Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Cyril-vyande kap terug

Gwede Mantashe, een van pres. Cyril Ramaphosa se belangrikste bondgenote in die ANC, is onder die 22 mense wat volgens die party se integriteitskomitee onbevoeg is om die party in die verkiesing te verteenwoordig.

Naas Mantashe is adj.pres. David Mabuza en die party se verkiesingshoof, Fikile Mbalula, ook op die lys.

Pres. Cyril Ramaphosa (middel) saam met sy twee grootste bondgenote in die party se topses, die ANC-voorsitter Gwede Mantashe (links) en adj.pres. David Mabuza, by ’n partybyeenkoms in Januarie vanjaar. Foto: Phill Magakoe

Mabuza is in die tweede plek op die nasionale lys van 200 en Mantashe derde. Dié twee is Ramaphosa se enigste werklik betroubare vennote in die ANC se topstruktuur en dis ondenkbaar dat hulle van die kandidatelys afgehaal word omdat hulle dan nie meer kabinetslede sal wees nie. Dit sal Ramaphosa se posisie in die regering aansienlik verswak.

Mantashe se naam is waarskynlik op die lys omdat die voormalige Bosasa-grootkop Angelo Agrizzi voor die staatskapingskommissie van regter Raymond Zondo getuig het dat die maatskappy sekuriteitstoerusting ter waarde van R650 000 by drie van Mantashe se huise geïnstalleer het. Mabuza is al verskeie keer in die verlede by korrupsieskandale betrek en die openbare beskermer het verlede jaar bevind dat Mbalula ’n geborgde vakansie ter waarde van ten minste R300 000 van ’n vervaardiger van sportgoedere ontvang het.

Die integriteitskomitee het die 22 name Maandag aan die ANC se topses oorhandig. Bronne wat die name laat uitlek het, wou geen aanduiding gee of Malusi Gigaba, Nomvula Mokonyane en Bathabile Dlamini, drie swaargewigte wat ten nouste by staatskaping en korrupsie betrek word, van die lys verwyder moet word nie.

‘Hulle is in die pad in die stormloop om plek te kry in die verkleinde kabinet.’

Talle ANC-amptenare binne Luthuli-huis vrees dat die feit dat die name van bekende staatskapers op die kandidatelys verskyn die ANC se kanse by die stembus erg kan benadeel – daarom die Ramaphosa-groep se aandrang sedert Januarie dat hul verwyder word.

Die integriteitskomitee is verlede week vir ’n dringende vergadering met die topses ontbied om te verduidelik watter proses hulle gevolg het om die 22 name te identifiseer wat volgens hulle nie aan die verkiesing behoort deel te neem nie.

Die lys sou ook Maandag deur die party se nasionale werkkomitee op sy weeklikse vergadering in Luthuli-huis bespreek word, maar dié vergadering is gedurende die naweek afgelas.

Die feit dat Ramaphosa se teenstanders in die party daarin geslaag het om die name van sy twee belangrikste bondgenote op die lys van ongeskikte kandidate te kry, spreek boekdele van die spanning binne die party.

Daar word deurlopend tougetrek tussen die Ramaphosa-driemanskap aan die een kant en Ace Magashule, die sekretaris-generaal, en Jessie Duarte, sy adjunk, aan die ander kant. Dit word gesê dat die sesde lid, die tesourier-generaal, Paul Mashatile, inval by wie dit hom die beste pas.

Die jongste verwikkelinge beteken dat die party vier weke voor die belangrikste verkiesing in die party se bestaan steeds nie ’n geskil oor iets so basies soos hul kandidatelys kan bylê nie. Die kans lyk ook uiters skraal dat hulle dit voor stemdag op 8 Mei sal kan doen.

’n Bron na aan die proses sê Mantashe en Mabuza was duidelik teikens van Rama­phosa se politieke teenstanders in die integriteitskomitee.

“Hulle is in die pad in die stormloop om plek te kry in die verkleinde kabinet wat Ramaphosa ná die verkiesing op 8 Mei gaan aanwys,” het Rapport se bron gesê.

Sommige senior ANC-lede meen dat die enigste liggaam wat dié geskil kan bylê die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) is – die hoogste besluitnemende liggaam tussen nasionale kongresse.

Die 80 NUK-lede is egter op die oomblik oor die land heen versprei, kliphard besig om stemme te werf.

“Hulle sal nie weer vergader voor die verkiesing verby is nie,” het Dakota Legoete, waarnemende nasionale woordvoerder van die party, gister gesê.

Oudpres. Kgalema Motlanthe het Vrydagaand, op ’n vergadering van die Nelson Mandela-stigting, ook na die kwessie verwys en gesê die inte­griteitskomitee “kan nie aan die NUK-lede raak nie”.

“As die NUK begin dink die integriteitskomitee gaan hom probleme gee, sal hy eenvoudig niks aan die integriteitskomitee gee om te doen nie. Dis waarom die kandidatelys eers aan die integriteitskomitee gegee is op die dag waarop die lys reeds by die OVK ingedien is.

“Die komitee kan wel aan burgemeesters wat in die VBS-skandaal betrokke was, opdrag gee om terug te staan.

“Hulle kon aan John Block, voorsitter van die ANC in die Noord-Kaap, opdrag gee om te bedank nadat ’n vonnis van 15 jaar tronkstraf aan hom opgelê is vir korrupsie. Hulle kon dit doen, want die plaaslike owerhede is ’n laer struktuur,” sê Motlanthe.

Motlanthe, wie se kritiek op sy party die laaste paar jaar al hoe feller geraak het, het ook gesê die Nasrec-konferensie waar Ramaphosa naelskraap tot ANC-president verkies is, het nie daarin geslaag om ’n grondslag vir die hernuwing van die party te lê soos gehoop is nie.

Die ANC deurdink nie die proses waardeur openbare verteenwoordigers aangewys word behoorlik nie omdat hy dink hy kan hulle beheer, selfs wanneer dinge verkeerd loop. Dis waarom LP’s die Nkandla-verslag van die openbare beskermer aan flarde geskeur het toe dit in die parlement voorgelê word, het hy gesê.

“Die ANC se parlementslede het gedink hulle verdedig die ANC. Maar dis nie wat hulle gedoen het nie. Die ANC moet nou sy sokkies optrek en daarna streef om die verkiesing te wen. Jy kan nie só ’n geveg aanpak en jou swakhede wys nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.