Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
DA sukkel onder bruin kiesers in Wes-Kaap

Die Wes-Kaap bly onder die beheer van die DA vir nog vyf jaar, maar selfs hier het Mmusi Maimane se party agteruit geboer.

Die DA het hier ’n kleiner persentasie (55,5%) van die stemme getrek as 2014 (59,4%) en altesame 121 189 minder kiesers het opgedaag om DA te stem as in die vorige algemene verkiesing.

Kiesers by die Oval North High School in Mitchells Plain op stemdag. Foto: Edrea du Toit

Meer as 36 000 van hierdie verlore stemme kom uit Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte.

Só bekommerd was die DA oor die Kaapse Vlakte dat Maimane op stemdag uit Johannesburg gevlieg het om kiesers in Athlone, Bellville-Suid en Mitchells Plain te probeer mobiliseer.

Maimane se paaiery was vergeefs. Met sy aankoms om 17:30 by die Meadowridge Primary School in Mitchells Plain het nog net 48,9% van geregistreerde kiesers in die gebied gestem. Teen 21:00, toe stembusse sluit, was dit maar 60%.

Dit is ses persentasiepunte minder as die Wes-Kaap se gemiddelde opkoms van 66,3%. In 2014 het 72,8% van kiesers in die Wes-Kaap hul kruisies gaan trek.

Mitchells Plain is Woensdag geteister deur reën. Die ANC het vroegdag al gereken dit gaan die opkoms beïnvloed. Alan Winde, die DA se premierskandidaat, was egter optimisties en het teen 15:00 aan Rapport gesê hy sien “oral lang toue”.

Hy het wel gekla omdat skandeerders nie oral gewerk het nie en oor ’n tekort aan stembriewe.

By die Stellenbosse stadsaal was die kiesbeampte al teen 13:00 bekommerd sy stembriewe raak op. Met Rapport se besoek aan Imizamo Yethu in Houtbaai was die skandeerder vir meer as ’n halfuur onklaar. Phumzile van Damme, DA-LP, het gesê dit is frustrerend “hoe hierdie voorvalle net in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal” voorkom.

Frustrasies het Vrydag by die OVK se uitslagsentrum in Kaapstad oorgekook toe David Maynier, die DA se verkiesingshoof in die provinsie, na Courtney Sampson, die OVK se Wes-Kaapse verkiesingshoof, gehap het oor die OVK se swak reëlings en hom aangeraai het om te bedank. Toe Sampson terugkap, het Maynier gesê “respek moet verdien word”.

Uiteindelik het 16 000 minder mense vanjaar in Mitchells Plain gestem as in 2014.

DA-steun daar was onder druk totdat Patricia de Lille se Onafhanklike Demokrate (OD) in 2010 saamgesmelt het met die DA. Daarna het die DA groot oorwinnings behaal en in elke verkiesing gegroei.

Die groei is nou verby – deels weens ’n wegblystem, en deels weens die vertoning van Good, De Lille se nuwe party, asook die ACDP en die Al Jama-ah-party.

Die ANC is in sekere gebiede in Mitchells Plain verbygesteek deur Good en die ACDP. Die ANC se aandeel aan Wes-Kaapse stemme het van 32,9% in 2014 tot 28,6% gedaal.

Dennis Cruywagen, ANC-woordvoerder in die Wes-Kaap, sê die ANC sal weer ’n “stemkultuur” onder hul kiesers moet kweek. Hy is wel tevrede dat die ANC op die nasionale stembrief kiesers kon oortuig om vir pres. Cyril Ramaphosa eerder as Maimane te stem.

Meer as 70 000 kiesers in die provinsie het nasionaal ANC gestem, maar nie provinsiaal nie.

Ook die VF Plus het DA-stemme gevreet en op die nasionale stembrief in die Wes-Kaap het 36 111 meer kiesers dié keer hul kruisies by die VF Plus getrek.

Dr. Corné Mulder, die party se hoofsweep, het breed geglimlag.

“Die DA is sommer skaamkwaad oor hoe swak hulle nasionaal in die Wes-Kaap gedoen het,” het Mulder Donderdag by die Kaapse uitslagsentrum gesê.

Intussen het sowat 70% van al Good se nasionale stemme uit die Wes-Kaap gekom, en stuur dié provinsie in werklikheid vir De Lille parlement toe.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Da  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.