Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Cyril: Vryheid en demokrasie seëvier ná 25 jaar steeds

Vandeesweek se algemene verkiesing het bevestig vryheid en demokrasie seëvier ná 25 jaar steeds in Suid-Afrika, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Dit was een van die wense wat oudpres. Nelson Mandela uitgespreek het toe hy op 10 Mei 1994 as die eerste demokraties verkose president van die land ingehuldig is.

cyril ramaphosa, verkiesing 2019
Pres. Cyril Ramaphosa Saterdagaand by die OVK se nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

“Die mense van Suid-Afrika het gepraat,” het Ramaphosa Saterdagaand gesê kort nadat die Verkiesingskommissie (OVK) die amptelike uitslae in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria aangekondig het.

“Kom ons werk nou saam, swart en wit, mans en vroue, oud en jonk, om ’n verenigde en voorspoedige Suid-Afrika te bou.”

Die ANC het die verkiesing onder Ramaphosa se leierskap gewen deur 57,50% van die 17,6 miljoen stemme wat uitgebring is, op hom te verenig.

Die stempersentasie was ’n lae 65,99%. Die ANC het met die vorige algemene verkiesing in 2014 die steun van 62,15% van die kiesers gehad.

Die DA (20,77%) is steeds die amptelike opposisie, terwyl die EFF met 10,79% die derde grootste party is.

Die partye wat die meeste verteenwoordigers in die Nasionale vergadering sal hê, is die ANC (230 setels), die DA (84), die EFF (44), die Inkatha Vryheidsparty (14) en die Vryheidsfront Plus (10).

Daar was groot applous toe Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, aangekondig het hoeveel verteenwoordigers die VF Plus in die parlement sal hê.

Mashinini het die verkiesing vry en regverdig verklaar.

Die ANC sal vir die sesde agtereenvolgende termyn sedert 1994 die regerende party wees.

Glen Mashinini
Glen Mashinini, OVK-voorsitter. Foto: Deaan Vivier

Benewens politieke leiers is die geleentheid ook bygewoon deur verskeie lede van die diplomatieke korps in Pretoria. Hoofregter Mogoeng Mogoeng en internasionale waarnemers was ook teenwoordig.

Ramaphosa het Suid-Afrikaners bedank dat hulle hul stemme uitgebring het.

Hy het veral lof gehad vir “dié wat die koue en die reën getrotseer het” om te gaan stem.

Die president het ook hulde gebring aan die twee kiesers wat tydens die verkiesing dood is.

Hy het gesê dit is jammer dat jong Suid-Afrikaners nie in groter getalle aan die verkiesing deelgeneem het nie. Hy hoop dit sal in die toekoms verander.

Hy het die OVK, die polisie, die weermag en almal wat gehelp het om van die verkiesing ’n sukses te maak, bedank.

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, het die meer as 200 000 kiesbeamptes van reg oor die land bedank vir hul harde werk.

“ ’n Verkiesing is ’n demokratiese proses wat bepaal wat die politieke wil van die mense is. Dit was ’n baie mededingende verkiesing wat ons almal, politieke partye, die veiligheidsagentskappe, die media en die OVK, getoets het soos nog nooit tevore nie.

Sy Mamabolo
Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte, Saterdagaand aan die woord. Foto: Deaan Vivier

“Ons, die OVK, die mense en die land het almal sterker hieruit gekom,” het Mamabolo gesê.

“Vanaand is die laaste stap van ’n reis wat twee jaar gelede begin het. Hoewel dinge nie altyd soos beplan verloop het nie, glo ek die OVK het hom uitstekend van sy taak gekwyt.

“Hoewel die media gefokus het op die kleinere uitdagings wat ons gehad het, moet ons nooit vergeet nie die mense van Suid-Afrika het die geleentheid gehad om te stem en daar was beamptes wat toegesien het dat die verkiesing vry en regverdig verloop.”

Hy sê die groot aantal partye wat aan die verkiesing deelgeneem het, was ’n groot uitdaging vir die OVK. Dit het die koste van die verkiesing ook aansienlik opgestoot.

Mamabolo sê te midde van die klein jakkalsies het 97% van die kiesers gesê hulle het die verkiesingsprosedures verstaan.

* Ramaphosa het die media ook bedank “vir jul harde werk” tydens die verkiesing.

“Julle het nou presidensiële toestemming om te gaan slaap,” het hy gesê en met ’n glimlag bygevoeg: “En moenie worrie wat agterna hier gebeur nie!”

Die verkiesing is later met ’n amptelike onthaal afgesluit.

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Uitslae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.