Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
VERKIESING 2019: Stemdag – alles wat jy moet weet

Wat gebeur by die stemlokaal, wat word van daardie stembrief waarop jy jou kruisie trek en hoe weet ons dat ons die uitslae kan vertrou? Jan-Jan Joubert verduidelik.

Kiesers staan tou by die Zandspruit- informele nedersetting, wes van Johannesburg, terwyl hulle wag om te stem in 2014 se algemene verkiesing. Foto: AP|Themba Hadebe

Toe regter Johann Kriegler en die heel eerste Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) – deesdae net die Verkiesingskommissie – die stelsel daargestel het vir ons eerste demokatiese verkiesing in 1994, was die basiese oorwegings dat dit akkuraat, betroubaar, verstaanbaar en eenvoudig moet wees.

Daardie eerste OVK het vir Suid-Afrika die beste stemstelsel ter wêreld gebou – dit is ’n feit soos ’n koei. Meet dit hieraan – in al die jare, met al Suid-Afrika se politieke en logistieke uitdagings, het ons nog nooit ’n provinsiale of nasionale verkiesing gehad waarvan die uitslag deur enige politieke party in twyfel getrek is nie.

Dit is voorwaar ’n merkwaardige en trotse prestasie en dit is steeds die stelsel wat gebruik word, al is daar een oranje lig wat nou flikker en een moontlike rooi lig anderkant die horison – maar daaroor later meer.

Só werk dinge


1. 14 uur

Nee, dis nie ’n Deon Meyer-opvolgboek nie. Jy het op 8 Mei 14 uur kans om te stem. Stemlokale is oop van 07:00 tot 21:00 op 8 Mei.

2. Die manne (en vroue) op die grens

As jy in die ry staan om te stem en jy is buite die periferie van die stemlokaal – die periferie word deur daardie blou-wit plastiek-afsperring van die OVK aangedui – mag politieke partye lawaai maak en jou probeer oortuig, of inligtingstafels hê waar jy jou naam kan laat afmerk as jy wil. Jy hoef egter nie met die partye te praat nie. Trouens, moet jou glad nie aan hulle steur as jy hulle onaangenaam of intimiderend vind nie – jou stem is jou geheim. Glimlag dus net en beweeg aan, tensy jy lus is vir redekawel, en as jy wil, kan jy jou party help deur jou naam by hul tafel af te merk, maar jy hoef nie – jy kan ook net verbystap na die betreklike rustigheid van die stemlokaal. 

Foto: Emile Hendricks

3. Kom maar verby

Soms sal die OVK-beamptes bejaardes of ma’s met babas voor in die ry laat staan, maar dis ’n vergunning – jy kan nie daarop aanspraak maak nie.

4. Wie is jy?

As jy by die deur kom, sal ’n beampte nagaan of jou identiteitsdokument (ID) in orde is. ’n Tweede amptenaar sal dan jou ID (boekie of kaart) skandeer sodat jy nie in die versoeking kom om dalk later 'n tweede keer te probeer stem en jouself in die polisieselle kry nie.

5. Wat maak oom Kallie daar?

Binnekant die deur sal jy die party-agente sien. Hulle hou toesig dat geen party bo 'n ander bevoordeel word in die betrokke stemlokaal nie. As jy voel die OVK-beamptes doen iets verkeerd, kan jy jou tot die partyagente wend. Ons vertel netnou meer oor hul rol.

Foto: Garth Stead

6. Is jy op die lys?

Dan kom jy by die kieserslystafel, waar jou naam op die kieserslys afgemerk word. Dit is ’n verdere maatreël om te verseker daar is nie kiesersbedrog nie, en dit gee aan die stempunt se hoofstembeampte ’n aanduiding of daar genoeg stembriefies is.

Jy sal sien daar is nog twee tafels. Een tafel het adresvorms, vir ingeval jou adres nie volledig op die kieserslys is nie, want die OVK is steeds besig met die invul van volledige adresse op die kieserslys – hulle maak goeie vordering met die reusetaak.

Die ander tafel het afdeling 24A-vorms. Dit moet jy invul as jy buite jou stemdistrik stem en jou naam dus nie op daardie stemlokaal se kieserslys verskyn nie. Anders as in ’n munisipale verkiesing mag jy in ‘n algemene verkiesing stem by enige stemlokaal (geen rede dus om nie te gaan stem as jy dalk weg is met werk of vakansie, of by familie kuier nie!), maar die vorm moet as verdere beheermaatreël ingevul word. As die stemlokaal binne die provinsie val waar jy geregistreer is, sal jy sowel ‘n provinsiale as ‘n nasionale stembrief ontvang. As die stemlokaal buite die provinsie val waar jy geregistreer is, sal jy slegs ‘n nasionale stembrief ontvang. Dit keer dat partye mense oor provinsiale grense aanry om die uitslag te beïnvloed.

Foto: EMILE HENDRICKS

7. Hou duim!

Volgende gaan jy na die inktoediener, wat jou duim met ink merk. Dis 'n verdere maatreël om te verseker dat jy net een keer stem.

8. Trek jou kruisie

Nou kry jy jou twee stembriewe – een nasionaal en een provinsiaal, behalwe natuurlik as jy buite jou provinsie stem soos so pas verduidelik. Stap nou flink na die stemhokkie, vind jou party so gou moontlik (daar is baie ander kiesers wat wag vir jou om klaar te kry) en merk die spasie langs jou party se naam en logo met ’n duidelike kruisie wat nie buite die lyne gaan nie, want as daar onsekerheid is oor watter party jou keuse is, word jou stembrief aangedui as bedorwe en jou party kry nie die stem nie.

9. Moenie vir jou laf hou nie

Dit is teen die wet om ’n foto van jou ingevulde stembrief te neem, selfs al dink jy dis oulik. Moenie dom wees en ‘n ernstige prys betaal vir onnodige onbesonnenheid nie.

10. Spoedpos

As jy klaar is met die invul van die stembrief, stap flink na die twee stembusse. Plaas die provinsiale stembrief in die provinsiale stembus en die nasionale stembrief in die nasionale stembus. Verlaat dan die lokaal flink – dit mors die tyd van die kiesers agter jou in die ry as jy draal.

11. Agteros kom ook in die kraal

Stiptelik om 21:00 sluit die polisie die stemlokaal, Alle kiesers wat reeds in die ry binne die periferie is, kan nog stem. Enigeen buite die periferie kan nie stem nie.

12. Eenstemmigheid oor baie stemme

Sodra die laaste kieser gestem het, word die stemlokaal ’n tellokaal. Dit is waar die partyagente se tweede rol inkom. Die OVK se hoofstembeampte vir die betrokke lokaal breek die seël op die stembusse en maak die stembusse leeg. Dan word elke stembrief een vir een opgehou en getel as die OVK-personeel en die partyagente almal saamstem oor watter party die betrokke stem kry.

Hierdie aspek voorkom knoeiery met die telproses. Die partyagente maak seker elke stem word korrek getel en die stembriewe word nie vervoer nie, so daar kan nie stembriewe wegraak of bykom nie. Dis ook een van die hoofredes hoekom dit so lank neem vir Suid-Afrikaanse verkiesingsuitslae om bekend te word – tydsaamheid is die prys van deeglikheid.

Foto: Deaan Vivier

13. Tyd vir ’n fotoverhaal

Nadat die stembriewe getel is en alle OVK-personeel sowel as alle partyagente is tevrede, teken elke OVK-personeellid en elke partyagent die twee uitslagvorms. Elke partyagent neem ’n foto van die getekende uitslagvorms. Hulle stuur dit dan per selfoon na hul party, wat dit nagaan om te sien dat elkeen van die byna 23 000 stemlokale se uitslag korrek weergegee word by die verkiesingsentrum in Pretoria.

14. En die wenner is . . .

Die een uitslagvorm word teen die muur buite-op die stemlokaal opgesit en die ander uitslagvorm word na die OVK versend, waar elke uitslag deur gekwalifiseerde ouditeurs geoudit word voordat dit verskyn op die rekenaarstelsel en die groot uitslagborde in die uitslagsentrum in Pretoria. Die versending, ouditproses en invoer van die finale uitslag is die tweede rede hoekom Suid-Afrikaanse stemtellery so betroubaar en so stadig is.

15. Meneer, hy kroek!

Nou wat gebeur as die party-agente knoeiery of onwettige gedrag by hul stemlokaal bemerk? Hulle rapporteer dit dadelik aan hul party en dit word opgeneem deur die nasionale veelparty-skakelkomitee by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria waarop elke party en die OVK-kommissarisse verteenwoordig is. Die partye plaas kundige, streng, senior, gerespekteerde koelkopmense daar en hulle het nog altyd die probleme deur konsensus uitgesorteer en die belhamels gedissiplineer ver van die opgeruie emosie van die enkele probleem-stempunte. Hierdie komitee – Kriegler se breinkind – is uniek Suid-Afrikaans en is ’n skitterende deel van die verkiesingstelsel.

So daar het jy dit – die beste kiesstelsel in die wêreld.

Grafika24
Maar ons moet versigtig wees

Nou vir daardie flikkerende oranje lig, en die rooi lig anderkant die horison. Die oranje lig wat flikker in dié verkiesing is die nuwigheid dat die OVK dit so maklik maak vir elke Jan Rap en sy maat om spesiale stemme uit te bring in die drie dae voor die verkiesingsdag. ’n Mens hoef nie eens meer ’n rede te gee nie. 

Dalk loop alles goed af, is die vangnette om te verseker elke kieser stem net een keer effektief, en word die stembriewe veilig bewaar sodat hulle nie meer word of wegraak soos in soveel ander lande gebeur nie. Maar die OVK het vir homself hier – heeltemal onnodig – ’n erge lat gepluk. Kom ons hoop maar dit loop goed af.

Die rooi lig anderkant die horison geld nie dié verkiesing nie, maar dit is ’n idee wat elkeen wat die Suid-Afrikaanse demokrasie waardeer, moet beveg met al ons krag. Een van die OVK-kommissarisse, eerw. Terry Tselane, het naamlik so twee weke gelede weer die land probeer oortuig om in die toekoms oor te skakel na ’n elektroniese stemstelsel. Behalwe dat dit ongelooflik duur sal wees (wie gaan ryk word uit die tenders vir die programmatuur en toerusting?) kan ’n elektroniese stelsel breek en het die onbetroubaarheid daarvan al in verskeie lande tot chaotiese verkiesings, geweld en selfs lewensverlies gelei. Wat ’n dom, duur, onnodige en gevaarlike voorstel.

Maar soos gesê, daardie rooi lig wink dalk in die toekoms. Geniet die verkiesing van 8 Mei, ’n Suid-Afrikaanse stemstelsel waaroor ’n mens met trots en selfvertroue kan sê die beste ter wêreld is.

(Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer?)

Meer oor:  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.