Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Dís hoekom peilings oor verkiesing verskil

Die uitslag van peilings voor die verkiesing verskil omdat die mense en instellings wat dit uitvoer verskillende metodologieë gebruik, sê Jonathan Moakes, verkiesingsbestuurder van die DA.

Sy uitlating volg nadat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIR) in sy voorlaaste peiling (met ’n foutspeling van 2,8%) voor die algemene verkiesing bevind het die ANC se steun het landwyd tot 49,5% gedaal, terwyl die ANC se meningspeiling (foutspeling van 2,1%), wat deur die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir regering gedoen is, wys hy geniet 56% van die steun teenoor die DA se 15% en die EFF se 9,5%.

Jonathan MoakesFoto: Argief

Ipsos het op sy beurt in ’n meningspeiling (foutspeling van 0,9% tot 2%) bevind die ANC het in April 56,9% van die steun gehad, teenoor 61% in Maart. Die DA het van 18% tot 15% gesak, terwyl die EFF se steun gedaal het tot 9,5%.

Moakes sê van die maatskappye en instellings wat die peilings uitvoer, se navorsing het baie gebreke omdat hulle nie mense insluit wat sê hulle “is onseker” of “nie wil sê” vir wie hulle gaan stem nie.

Hulle neem ook nie behoorlik in ag hoeveel kiesers by die stembus gaan opdaag nie.

Moakes stem saam met ’n uitlating van Gareth van Onselen, die SAIR se hoof van politiek en regering, dat baie nog in die laaste week voor die verkiesing kan verander.

Hy wou nie sê wat die DA se eie meningspeiling toon nie.

“Ek kan wel sê ons peilings wys ons sal die Wes-Kaap behou en die ANC in Gauteng en die Noord-Kaap tot onder 50% beperk,” sê Moakes.

Die ANC glo op sy beurt hy sal sy meerderheid in Gauteng behou, en selfs vergroot.

Gareth van OnselenFoto: Jaco Marais

Van Onselen het dit Dinsdag met die bekendstelling van die SAIR se peiling duidelik gemaak meningspeilings is nie voorspellings nie, maar bloot ’n aanduiding van hoe kiesers gevoel het op die dag toe hulle ondervra is.

Volgens hom is dit onmoontlik om te bepaal wat die stempersentasie op 8 Mei sal wees.

Altesaam 3 600 respondente “wat demografies verteenwoordigend is”, het in Maart en April aan Ipsos se meningspeiling deelgeneem, 2 375 geregistreerde kiesers tussen 18 en 25 April aan dié van die SAIR, en 1 826 geregistreerde kiesers tussen Maart en April aan dié van Wits.

Emeritus-professor Pieter Labuschagne, politieke kenner aan Unisa, sê die kardinale vraag oor meningspeilings is hoe verteenwoordigend hulle is.

“Jy moet dit op die breër Suid-Afrikaanse kieserbevolking van toepassing kan maak.

Prof. Pieter LabuschagneFoto: Argief

“Daar is byna 27 miljoen kiesers vir die verkiesing geregistreer, maar nie almal sal gaan stem nie.

“Die uitdaging van ’n steekproef is dat dit só verteenwoordigend moet wees dat dit geprojekteer kan word op wat sou gebeur as al 27 miljoen kiesers wat geregistreer het, op 8 Mei sou gaan stem.

“Dit is belangrik dat die steekproef so wyd moontlik en verteenwoordigend van al die ondersteuningsgroepe in die land moet wees.

“ ’n Steekproef van ’n paar honderd mense kan byvoorbeeld nie so verteenwoordigend wees as een wat sê nou maar 3 000 mense betrek het nie,” sê Labuschagne.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoek-kampus in Vanderbijlpark, sê as die geregistreerde kiesers nie van die

Dr. Piet CroucampFoto: Jaco Marais

ongeregistreerde kiesers gefilter word nie, “kan jy maklik die steun vir die ANC en die EFF te hoog skat, want net 18% van 18- en 19-jarige kiesers is geregistreer”.

“Dit sal interessant wees om te sien wat die uitslag is van die SAIR se finale peiling (onder 2 000 respondente) wat dié naweek gedoen word.

“Dit gebeur dikwels dat mense wat onseker is oor die party waarvoor hulle nog altyd gestem het, in die laaste week voor die verkiesing besluit om ‘huis toe te kom’ en te stem vir die party wat hulle tradisioneel gesteun het,” sê Croucamp.

Meer oor:  Ipsos  |  Jonathan Moakes  |  Pieter Labuschagne  |  Politiek  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.