Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
DA ‘desperaat om ANC vir betogings te blameer’
Solly Msimanga Foto: Deaan Vivier

Die DA se pogings om die ANC daarvan te beskuldig dat hy agter die gewelddadige betogings in townships in DA-beheerde gebiede landwyd sit, is “desperaat” en ’n doelbewuste poging om die uitslag van die komende verkiesing te kan betwis, meen die ANC.

Dít was Dakota Legoete, nasionale ANC-woordvoerder, se reaksie Maandag nadat Solly Msimanga, DA-premierskandidaat in Gauteng, bekend gemaak het dat hy terugvoering van genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, gekry het waarin dié sê dat hy die polisie-ondersoek sal dophou in die saak wat Msimanga vroeër ingedien het teen die ANC oor die beweerde aanhitsing van geweld in veral die Alexandra-township in Johannesburg.

Msimanga meen die ANC se doelwit met die betogings is om die verkiesingsuitslag te beïnvloed.

Volgens Msimanga het meer bewyse intussen opgeduik uit ondersoeke deur die Johannesburgse metropolisiediens dat ANC-lede vroeër die betogings en geweld in Alexandra gekoördineer het.

“In ’n deursoekingsoperasie van die Johannesburgse metropolisiediens is ’n voertuig met ANC-kentekens daarop met ou motorbande agterop gevind. Daar word vermoed dat dit gebruik sou word om paaie te versper as deel van die afsper (van Alexandra).

“Een van die insittendes van die voertuig wat in hegtenis geneem is, is ’n bekende ANC-lid,” het Msimanga Maandag in ’n verklaring gesê.

Hy het daarom ’n beroep op Sitole gedoen om self te verseker dat ’n spoedige en doeltreffende polisie-ondersoek gedoen word om ’n veilige en vreedsame verkiesing op 8 Mei te verseker.

“Dit het duidelik geword dat die ANC al hoe meer onseker voel oor ’n verkiesingsoorwinning op 8 Mei en dat hulle desperaat aan die mag bly klou. Dit is egter jammer dat die ANC geweld verkies in ’n poging om die mag te behou,” het Msimanga gesê.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê Sitole het net aan die DA geskryf dat sy kantoor die vordering van die DA-klag sal monitor soos wat die polisie met enige ander klag van enige ander Suid-Afrikaner doen.

Legoete het Maandag bygevoeg die DA is “desperaat omdat die party geen verkiesingstrategie of -veldtog het nie”.

Dakota Legoete Foto: Daily Sun

“Op sy beste kan die DA net die ANC blameer vir elke probleem in gebiede waar hulle regeer.

“Mense protesteer egter elke dag in ANC-beheerde gebiede, maar in plaas daarvan dat die ANC die apartheidsregime van (oudpresidente) PW Botha en FW de Klerk blameer, aanvaar ons aanspreeklikheid.

“Ons probeer ons eie foute regstel soos gesien kan word met die verskeie kommissies van ondersoek, wat die Zondo-kommissie insluit.”

Volgens Legoete was daar vroeër onwettige grondbesettings in die Wes-Kaap en Gauteng wat deur die EFF gelei is.

“Die DA blameer egter nie die EFF daarvoor nie omdat hulle in ’n onheilige alliansie is. Nou nader ons die verkiesing en die ANC is die sondebok.

“Hulle maak beweringe teen die ANC op sodat daar ’n donker wolk oor die ANC hang as dié party die verkiesing wen.”

Volgens Legoete is dit dus ’n “verkiesingstrategie van die DA om uiteindelik die verkiesingsuitslag te kan betwis, soos onlangs ook in Venezuela en ander lande gesien kon word”.

Meer oor:  Khehla Sitole  |  Solly Msimanga  |  Anc  |  Betogings  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.