Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Toets
KYK: Kalahari-riviere vloei!

Groot opgewondenheid heers in die Kalahari nadat die Kuruman- en Moshawengrivier Woensdag hier ná goeie reën en ’n wolkbreuk op 2 Januarie by Tsineng, sowat 10 km vanaf Mothibistad, begin vloei het.

Die riviere, wat slegs ná uitstekende reënval begin vloei, sal na verwagting Donderdagmiddag by Aansluit in die Kalahari bymekaarkom en van daar sal die Kurumanrivier sy pad na Van Zylsrus, sowat 60 km verder, vind.

Andre de Klerk het Donderdag 07:00 al in die Kurumanrivier geswem toe die rivier uiteindelik verby sy plaas begin vloei het. Foto: Elzabe de Klerk

Dit is ’n groot gebeurtenis wat met groot opgewondenheid deur die inwoners van die Kalahari verwelkom word wanneer die Kurumanrivier begin vloei en sy pad deur die droë landskap tot by Van Zylsrus uitkerf.

Veral ná die erge droogte wat vir die afgelope paar jaar in die streek heers, is veeboere hier uit hul nate van blydskap.

Die Kurumanrivier het op 10 Januarie 2017 laas tot by Van Zylsrus gevloei.

Lieb Loots, ’n plaaseienaar, sê sy plaas, wat naby Severn geleë is, het sedert September al meer as 400 mm reën gekry.

Die Kalahari is grasgroen en inwoners van hier deel foto’s van die pragtige landskap, wat ’n paar maande gelede nog dor gelê het, wyd op sosiale media.

Daar word ook asem opgehou dat die Moloporivier op die Botswana-grens dalk vanjaar kan vloei, maar daar moet nog baie reën in die omgewing van Zeerust en Mahikeng val voordat dit sal gebeur, sê Loots.

Marlie Loots het die foto op haar pa, Lieb, se plaas naby Severn geneem van 'n nog 'n donderstorm wat dreig. Foto: Marlie Loots

“Daar is baie soutpanne wat ook moet vol loop voordat die water die Molopo hier sal bereik.”

Die Kurumanrivier ontspring by die Oog van Kuruman in die Kuruman-heuwels en vloei dan van daar noordwes verby Seodin en Aansluit.

Hier sluit die Moshawengrivier by die Kurumanrivier aan en vloei die rivier, indien dit genoeg gereën het, tot by Van Zylsrus en verder tot by Askham.

Marlie Loots het die foto van 'n grasgroen Kalahari-plaas naby Black Rock geneem. Sowat 210 mm reën het toe reeds by die plaas uitgesak.Foto: Marlie Loots

Die Kurumanrivier sluit dan 10 km noordwes van Askham by die Moloporivier aan van waar die Molopo sy pad deur die Kalahari na die Oranjerivier probeer vind.

Maar dit het dekades laas gebeur dat die Kurumanrivier dit wel tot by Askham gemaak het.

Die water sak vinnig in die sand van die droë rivierbedding weg en met die grondwatervlakke wat in die omgewing geweldig gedaal het, is daar ’n skrale kans dat so ’n verskynsel gou te sien sal wees.

Net ’n gedeelte van die Moloporivier het op 5 Januarie 2017 sowat 60 km buite Upington ná goeie reën gevloei.

Die water het vinnig weggeloop en nooit die Oranjerivier bereik nie.

Die laaste keer wat die Molopo sterk genoeg gevloei het om die Oranjerivier te bereik, was in 1898 en daar is slegs bewyse van drie geleenthede in 1894, 1896 en 1920 dat die Kurumanrivier die Molopo bereik het.

Meer oor:  Kuruman  |  Reën  |  Droogte  |  Water  |  Riviere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.