Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
'Politikus' Erik Holm hard aan die werk

Ten spyte van die opdraandepad om skenkings vir sy liefdadigheidswerk te kry, gee die werk wat hy vir die Good-party doen, hom opnuut hoop vir die toekoms van die land, sê Erik Holm, voormalige Binnelanders-akteur.

“Ons Erik saam met ons Schaumburg-jeug,” skryf Vivien Law by dié foto wat sy in Februarie vanjaar op haar Facebook-profiel geplaas het. Foto: Facebook

Holm is deesdae ’n assistent vir Vivien Law, die Good-party se premierskandidaat in Noordwes.

Sy een projek is die verhoogstuk The Land of Tomorrow, waarin 24 kinders van Schaumburg, ’n informele nedersetting net buite Brits, optree.

“Dis so wonderlik om met dié kinders te werk. Hulle is mense wat werklik nog hoop het.”

Dié musiekblyspel maak die gehoor weer trots op die Grondwet, maar herinner jou veral dat menseregte met verantwoordelikhede gepaard gaan.

Die blyspel is die afgelope naweek in Schaumburg opgevoer en die Good-party beplan om dit in Augustus vanjaar landwyd op te voer. Buiten een volwasse akteur is die toneelgeselskap almal van 13 tot 19 jaar oud.

“Die groeiende werkloosheid en dwelmmisbruik doen niemand enige gunste nie. Die toneelstuk bied die kinders ’n alternatiewe manier om hul tyd en energie te bestee.

“Dit klink dalk soetsappig, maar ek het regtig meer by die kinders geleer as wat hulle by my geleer het. Hulle het regte, egte hoop.

“Anders as die volwassenes lê hul hele lewe nog voor hulle. Hulle kyk anders na dinge en hulle het soveel interessante idees. ’n Mens moet genoeg kinders soos hulle kry om vir ander mense te wys daar is nog hoop.”

Die produksie kry volgens hom “ongelooflike positiewe terugvoering”.

Erik Holm spreek die groep akteurs toe wat in The Land of Tomorrow optree. Foto: Facebook

Holm sê hy wou nooit by die politiek betrokke raak nie.

“Ek het, soos driekwart van die mense, gevoel politiek is die naaste aan ’n vloekwoord wat jy kan kry. Toe Good my vra om aan te sluit, het ek gedink daar is nie ’n manier nie. Niemand kyk na ’n politikus op nie, want jy dink hy gaan jou indoen.

’n Toneel uit die musiekblyspel The Land of Tomorrow, wat die afgelope naweek in Schaumburg, Noordwes, opgevoer is. Foto: Verskaf

“Maar toe sê Vivien die probleem is juis dat niemand die politieke sfeer verander nie. Toe besluit ek ’n mens kan hoop dinge raak beter of jy kan ophou kla en betrokke raak.”

Anders as die ander partye, bestaan Good nie soseer uit politici nie, maar uit gewone mense soos boere en onderwysers.

Benewens die produksie maak Good seker die arm gemeenskappe in Noordwes kry water en elektrisiteit.

Die party evalueer ook die maatskaplike en arbeidsplan van die meer as 200 myne in die provinsie.

“Die meeste myne kom nie hul verpligtinge teenoor die gemeenskap na nie. Baie gemeenskappe sê niks daaroor nie, want hulle weet nie die myne word verplig om die gemeenskappe te ondersteun nie.”

Hoewel hy soms mismoedig raak oor al die probleme en die feit dat die rykes hul beursies styf vashou, vind Holm daagliks vervulling as hy sien watter verskil hy en Good in die gemeenskap maak.

“Selfs al val Good môre plat, weet ek ons het ongelooflike dinge vermag en ek het saam met goeie mense gewerk. Die party se uitgangspunt is dat ons nie goeie werk doen sodat mense vir ons moet stem nie. Ons wil mense help omdat dit eties en medemenslik is.”

Meer oor:  Erik Holm  |  Verkiesing 2019  |  Good Party
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.