Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
DA-stemme verdwyn glo in HS Sentraal in Bloemfontein

Bedrog met nasionale stemme vir die DA in die Hoërskool Sentraal-stempunt in Bloemfontein word vermoed nadat die party volgens die Verkiesingskommissie (OVK) “nul” stemme hier gekry het.

Dié stembus is in wyk 20 – in die hartland van die DA-stemgebied in die Rosestad. Die DA beweer dat 1 234 nasionale stemme vir die party hier bloot weggeraak het.

Kate Bapela, nasionale kommunikasiebestuurder van die OVK, sê die DA “moet self met die OVK praat” hieroor.

’n Foto van die uitslagstrokie met die finale nasionale stemme van die DA in die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, wat as "nul" aangegee word.Foto: Marietjie Gericke

Werner Horn, die DA se verkiesingshoof vir die Vrystaat, sê hy was betyds by Itumeleng Liba, die OVK se bestuurder in die Vrystaat, en het die ongerymdheid ook by die DA se nasionale hoofkantoor in Kaapstad aangemeld om vir ’n hertelling te versoek.

Hy vermoed dat die werklike uitslagvorm met die nasionale stemme wat ook deur die DA se teller onderteken is, langs die pad tussen die stemlokaal en die dataverwerkingspunt van die OVK vervals is.

“Dit is omdat die uitslagstrokie wat uiteindelik by die OVK aangekom het, net die handtekening van die ANC en die voorsittende beampte van die stemlokaal gehad het.” Die DA-teller het die oorspronklike uitslagstrokie onderteken.

Prof. Fief van der Merwe, DA-raadslid van wyk 20, sê die DA se teller, ’n geoktrooieerde rekenmeester, het die voorlopige uitslae vroeër per WhatsApp aan hom gestuur. Daarvolgens was daar 1 234 nasionale stemme vir die DA.

“Die DA-teller het albei vorms – die een met die provinsiale uitslae en die een met die nasionale uitslae – onderteken.”

Van der Merwe sê nog ’n probleem was dat die hoof-toesigbeampte by die stemlokaal geweier het dat die DA-teller ’n foto van die finale vorms met die uitslae kon WhatsApp, terwyl dit algemeen in verkiesings gedoen word.

Horn meen iewers het iemand tussen die stasie en die datavasleggingsentrum ’n nuwe, vervalste vorm met die nasionale uitslae aangestuur.

“Die bal is nou in die OVK se hande om die probleem reg te stel.”

Liba sê hy wag op ’n volledige verslag van die voorsittende beampte.

“Dit is nie moontlik dat die voorsittende beampte kon geweier het dat die DA-teller die finale uitslae met sy selfoon afneem nie, want die uitslae word buite die stemlokaal opgeplak.”

“Dit het nie by die Hoërskool Sentraal gebeur nie,” sê Van der Merwe.

  • Die voorsittende beampte, wat nie sy naam gepubliseer wil hê nie, sê hy weet dat kiesers by die Hoërskool Sentraal inderdaad provinsiaal en nasionaal vir die DA gestem het en hy weet wat die regte uitslae is.

“Maar julle moet die regte storie by die OVK kry.”

  • Verkiesingsbedrog – met die stemme van buitelandse burgers – word ook in Gauteng beweer.

Deidré Pretorius van Pretoria sê haar “sporadiese” tuinwerker, ’n Mosambiekse burger, het vanjaar sonder ’n identiteitsboekie vir die ANC gaan stem, terwyl hy nie eers verblyfreg het nie.

“Hy het ons vertel dat die ANC burgers van buurlande bymekaargemaak het om vir die party te stem met die belofte dat hulle ID-boekies sal kry.”

Pule Mabe, nasionale woordvoerder van die ANC, sê hy sal hierop antwoord sodra hy ’n kans kry.

Bapela sê sy gaan self ondersoek instel na dié bewerings. Sy wou nie sê hoeveel klagte van vermeende verkiesingsbedrog die OVK landwyd ontvang het nie.

  • Die klagtes oor die OVK se hantering van die verkiesing vanjaar is legio. Dit sluit in kiesers wat meer as een keer kon stem, stemlokale wat laat geopen het en stembriewe en vorms wat opgeraak het.
Meer oor:  Hoërskool Sentraal  |  Bloemfontein  |  Verkiesing 2019  |  Da  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.