Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Ace ‘politieke gif’ vir die ANC – ontleder

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, is “politieke gif” vir dié party terwyl hy probeer stemme werf vir die verkiesing.

Só sê Gareth van Onselen, hoof van politiek en regering van die Instituut vir Rasseverhoudinge, in ’n artikel oor die ANC se agteruitgang by die stembus.

Die ANC sukkel in die Vrystaat weens die bewind van Ace Magashule, sê die politieke ontleder Gareth van Onselen. Onder Magashule se leierskap het die ANC in die Vrystaat 165 965 stemme in 15 jaar verloor. Foto: Mlungisi Louw

Die ANC se steun nasionaal het ná 20 jaar van stadige erosie nou skerp gedaal tot minder as 50% van die geregistreerde kiesers (45,05%).

Behalwe in Mpumalanga het die steun in al die provinsies gedaal.

Van Onselen sê daar is baie provinsies waar die ANC se steun platgeval het, maar die Vrystaat is een provinsie wat die moeite werd is om van naderby te bekyk.

“Dit is ’n gemors en Magashule het misluk in dit wat die meeste vir die ANC saak maak: Om stemme te kry.”

In die Vrystaat het die ANC se steun gedaal – van 81% in 1999, daarna 82% in 2004, tot 71% in 2009 en 69% in 2014. Die steun onder al die geregistreerde kiesers het nog skerper gedaal – van 72% (1999), tot 63% (2004), 54% (2009) en 49% (2014).

“Magashule is in 1998 tot ANC-voorsitter in die Vrystaat verkies. Min leiers kan spog met ’n swakker rekord. In die Vrystaat het die aantal stemme vir die ANC met elke verkiesing bly daal: 887 091 in 1999, 838 583 in 2004, 756 287 in 2009 en 721 126 in 2014,” skryf Van Onselen.

Dit is ’n daling van 165 965 stemme in 15 jaar.

“Magashule was in en uit die ANC se magsposisies, maar as voorsitter of premier was hy vir 20 jaar heel bo. Sy verkiesingsrekord is vrot en dit is die een ding wat verstom.

“Die ANC is bereid om baie dinge te verdra, maar min dinge maak meer saak as stemme vir ’n politieke party.

“Magashule is politieke gif op hierdie front. Die totale aantal stemme het afgeneem, die persentasie is af, en die ANC se persentasie van alle geregistreerde kiesers het deur die vloer geval.”

In Suid-Afrika word hy beloon: ’n Vrot leier met ’n vrot rekord en steeds bly hy boontoe styg.

Maar Magashule byt vas en word beloon, skryf Van Onselen.

“Dit is merkwaardig. As die ANC wil vernuwe, moet hy nuwe stemme begin wen. Maar hy kan nie. In die Vrystaat is die probleem ernstig. En Magashule is in die middel daarvan. Die ANC se stemme stort in duie, maar dit maak nie saak (vir die ANC) nie.”

Van Onselen sê die ANC is slegs formeel ’n politieke party. Informeel is dit ’n broederskap. In die VSA en Brittanje sou Magashule lankal die stewel onder die “jis” gekry het.

“In Suid-Afrika word hy beloon: ’n Vrot leier met ’n vrot rekord en steeds bly hy boontoe styg.”

Thabo Meeko, Vrystaatse ANC-woordvoerder, het by navraag gesê die ANC se daling in steun by die stembus kan nie aan een mens soos Magashule toegeskryf word nie.

In die laaste verkiesings het die ANC Nelson Mandelabaai, Tshwane en die Gauteng-provinsie verloor. Dit het niks met Magashule te doen gehad nie, maar meer met faktore soos die Nkandla-skandaal.

Wat die omstredenheid rondom Magashule en die bewerings van ernstige korrupsie in Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture betref, hou die ANC vol dié bewerings is nog nie in ’n hof getoets nie “en daarom neem ons dit met ’n knippie sout”.

Magashule was ook as leier deel van die kollektiewe ANC-span in die Vrystaat en nasionaal. Almal verwys net na die mislukkings soos munisipaliteite en dienslewering, maar daar is suksesse soos “die grondverskuiwende werk met die vaardigheidsrevolusie” en die matriekuitslae in die Vrystaat, sê Meeko.

Die direkteur van openbare vervolging het ook weens swak bewyse alle klagte in die hofsaak rakende die Vrede-skandaal teruggetrek.

“Magashule het baie goed gevaar om die lewensgehalte van mense in die Vrystaat te verbeter. Natuurlik was sy termyn nie sonder swakhede en uitdagings nie. Met munisipaliteite is die geldbasis byvoorbeeld swak weens die hoë vlakke van werkloosheid en armoede.”

Meer oor:  Anc  |  Verkiesing 2019  |  Cyril Ramaphosa  |  Ace Magashule
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.