Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Toets
Superrykes gee miljoene uit op huise in SA

Danksy groot belangstelling onder plaaslike sowel as oorsese superrykes is spoghuise en luukse herehuise in Suid-Afrika besig om soos soetkoek te verkoop.

’n Huis van 740 m² in Bantrybaai, Kaapstad, is vir R75 miljoen verkoop. Foto: Seeff

Die eiendomsagentskap Seeff sê Woensdag in ’n verklaring hy word oorval met belangstelling in duur huise landwyd van veral oorsese superrykes en Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk (ekspats).

Dit is veral in die mark vir huise van meer as R20 miljoen waar die verbruikersentiment nou ’n driejaarhoogtepunt bereik, sê Seeff.

Die eiendomsagentskap sê ongeag die huidige politieke retoriek oor grond en eiendom in Suid-Afrika, is superrykes hoogs geïnteresseerd in Suid-Afrikaanse eiendom.

Seeff skryf dit toe aan die waardeproposisie van Suid-Afrika se luukse woonbuurte.

Hy sê daar is toegang tot wêreldklas-internet, toerismebestemmings en ’n beter omgewing, wat selfs te midde van die staat van inperking goeie lewensgehalte bied.

Volgens Seeff is die fenomeen tans wêreldwyd te sien – superrykes koop tans in Amerika, Brittanje en Australië luukse huise dat die biesies bewe.

Suid-Afrika lok rykes omdat die soort huis wat superrykes hier kan bekom, soveel luukser is as ’n eiendom in dieselfde prysklas in die Weste.

Sedert einde verlede jaar het Seeff ’n aansienlike toename in bedrywighede in die superluukse gebiede ondervind en ’n aantal hoëwaarde-verkope bo R20 miljoen beklink.

Die meeste verkope van dié waarde was in en om Kaapstad. Dit sluit in eiendomme ter waarde van R40 miljoen en R36 miljoen in Fresnaye, vier verkope in Kampsbaai (R32,38 miljoen, R25,55 miljoen, R22,5 miljoen en R21,5 miljoen), R20,2 miljoen in Bantrybaai, R45 miljoen aan die V&A Waterfront, R23,5 miljoen in Bishopscourt en R20 miljoen in Constantia.

In Plettenbergbaai is ’n huis vir R55 miljoen verkoop, een van die hoogste pryse wat behaal is, terwyl ’n huis in Zimbali in KwaZulu-Natal vir R24,5 miljoen verkoop is.

Seeff sê daar is ook belangstelling vir die regte huis in die land se talle luukse binnelandse woonbuurte.

Samuel Seeff, voorsitter van Seeff, sê daar is puik geleenthede om superluukse eiendomme teen dieselfde pryse as drie jaar gelede te koop.

Ondanks trae groei die afgelope drie jaar is luukse wonings op lang termyn ’n uitstekende belegging.

“Die buitengewone waardegroei aan die Atlantiese kus word goed gerapporteer. Dink byvoorbeeld daaraan dat niks in Kampsbaai tien jaar gelede vir meer as R20 miljoen verkoop het nie. Deesdae is dit waar die meeste verkope in die R20 miljoen-plus-prysklas voorkom,” sê hy.

Só het die gemiddelde eiendomsprys in sekere gebiede oor die afgelope tien jaar gestyg:

Clifton: R23 miljoen teenoor R13 miljoen (’n styging van 77% sedert 2011)

Llandudno: R22 miljoen teenoor R6 miljoen (267%)

Bantrybaai: R15 miljoen teenoor R7 miljoen (114%)

Sandhurst: R15 miljoen teen R12 miljoen (25%)

Kampsbaai: R14 miljoen teenoor R6 miljoen (133%)

Constantia: R14 miljoen teenoor R7 miljoen (100%)

Bishopscourt: R14 miljoen teenoor R13 miljoen (8%)

Fresnaye: R13 miljoen teenoor R7 miljoen (86%)

Hyde Park: R13 miljoen teenoor R6 miljoen (117%)

V&A Waterfront (slegs deeltitel): R12 miljoen teenoor R7 miljoen (71%)

Volgens Seeff is dit ’n uitstekende tyd om in luukse eiendom te belê aangesien die pryse nog nooit so lank gestagneer het nie, maar waarskynlik eersdaags weer gaan begin styg.

Meer oor:  Seeff  |  Huispryse  |  Luukse Eiendom  |  Superrykes  |  Huismark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.