Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
ANC sal meer as 60% kry – Ipsos

Die ANC sal ongeag die opkoms by die stempunte meer as 60% van kiesers se steun in Woensdag se verkiesing landwyd kry, lui die jongste Ipsos-meningspeiling wat op die vooraand van die verkiesing uitgereik is.

In die peiling word ook voorspel dat die DA ná 8 Mei steeds die amptelike opposisieparty in Suid-Afrika sal wees, maar dat dit onwaarskynlik is dat dié party sy doelwit sal bereik om in Gauteng en die Noord-Kaap te wen.

“Die Wes-Kaap is binne bereik (van die DA), hoewel hulle ’n koalisievennoot kan benodig om ’n regering te vorm.”

Die peiling dui ook aan dat Patricia de Lille se Good-party “indruk” in die Wes-Kaap gaan maak.

“Die EFF behoort die amptelike opposisie in Limpopo en Noordwes te wees en moontlik ook in die Vrystaat,” lui Ipsos se finale “Pulse of the People”-meningspeiling.

Die peiling is tussen 22 Maart en 17 April onder sowat 3 600 kiesers landwyd gedoen.

* SIEN OOK: Vergelyk dié peiling se bevindinge met die verkiesingsuitslae soos dit regstreeks ontvou.

ipsos
Ipsos se jongste peiling.

Van die ander vernaamste bevindinge is dat die ANC se steun van oral in die land sal kom, maar veral van Gauteng en KwaZulu-Natal (KZN).

Dit terwyl die DA se steun hoofsaaklik in die Wes-Kaap en Gauteng gekonsentreerd is.

Die EFF se sterkste steun sal uit Gauteng, die Vrystaat en Limpopo kom.

Luidens die peiling behoort die ANC gemaklike oorwinnings, van 66% of meer, in Mpumalanga, Noordwes en Limpopo te behaal en die meeste van die stemme in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die swaar betwiste Gauteng te kry.

Oor kleiner partye word in die peiling voorspel dat een uit tien stemme vir die IVP in KZN sal gaan, terwyl die Vryheidsfront Plus groter steun in Mpumalanga, Gauteng en die Wes-Kaap sal kry.

Die UDM sal goeie steun in die Oos-Kaap kry en die ACDP meestal in die Wes-Kaap.

“Meer as 80% van kiesers het aangedui dat hulle gaan stem. Dit is egter nie realisties nie, as vorige kieseropkoms-patrone in ag geneem word.”

Ipsos het egter bevind dat ongeag wat die opkoms Woensdag sal wees, dit steeds die ANC is wat die meeste voordeel sal trek.

Dié marknavorsingsfirma het as deel van die peiling vier scenario’s vir kiersersopkoms in ag geneem en sy voorspellings daarvolgens bereken.

Hy voorspel as daar ’n lae kiersersopkoms is (waar net sowat 60% van die geregistreerde kiesers gaan stem), kan die ANC nasionaal sowat 64% van die steun kry. In medium opkoms-scenario’s van tussen 71% en 75%, kan die ANC tussen 61% of 62% van die steun kry.

In ’n hoë opkoms-scenario (80%) kan die ANC tot 65% van die steun kry.

As alle geregistreerde kiesers (100%) sou stem, sou die ANC volgens Ipsos net 56,92% van die steun geniet.

Die peiling voorspel verder dat die DA landwyd in ’n lae opkoms-scenario landwyd 17% steun sal kry, in ’n medium opkoms tussen 17% en 19% en in ’n hoë opkoms-scenario sowat 18%.

Die EFF sal in ’n lae opkoms-scenario 10% steun kry, en 11% in ’n medium tot hoë opkoms-scenario.

Die VF Plus sal in al die scenario’s 1% steun kry en 0,76% as elke geregistreerde kieser gaan stem.

Die peiling het ook bevind dat net 33% van geregistreerde kiesers meen dat die land in die regte rigting beweeg. Sowat 52% meen Suid-Afrika beweeg in die verkeerde rigting.

Meer oor:  Cope  |  Da  |  Ff Plus  |  Anc  |  Eff  |  Vf Plus  |  Ipsos  |  Peiling  |  Verkiesing2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.