Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
EFF wil nou uit die DA se bed klim

Die DA moenie op die EFF se hulp hoop om die ANC in Gauteng uit die kussings te lig nie.

Volgens Julius Malema, EFF-leier, is ’n koalisie met die DA ná die algemene verkiesing op 8 Mei “uiters onmoontlik”.

Dit is weens die DA se “vyandigheid” teenoor die EFF, soos te siene op die DA se verkiesingsplakkate in die Kaap, het Malema gister op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê.

Die DA moedig kiesers op die plakkate aan om die ANC en die EFF uit die regering in die Wes-Kaap te hou.

Dit gaan ook oor hoe die DA die EFF “teiken”: “Dit maak dit uiters onmoontlik om selfs net die telefoon op te tel en hulle te bel,” het Malema gesê.

“Die DA het ’n klagte ingedien om EFF-plakkate in die Wes-Kaap te verwyder. Hierdie is die mense aan wie ons die mag in Johannesburg en Tshwane gegee het. Hierdie is die mense wat EFF-plakkate wil verwyder.

“Hierdie is die mense wat sê die EFF en die ANC moet gestop word. Hulle sit ons op ’n plakkaat.”

Die DA het ’n klagte ingedien om EFF-plakkate in die Wes-Kaap te verwyder. Hierdie is die mense aan wie ons die mag in Johannesburg en Tshwane gegee het. Hierdie is die mense wat EFF-plakkate wil verwyder.

In ’n onlangse peiling van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) is bevind dat die ANC waarskynlik net 41,6% van die stemme (teenoor 53,6% in die algemene verkiesing in 2014) in Gauteng sal kry.

Die EFF sal na verwagting 18,2% van die stemme in die provinsie kry (teenoor 10,3% in 2014) en die DA 32,4% (teenoor 30,8% in 2014).

Volgens die SAIRV sou syfers soos dié vrugbare grond in Gauteng wees vir die vorming van ’n koalisieregering.

Malema het later wel gesê die EFF is bereid om met enige politieke party saam te werk, “afhangende van wat hulle aanbied”.

Solly Malatsi, nasionale DA-woordvoerder, sien geen rede vir Malema om “op ’n sekere manier te voel” oor die party se verkiesingsplakkate in Kaapstad nie.

“Die EFF-leiers het van die mees verregaande dinge oor die DA-regering (in die Wes-Kaap) gesê. Niks van ons verkiesingsboodskap was ongewoon nie. Maar dit is te vroeg vir ons om oor die moontlikheid van ’n koalisieregering te praat,” het Malatsi gesê.

Dit is presies wat Fikile Mbalula, die ANC se verkiesingshoof, ook gister gesê het.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder, sê ofskoon dit “steeds te vroeg is om te raai” watter rigting die EFF sal inslaan sou die behoefte aan ’n koalisieregering in Gauteng ontstaan, sou ’n koalisieregering tussen die ANC en EFF rampspoedig wees vir inwoners.

“Die beste moontlike koalisie sou tussen die DA en die ANC wees, wat die stabielste is. Maar ek dink nie dat die DA in die stadium nie volwasse genoeg is om in onderhandelings met die ANC in te gaan nie,” het hy gesê.

Die beste moontlike koalisie sou tussen die DA en die ANC wees, wat die stabielste is. Maar ek dink nie dat die DA in die stadium nie volwasse genoeg is om in onderhandelings met die ANC in te gaan nie

Prof. Bheki Mngomezulu, nog ’n ontleder, sê terwyl ’n ANC/EFF-koalisieregering in Gauteng “slegter” sal wees as ’n ANC/DA-koalisie, moet daar nie “te veel gelees word” in wat Malema gesê het nie.

“Wat politici vandag sê sal heeltemal verskil van wat hulle môre sê. Malema het eens op ’n tyd gesê dat hy bereid is om vir Zuma te dood te maak en vandag sê hy iets anders,” het Mngomezulu gesê.

“ ’n ANC/EFF-koalisie sal ’n ongemaklike verhouding wees, want hulle sing nie uit dieselfde gesangeboek nie.”

Die politieke ontleder dr. Somadoda Fikeni voer egter aan dat ’n ANC/EFF-koalisie in Gauteng wel kan werk, al is koalisieregering “deurspek met uitdagings”.

“Dit gaan oor die persoonlike vonk tussen leiers. In Johannesburg het jy vir Herman Mashaba (DA-burgemeester) wat saam met die EFF-leiers werk. As leiers goed kan saamwerk, sal dinge uitwerk en as hulle nie kan nie, sal dit nié uitwerk nie,” het Fikeni gesê.

Meer oor:  Koalisieregering  |  Koalisie  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.