Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
ANC aanvaar rol as opposisie in Wes-Kaap, sê Rasool

Kiesers in die Wes-Kaap het vir die ANC  die ontnugterende boodskap gestuur dat die party vir nou ’n opposisieparty moet bly, sê Ebrahim Rasool, die ANC se verkiesingshoof in die Wes-Kaap.

Net voor die nuus bekend gemaak is dat die Wes-Kaap steeds deur die DA regeer gaan word, het Rasool gesê die ANC het aanvaar dat hy die opposisie in die provinsie is en het groot klem daarop geplaas om ’n gepaste leier in die provinsie te kry.

“Die ANC aanvaar dat hy die opposisie in die Wes-Kaap moet wees, dat die DA in beheer is en dat ons die DA oor die volgende vyf jaar aanspreeklik moet hou.

“Dit is ons rol wat ons as die opposisie moet speel,” het Rasool gesê.

“Ek dink die kiesers het gepraat; daar is niks meer vir ons om te sê nie. Die kiesers het gesê hulle is nie gereed vir die ANC in die Wes-Kaap nie.”

Ebrahim Rasool Foto: Jaco Marais

Die DA het 55% van die stemme behaal, ’n daling van die 59% in 2014. Die ANC se steun het van 32% in 2014 tot 28% gedaal.

Oor die party se afname in steun van sowat 4%, het Rasool gesê: “Die ANC moet homself sowel nasionaal as in die Wes-Kaap organisatories hervorm.

“Die kiesers het gesê hulle wil hê die ANC moet die opposisie wees; hy moet ’n goeie opposisie wees en die DA aanspreeklik hou. Ons moenie wens dat ons in beheer was nie, maar ons moet optree volgens die opposisiemandaat wat ons ontvang het.

“Ons is bly dat die DA gedaal het van die 59% wat hulle voorheen behaal het. Maar ek dink daar lê werk voor en selfondersoek moet gedoen word om seker te maak dat ons die kiesers se boodskap reg hoor.”

Rasool sê die ANC as opposisieparty moenie toelaat dat die DA wegkom daarmee om “hul verantwoordelikhede na nasionaal te abdikeer nie”.

Hy het toekomstige planne vir die party in die provinsie genoem en gesê hulle benodig ’n sterk organisasie in die Wes-Kaap.

“Ons moet in staat wees om terug te keer na grondvlak soos in ons veldtog, en ons moet voortgaan om werklik sterk takke te bou – nie net takke vir die nasionale kworum nie, maar takke wat die wil van die ANC kan verteenwoordig, en dan moet ons leiers kry wat vertrou kan word.”

Hy het bygevoeg dat indien die ANC die DA aanspreeklik hou en hulle op grondvlak bly werk, “sal 2021 vir homself sorg”.

Meer oor:  Ebrahim Rasool  |  Stembriewe  |  Verkiesing2019  |  Ovk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.