Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
ANC-veterane vaar uit teen Ace ná ‘rassistiese’ uitlatings

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, het Saterdag in Philippi in Kaapstad “ANC-ondersteuners aangehits om op rassistiese wyse hul stem uit te bring”. So sê die ANC se veterane.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar,” het die veterane Sondag in ’n verklaring gesê.

In Magashule se toespraak, wat op eNCA uitgesaai is, verwys Magashule na die DA as “umlungu” (wit mense) en moedig mense aan om nie vir die party te stem nie omdat dit ’n “wit party” is.

“Moenie jul stemme weer op die wit man mors nie,” het Magashule gesê.

In sy verklaring, sê die veterane, sover dit hulle betref, is dit die uitlatings van ’n individu en nie die posisie van die ANC nie.

“Ons is trotse lede van die ANC, ’n nierassige en nieseksistiese en demokratiese vryheidsbeweging. Ons grondwet vereis van ons om alle mense van Suid-Afrika te verenig, spesifiek Afrikane, vir die totale bevryding van die land van alle vorms van diskriminasie en nasionale onderdrukking.

“Die skandelike beroep op die massa arm swart mense om nie vir die umlungu te stem nie, is iets wat nie geken word in die kernbeginsels en karakter van die ANC en sy missie om ’n nasie te bou wat vry is van vooroordeel, armoede en uitbuiting nie,” lui die verklaring.

Volgens die veterane is dit afskuwelik om rassistiese uitlatings op ’n ANC-verkiesingsbyeenkoms in te span en diegene wat dit doen, mag geen toevlug in die ANC vind nie.

“Magashule se gedrag en uitlatings is geheel en al teenstrydig met die vryheidsmanifes en die grondwet van die ANC.

“Dit maak ons hartseer om te sien dat sy gedrag hom nie onderskei van die rassistiese populiste wat in die jare van staatskaping vorendag gekom het nie. Diegene wat wreedaardig die swaarkry van ons mense uitbuit en dan op rassistiese wyse sondebokke soek om die aandag van hul eie oortredings en misdadige optrede af te trek.

‘Ace respekteer ons nie’

“Ons glo ons verteenwoordig die standpunt van langsdienende veterane en lede van die ANC, wat vasklou aan die nagedagtenis van (Albert) Luthuli, (Oliver) Tambo en (Nelson) Mandela, en ons dring daarop aan dat ons nie kan toekyk hoe die administrasie vervuil word deur ’n kras minagting van die kernwaardes, etos en beginsels van die ANC nie. Magashule se woorde en optrede is nie verteenwoordigend van ons nie.”

Die veterane het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa en die ANC se integriteitskommissie gedoen om dringend teen Magashule op te tree.

Ná Saterdag se byeenkoms het die DA ook die verkiesingskommissie genader om beweerde “stemkopery” deur Magashule te ondersoek.

Magashule is glo gesien waar hy ’n vrou van Philippi R400 gee om kos te koop toe hy van deur tot deur geloop het, het die SAUK berig.


Meer oor:  Ace Magashule  |  Kaapstad  |  Philippi  |  Verkiesing 2019  |  Anc Veterane  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.