Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
ANC verloor steun, maar wen Noord-Kaap met 57,54%

Die Noord-Kaap bly ANC. Dié party het die provinsiale verkiesing daar met ’n meerderheid van 57,54% gewen. Die DA was tweede (25,51%), gevolg deur die EFF (9,71%) en die Vryheidsfront Plus (2,68%).

Sylvia Lucas sal nie meer die premier van die Noord-Kaap kan bly nie omdat haar naam nie op die provinsiale lys van die ANC verskyn nie. Foto: Netwerk24

Ondanks dié oorwinning sal Sylvia Lucas, premier van die Noord-Kaap, nie terugkeer na haar pos nie, omdat haar naam nie op die provinsiale lys verskyn nie, sê Naledi Gaosekwe, mediabeampte van die ANC in die provinsie.

“Ons het reeds Vrydag drie name vir die premierskap gekry nadat die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) ook met sy alliansie-vennote daaroor gepraat het.

Die name, wat eers as vertroulik gehanteer is, sal nou gegee word aan die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC, wat oor ’n nuwe premier vir die Noord-Kaap sal besluit.”

Die ANC het egter stemme verloor in dié gebied nadat hy 64,40% van die stemme in die vorige verkiesing in 2014 getrek het.

Die drie top-opposisiepartye in dié gebied het vanjaar almal beter gevaar.

Die DA het in die 2014-verkiesing 23,89% van die stemme, die EFF 4,96% en die VF+ 1,09% gekry.

Die opkoms by die stembusse in die provinsie was 64,12%. Daar was 4 984 bedorwe stembriewe.

Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris van die ANC in die Noord-Kaap, het ná die nuus van hul oorwinning daar gesê hulle is verheug en die uitslag word met nederigheid ontvang.

“Die uitslae volg op baie harde werk, opoffering en toewyding van die ANC-kandidate en alliansie-strukture, asook vrywilligers, wat alles in hul vermoë oor die lengte en breedte van die Noord-Kaap gedoen het om die ANC te laat wen.

Ons sal ook armoede en ongelykheid beveg.

“Die ANC-alliansie onderneem om die mense van die Noord-Kaap se lewensgehalte te verbeter en om te verseker dat die ekonomie groei en meer ordentlike werkgeleenthede geskep sal word.

“Ons sal ook armoede en ongelykheid beveg.”

Ngxanga het medelye betuig met die familie en naasbestaandes van Siyabonga Asiya, een van die ANC se jong vrywilliges, wat dood is terwyl hy diens in die Isibane-stemdistrik in Colesberg gedoen het.

Andrew Louw, DA-leier en -premierskandidaat in die Noord-Kaap, kon ná verskeie oproepe nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Anc  |  Verkiesing 2019  |  Sylvia Lucas  |  Noord-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.