Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ontledings
Ramaphosa red ANC se bas... dalk vir oulaas

Die ANC gaan Suid-Afrika vir nog vyf jaar regeer. Maar dié sesde oorwinning in die demokratiese era sedert 1994 was nie maklik nie. Vir die eerste keer het sy deel van die stemme in ’n nasionale verkiesing tot onder 60% gedaal. Dit dui op sowel ’n normalisering van Suid-Afrika se verkiesingslandskap as ’n toenemend mededingende veelparty-demokrasie.

Met sy aankoms Donderdag by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria, met sowat 60% van die stemme reeds getel, het Gwede Mantashe, die party se voorsitter, sy kommer oor die uitslag teenoor my uitgespreek: “Ons benodig 60%,” het hy gesê.

Ek het reageer deur te sê getuienis dui daarop dat die ANC op pad was na 57% of 58% en dat dit ’n verbetering is op die dramatiese daling tot 54% in die munisipale verkiesing in 2016. Dit was, het ek gesê, dus ’n baie goeie uitslag.

Dit het gelyk of hy my redenasie aanvaar. Mantashe is ’n ondersteuner van pres. Cyril Ramaphosa en is tans minister van minerale bronne.

Die belangrike kwessie vir Verkiesing 2019 was of die uitslag Ramaphosa groter politieke ruimte binne die ANC sal gee om sy hervormingsprogram verder te neem. Sedert hy Jacob Zuma in Februarie 2018 ontsetel het ná ’n naelskraap-oorwinning om Zuma as leier van die ANC op te volg by die ANC se vyfjaarlikse nasionale verkiesingskonferensie, het Ramaphosa begin met ’n ingewikkelde omkeerstrategie.

Maar die werk is nog lank nie klaar nie. Tot dusver het hy etlike kommissies van ondersoek aangestel om die verrotting wat hy die “verlore nege jare” noem, bloot te stel. Dit het die weg gebaan vir die aanstelling van bevoegde, eerlike mans en vroue om die leisels oor te neem van belangrike staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Nasionale Vervolgingsgesag wat slagoffers was van die “staatskaping” wat Zuma moontlik gemaak het.

Nogtans is die Zuma-faksie in die ANC nog nie verslaan nie en dus moes Ramaphosa bestuur met ten minste een oog op die truspieëltjie. Sy eie party was ’n remskoen. Sou Verkiesing 2019 vir hom ’n groot genoeg oorwinning bied om hulle af te skud?

Pres. Cyril Ramaphosa en adjunkpresident David Mabuza by die ANC se finale verkiesingssaamtrek by die Ellispark-stadion in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Die beste uitkoms

Sommige mense sê dat indien die ANC 60% of meer in hierdie verkiesing gekry het, dit die party ’n blanko tjek sou gee vir nóg stropery. Maar ’n telling onder die syfer van 56% sou Ramaphosa verswak en aan sy teenstanders binne die party ammunisie gebied het om hom aan te val en sy hervormingsplanne te ondermyn. Dit is onder meer die dringende ontbondeling van die staatsbeheerde Eskom, wat ’n groot risikofaktor verteenwoordig vir Suid-Afrika se trae ekonomie en sy beleërde fiskus.

’n Uitslag van 57% of 58% vir die ANC is waarskynlik die ideale verloop van sake vir die land. Die mense sou die party berispe het vir sy laakbare gedrag die afgelope dekade en, soos baie van sy leiers die afgelope week toegegee het, sy mislukking om goeie openbare dienste te lewer. Terselfdertyd sal dit Ramaphosa die geleentheid bied om met ’n oorwinning te spog, wat hom die vars mandaat besorg wat hy nodig het.

Dit lyk of dit die uitslag is.

Vir die eerste keer sedert Nelson Mandela in 1994 gewilder as sy party, en wat groter vertroue inboesem as die leiers van die opposisie, kan Ramaphosa daarmee spog dat hy die ANC se bas gered het.

Hoe die opposisie gevaar het

Verkiesing 2019 was ook ’n referendum oor Suid-Afrika se aptyt vir die soort populistiese politiek wat die laaste paar jaar oor die wêreld heen gedy. Die plaaslike weergawe is Julius Malema en sy militante EFF.

EFF Leader Julius Malema.
Julius Malema

Die eksponensiële groei wat dié party in sy veldtog belowe het, was toe meer ontwykend. Die ses miljoen jong mense (18-29) wat verkies het om nie te registreer om te stem nie, verteenwoordig beslis ’n onontginde mark vir Malema om te bou op die sowat 1,5 miljoen wat die afgelope week vir die EFF gestem het. Maar vir die huidige het Suid-Afrika die populistiese alternatief verwerp ten gunste van meer van die duiwel wat hy reeds ken.

Die grootste opposisieparty, die DA, het ’n baie slegte verkiesing beleef. Hy het stemme aan sy regterkant aan die VF Plus afgestaan, en kon nie daarin slaag om hulle in die middelgrond terug te kry nie. Gevolglik het hy oor die algemeen gestagneer. Sy deel van die algehele stemme kan selfs daal, ondanks die feit dat die omstandighede om die ANC uit te daag, so gunstig was.

Vrae sal beslis aan die DA se leier, Mmusi Maimane, gevra word.

Die DA het gehoop om voort te bou op die vordering wat hy in die munisipale verkiesing in 2016 gemaak het toe hy met die hulp van die EFF die ANC uit die regeerstoel in Pretoria en Johannesburg geskop het. Albei die stede is in Gauteng, Suid-Afrika se ekonomiese middelpunt.

ANC se agteruitgang

Die ANC se oorheersing daal al sedert 2009. In vier agtereenvolgende nasionale en plaaslike regeringsverkiesings sedert Zuma in daardie jaar president geword het, het die ANC se deel van die steun gedaal.

Die party se leiers weet dit, maar dis moeilik vir hulle om dit te aanvaar. Terwyl Mantashe aanbeweeg ná ons gesprek, draai hy om en sê: “Maar ons sal van 60% hou – dis ’n ego-ding.”

Die ANC se ego is nie op hierdie geleentheid deur die Suid-Afrikaanse kieserskorps gestreel nie. In teenstelling het hulle ’n skoot oor Nelson Mandela se party se koppe afgevuur. ’n Kwarteeu nadat Mandela Suid-Afrika se eerste swart, demokraties-verkose president geword het, het die ANC se houvas op mag verswak. Nou moet hy voortgaan om die party van die besoedeling van die Zuma-jare skoon te maak. Ramaphosa sal die oorwinning moet gebruik om die hervormingsplatform wat hy die afgelope jaar gebou het as ’n afspringplek vir ekonomiese groei en werksverskaffing te omskep.

Albei is dringend nodig.

Die les van Verkiesing 2019 is andersins duidelik: Volgende keer gaan die kieserskorps sê genoeg is genoeg en hul rûe op die ANC keer.

Meer oor:  Ramaphosa  |  Cyril  |  Julius  |  Malema  |  Verkiesing2019  |  Ovk  |  Stembriewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.