres. Nelson Mandela aan die woord by ’n nuuskonferensie by die Groote Schuur-beraad in 1990. Oudpres. FW de Klerk staan langs hom. Foto: Argief

Vir De Klerk was dit klaarblyklik belangrik om moreel die regte ding te doen. Moraliteit is ’n belangrike faktor in konflikte wat as asimmetries gedefinieer word, soos Viëtnam se konflik teen die Franse en daarna teen Amerika. Die VSA het verreweg die grootste militêre mag gehad, maar die Viëtnamese was aangevuur deur die geloof dat die VSA se optrede immoreel was. Uiteindelik het die VSA die wil verloor om aan te hou veg. Dit was ook die patroon in talle anti-koloniale stryde.

Op 2 Februarie 1990 het De Klerk die verbod op die ANC en ander radikale organisasies opgehef. ’n Week later is Mandela en verskeie ander ANC-leiers vrygelaat.

Van 2 tot 4 Mei 1990 het De Klerk en sy span agter geslote deure by Groote Schuur in Kaapstad met ’n ANC-span onder leiding van Nelson Mandela vergader. Dit was ’n hoogs simboliese geleentheid: die eerste vergadering van Afrikaner-leiers met die leierskap van die sterkste Afrika-nasionalistiese beweging.

De Klerk se span het net uit Afrikaner-mans bestaan, onder wie agt ministers en ses amptenare. Geen militêre offisier is ingesluit nie, ook nie genl. Magnus Malan, die minister van verdediging, nie.

Dis ’n ope vraag of die Groote Schuur-byeenkoms die beste manier was om die onderhandelinge mee te begin. Koerantfoto’s van die deelnemers het die boodskap oorgedra dat net twee partye regtig in die onderhandelinge saak maak. Die ANC se vernaamste opponent in KwaZulu-Natal en aan die Witwatersrand, Mangosuthu Buthelezi se Inkatha-Vryheidparty, was uitgesluit. Buthelezi het dikwels daarop gewys dat die ANC die gevaarlike aanspraak maak dat net hy die onderdrukte bevolking se aspirasies verteenwoordig.

De Klerk se span het net uit Afrikaner-mans bestaan, onder wie agt ministers en ses amptenare. Geen militêre offisier is ingesluit nie, ook nie genl. Magnus Malan, die minister van verdediging, nie. Die uitsluiting van die weermag was simbolies betekenisvol. De Klerk het duidelik te kenne gegee dat hy nie van plan was om op die weermag te steun nie en ’n politieke skikking wou hê.

NP, ANC ding mee om morele gesagsposisie

Die uiteinde van die onderhandelinge van die jare 90: Oudpres. Nelson Mandela en FW de Klerk, destyds een van twee adjunk-presidente, buite die parlement in 1996 nadat ’n nuwe Grondwet aanvaar is. Foto: Argief

Mandela het ’n deel van sy openingstoespraak in Afrikaans gehou, ’n bietjie stokkerig, maar sonder foute. Hy het aan De Klerk gesê dat hy hom as ’n “eerlike individu” beskou, maar bygevoeg: “Ek is nie so seker dat jy die Nasionale Party en jou mense kan saamneem in die rigting wat jy ingeslaan het nie.”

Die twee partye het dadelik om die morele gesagsposisie meegeding. Nadat Joe Slovo, leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, gepraat het, antwoord Gerrit Viljoen, minister van konstitusionele ontwikkeling: “[Dis] haas ongelooflik die mate waartoe die skuld klaarblyklik alles aan die een kant is en al die onskuld aan die ander.”

Die verdelendste kwessie was die geweld wat oor die land gespoel het. Die Weekly Mail het ’n week tevore geskryf: “Nêrens ter wêreld kom politieke sterftes voor op ’n skaal soos dié tans in Suid-Afrika nie.”

Swart mense is onderwerp aan groot druk om nie skool toe te gaan nie, nie te gaan werk nie, nie huur en munisipale belasting te betaal nie. Terselfdertyd was die regering onder geweldige druk van sy eie ondersteunersbasis, wat geglo het die polisie leun agteroor om botsings te vermy.

Daar was 547 politieke sterftes in die eerste drie maande van 1990. Die United Democratic Front, wat weinig meer as ’n ANC-stutorganisasie was, het die onderhandelinge uitgebeeld as “ ’n manier om die staatsmag te gryp”.

Viljoen het ’n prentjie geskets van die woelinge en geweld in die land: Swart mense is onderwerp aan groot druk om nie skool toe te gaan nie, nie te gaan werk nie, nie huur en munisipale belasting te betaal nie. Terselfdertyd was die regering onder geweldige druk van sy eie ondersteunersbasis, wat geglo het die polisie leun agteroor om botsings te vermy.

Viljoen, geskool in die klassieke, het, asof hy vooruit kon sien, gewaarsku: “ ’n Stelsel wat deur geweld geskep word, is geneig om deur geweld te leef. Dis presies die teenoorgestelde van wat beoog word met die idee van demokrasie waarna ons strewe.”

Mandela en De Klerk meet kragte

Die ANC het op die opheffing van die noodtoestand aangedring. De Klerk het geantwoord dat as die beëindiging van die geweld die primêre oorweging is, die noodtoestand behou moes word. Geweld het erg toegeneem telkens wanneer ordemaatreëls verslap is.

Genl. Magnus Malan, destyds minister van verdediging, was nie deel van die regering se afvaardiging by die Groote Schuur-beraad nie. Foto: Argief

Mandela en De Klerk het ook direk kragte gemeet. Dit was ’n voorspel tot die bittere botsings tussen die twee oor die volgende vier jaar. Mandela se standpunt was dat die regering volle verantwoordelikheid vir die geweld moes aanvaar omdat swart mense geen politieke regte gehad het nie. “Asseblief”, het hy gevra, “skep die omstandighede waarin ons met waardigheid die gewapende stryd kan staak.”

De Klerk het waarskynlik die ANC-span se wenkbroue laat lig toe hy gesê het dat die NP in die verlede steeds swart mense se aspirasies probeer akkommodeer het. Hy het bygevoeg dat hy daarna streef om alle Suid-Afrikaners op ’n gelyke en billike grondslag van geregtigheid te plaas. Geregtigheid, het De Klerk verduidelik, is ’n sterker woord as regverdigheid, “dit beteken werklik regverdig, ook volgens Bybelse norme”.

Mandela het waardig geantwoord: “Toe ek 27 jaar gelede tronk toe gestuur is, het ek nie gehaat nie. Ek het ná byna 27 jaar uitgekom en ek haat steeds nie. Ons vreedsame betogings . . . is deur die polisie verdruk in [optrede] waarin lewens verloor is. Dit was die situasie toe ek tronk toe is en dit is die situasie vandag.”

* Die Afrikaners word deur Tafelberg uitgegee en kos R290. ’n Televisiereeks daaroor het op Sondag, 8 April op KykNet begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.