Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Ace had probleem met gesag, sê oudpremier van VS

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het ’n probleem met gesag gehad, sê Beatrice Marshoff, voormalige premier van die Vrystaat.

Beatrice Marshoff Foto: News24

Marshoff was ’n sleutelbron in die boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture deur die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh.

“Hy was net die tipe persoon wat altyd in beheer moes wees. Dit was altyd ’n uitdaging om te besluit hoe om teenoor hom te reageer. Gaan jy toegee, of gaan hy jou in jou maai stuur? Ek kon nie altyd ingee nie. Dit was ’n baie moeilike besluit om die regte ding te bly doen. Jy was teen ’n baksteenmuur,” het sy aan Netwerk24 gesê.

Marshoff en Magashule het gereeld koppe gestamp nadat sy in 2004 as premier van die Vrystaat aangestel is.

Sy het Magashule onder groot druk as LUR vir landbou aangestel, maar hom kort daarna in 2005 afgedank.

Marshoff sê sy het nog nie die boek klaar gelees nie, maar is sover tevrede dat die inligting wat sy gegee het, reg oorgedra is.

“Dis nie net Ace nie – hy het baie mense gehad wat hom op provinsiale en nasionale vlak in sy poste gehou het. Ek weet nie of dit deur intimidasie of vrees was nie, maar hy is beskerm,” sê sy.

Mense soos oudpres. Jacob Zuma?

“Ek weet nie, ek het toe nog nie ’n verhouding met hom gehad nie, maar ons weet hy was ’n begunstigde van baie dinge. Natuurlik is daar ook die direkte verbintenis met die Guptas. Maar toe het ek al aanbeweeg. Ek het net gevoel ek het my ruimte nodig.”

Marshoff se termyn as premier het in 2009 verstryk.

Sy glo die boek is ’n bevestiging “van dinge waarvan ons reeds geweet het, maar wat nêrens heengegaan het nie”.

Netwerk24 het vroeër berig dat pres. Cyril Ramaphosa aan Magashule gesê het dat hy nie die ANC se gesag mag gebruik om sy persoonlike stryd te voer nie.

Magashule het glo ook slae gekry oor ’n verklaring namens die ANC kort ná die uitreiking van die boek. Dié verklaring is binne 24 uur opgevolg deur nóg ’n verklaring om die saak reg te stel.

Ramaphosa het volgens inligting vir Magashule gesê hy beskik nie oor die gesag om ’n verklaring namens die party uit te reik nie.

Ace Magashule se grootste probleem “nadat hy op sy eiland gelaat is”, is dat hy nie ’n meetbare steunbasis het nie.
Piet Croucamp

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, meen Magashule se grootste probleem “nadat hy op sy eiland gelaat is”, is dat hy nie ’n meetbare steunbasis het nie.

Hy meen Ramaphosa het dié besluit oor Magashule geneem (om Magashule aan sy eie lot oor te laat wat betref die aantygings in die boek oor hom) om sy eie steun in die ANC en die NUK te versterk.

“Dit lyk al hoe meer of die steun in die party na Ramaphosa se kant toe leun. Ons weet reeds die grootste persentasie van die ANC se kiesers volg Ramaphosa, nie die ANC as party nie.”

Prof. Theo Venter, ook ’n politieke ontleder verbonde aan die NWU, bevestig ook vanuit sy binnekringe dat die weerstand in die ANC teen Magashule aan die toeneem is.

“Maar daar is bitter min wat hulle nou voor die verkiesing daaraan kan en sal doen.”

Volgens Venter sal die interne konflik ná die verkiesing baie verdiep.

Albei ontleders is dit eens: Magashule moet geskors word hangende enige ondersoek teen hom.

Thabo Meeko, woordvoerder van die ANC in die Vrystaat, het by navraag oor Marshoff se stellings gesê Magashule het nooit met die ANC vasgesit nie, maar Marshoff het wel met die party vasgesit toe sy herroep sou word as premier.

“Die premiers rapporteer aan die ANC en Magashule was die voorsitter van die ANC in die Vrystaat. Ek weet dus nie hoe sy kan sê sy kon hom nie beheer nie. Sy is verkeerd om so te sê. Die ANC beheer ook niemand nie. Sy moes aan die ANC verantwoordbaar wees.”

Die ANC in die Vrystaat se standpunt oor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping is dat dit enigiemand vrystaan om voor die kommissie te getuig. Die provinsie kan egter nie namens Magashule as sekretaris-generaal van die party praat nie, sê Meeko. Magashule moet self sê of hy gaan getuig of nie oor die bewerings wat oor hom in die boek gemaak is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.