Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Geen regsgronde vir interdik teen uitslag, sê OVK

In ’n brief wat News24 onder oë gehad het, sê die Verkiesingskommissie (OVK) daar is geen regsgronde om ’n interdik teen die verklaring van die finale verkiesingsuitslag te bekom nie, en hy sal enige sodanige regsaksie teenstaan.

Dit is deel van die OVK se reaksie op ’n aantal kleiner partye wat gedreig het dat hulle die howe gaan nader om te keer dat die finale uitslag geproklammeer word.

Die groep van ontevrede partye eis ook ’n volledige oudit deur ’n onafhanklike instelling, en dat die verkiesing van vooraf gehou moet word.

Verteenwoordigers van kleiner partye glo dat die verkiesing nie vry en regverdig was nie, met sommige, soos die BLF en die African Content Movement (ACM), wat selfs sê dat daar geknoei is met die hele verkiesing.

Kommer oor die meer as 20 kiesers wat aangekeer is omdat hulle glo meer as een keer gestem het, laat van die kleiner partye glo dat die stemproses onregverdig was.

Die OVK ontken dit egter.

In ’n prokureursbrief gedateer 11 Mei sê die OVK se regspan dat geen onherstelbare skade aangerig sal word deur die finale uitslag van die verkiesing bekend te maak nie.

“Die uitslae is die afgelope paar dae reeds regstreeks aan die publiek bekend gemaak soos dit ontvou het, en is wyd bekend. Daarom is daar geen onherstelbare regsgevolge vir ons kliënt (die OVK) deur die verkiesingsuitslag aan te kondig nie,” lui die brief.

“Daarbenewens, jul kliënte het ’n reeks statutêre en litigasie-opsies aan hulle beskikbaar sou hulle gekant wees teen die kommissie se besluit rakende enige besware wat hulle mag aangeteken het, of die kommissie se aankondiging van die uitslae. Dit kan alles nog gebeur nadat die uitslag aangekondig is.”

Daar word ook in die brief aangevoer dat daar gevalle in die verlede was wat daarop dui dat die howe nie gemagtig is om interdikte toe te staan teen die uitoefening van statutêre en grondwetlike magte nie, maar eerder dat die toepaslike uitdaging daarvan kan geskied nadat hierdie magte uitgeoefen is.

Netwerk het Vrydagaand berig dat Hans-Jurie Moolman, ’n DA-raadslid van Tlokwe, die opdraggewende prokureur is vir 35 kleiner partye.

Sy firma, Moolman en Pienaar Ingelyf, het vroeër Vrydag aan die OVK geskryf en geëis dat ’n onafhanklike firma gevalle van dubbelstemmery en ander beweerde onreëlmatighede met die verkiesing moet oudit.

Moolman het die OVK tot 11:00 Saterdagoggend gegee om sodanige onafhanklike firma aan te stel om die verkiesing te oudit, andersins sal verdere regstappe volg wat kan insluit om ’n hofinterdik te bekom om te keer dat die finale uitslag verklaar word.

Dit is steeds nie duidelik of die kleiner party wel daad by woord gevoeg het en die hof genader het nie.

Meer oor:  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.