Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
EFF en VF Plus ‘die groot wenners’
Die telbord Vrydag by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria.Foto: DEAAN VIVIER

Hoewel die ANC die verkiesing gewen het, is die VF Plus en EFF eintlik die grootste wenners.

Daarby is die ANC én DA erg gewond omdat albei se nasionale steun sedert die 2014-verkiesings afgeneem het, terwyl die grootste verloorders die kleiner partye soos Cope, die UDM en die African Independent Congress (AIC) was wat feitlik ingeplof het en waarskynlik nooit van hul verliese sal kan herstel nie.

Dít was Vrydagaand verskeie politieke kenners se ontleding van Woensdag se nasionale en provinsiale verkiesings.

Teen Vrydagaand 20:00 was 96,38% van alle stemdistrikte se uitslae reeds getel. Die ANC was toe voor met 57,70%, terwyl die DA 20,69%, die EFF 10,55%, die IVP 3,47% en die VF Plus 2,3% steun gekry het.

Dr. Zwelinzima Ndevu van die Universiteit Stellenbosch se skool vir publieke leierskap, meen die VF Plus het vriend en vyand verras met sy prestasie. “Dit is grootliks te wyte aan dié party se beleidsposisie oor veral grondhervorming.

“Die ander groot wenner was die EFF, hoewel die party gedink het hy sou baie meer groei en selfs paar provinsies wen.”

Ndevu meen kleiner party soos Cope, die UDM en AIC was die grootste verloorders.

Dr. Pieter Groenewald Vrydag by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: DEAAN VIVIER

Prof. André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit is “verskriklik verbaas” dat die ANC ondanks die skandaal geteisterde Jacob Zuma-era en beweringe van staatskaping wat daagliks teen ANC-leiers onthul word, steeds kon wen.

“Dit is totaal ongehoord in enige demokrasie dat ’n party met so ’n bevlekte rekord sulke steun kry. Dit ’n Godswonderwerk dat die ANC nog in beheer is.”

Duvenhage meen die IVP het ook verras met sy steun van 17% in KwaZulu-Natal.

“Patricia de Lille se nuwe Good-party (met sy 0,47%) het ook baie goed gevaar omdat hy letterlik stof in die oë van alle kleiner partye geskop het.

Hy meen die VF Plus se “ongelooflike prestasie” kan toegeskryf word aan wit Afrikaanse kiesers wat vervreemd geraak het van die DA, maar dit het ook te doen met hoe die VF Plus die Coligny- en Schweizer-Reneke-voorval vroeër hanteer het.

Oor die DA se prestasie sê prof. Cherrel Africa van die Universiteit van Wes-Kaapland hoewel die party die Wes-Kaap verower het, het hy nasionaal swakker gevaar as in 2014.

Sy meen een rede kan wees dat Wes-Kaapse kiesers provinsiaal vir die DA en nasionaal vir Ramaphosa gestem het.

“Die DA het ook steun verloor aan die VF Plus – veral oor kiesers se kommer oor die grondkwessie.”

Ace Magashule, ANC sekretaris-generaal, het Vrydag ook die uitslagsentrum besoek. Foto: FELIX DLANGAMANDLA
Mosiuoa Lekota, Cope-leier, Vrydag by die uitslagsentrum. Foto: FELIX DLANGAMANDLA

Sy meen dié party behoort selfondersoek te doen oor hoe om sy verlore steun te herwin.

Daniel Silke, ’n onafhanklike ontleder, sê die rede vir die ANC se sukses “is twee woorde: Cyril Ramaphosa”.

“Ek het geen twyfel dat sy verkiesing as ANC-president dié party se raklewe verleng het nie. Hy het die ANC deurgedra.

“Hoewel die ANC swakker as in 2014 gevaar het, beteken die oorwinning kiesers het aanklank gevind by Ramaphosa se ‘nuwe dagbreek’-boodskap.”

Hy sê dit lyk ook of swart kiesers in veral Gauteng wat in die 2016-munisipale verkiesings vir die DA gestem het, weer teruggekeer het na die ANC.

“Kiesers het die ANC en Ramaphosa ook ’n laaste kans gegee om die party oor die volgende vyf jaar reg te ruk as hy weer ’n verkiesings wil wen.”

Ralph Mathekga, onafhanklike ontleder, “sien net verloorders en matige wenners”.

“Die VF Plus en Good het goed gevaar. Ook die EFF, hoewel nie so goed soos hulle gehoop het nie.

“Die DA het die Wes-Kaap gewen, maar steun nasionaal verloor. So ook die ANC op nasionale vlak. Dit het nie Ramaphosa se mandaat versterk nie. Niks het verander nie. Die binnegevegte sal voortduur.

“Dit is die storie van dié verkiesing. Dit het eerder die meeste partye beskeie gemaak,” het Mathekga gesê.

Meer oor:  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.