Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Gewilde Cyril het knou weg – peilings

Pres. Cyril Ramaphosa het die afgelope drie maande van die hoë steunvlakke wat hy sedert sy inhuldiging in Februarie 2018 geniet het, verloor.

Dit is hoofsaaklik te wyte aan die elektrisiteitskrisis en getuienis voor die Zondo-kommissie oor Ramaphosa en sy seun se beweerde betrokkenheid by Bosasa.

Die DA en die ANC doen byna weekliks blitspeilings om die sukses van hul verkiesingsveldtogte te bepaal. Luidens dié peilings geniet Ramaphosa egter steeds meer steun as die ANC.

58%: Tot soveel het Cyril Ramaphosa se steun gedaal.

Sy steunvlak is in die eerste keer in Junie verlede jaar op 68% gemeet in ’n peiling deur die firma Citizen Surveys. Sedertdien is sy steun in verskeie peilings deurgaans op meer as 60% gemeet, behalwe in September verlede jaar toe die land in ’n tegniese resessie verval het. Steun vir Ramaphosa het toe luidens Citizen Surveys tot 58% gedaal.

Volgens Jonathan Moakes, die DA se verkiesingshoof, het steun vir Rama­phosa in dié party se weeklikse peilings reeds sedert Januarie vanjaar geleidelik begin daal, maar dit het die afgelope vier weke weer sterk toege- neem. Moakes sê aanduidings is dat Ramaphosa se steun nou op tussen 12 en 15 persentasiepunte minder staan as in Januarie.

Die hoë aansien wat Ramaphosa geniet, word beskou as ’n deurslaggewende faktor om die ANC in die verkiesing ’n beslissende oorwinning te laat behaal.

“Sy steun vir die wegbly-optrede in Alexandra is die eerste fout wat hy gemaak het wat sy beeld as staatsman, wat hy tot dusver goed vervul het, in die gedrang bring. Hy het homself nou laat betrek by iets waarby ’n president hom nie behoort in te laat nie. Tot dusver het hy baie aansien geniet by mense wat glo hy wil dinge laat werk en nie by negatiewe politiek betrokke geraak nie,” sê Moakes.

Moakes is ’n ervare politieke strateeg wat vanjaar vir die derde keer sedert 2008 ’n leidende rol in die DA se verkiesingsveldtog speel. Hy sê die politieke klimaat in die land was nog nooit so vloeibaar soos nou nie. “Dis drie weke voor stemdag. Vorige kere het ’n mens in dié stadium reeds ’n goeie idee gehad van wat die verandering in stempatrone gaan wees. Die keer is daar geen aanduiding nie.”

Daar is veral onsekerheid oor hoe kiesers in KwaZulu-Natal (waar 19,2% van die bevolking woon) en die Oos-Kaap (waar 11,5% van die bevolking woon) gaan stem. Albei provinsies was in die vorige verkiesing feitlik onbetwiste ANC-vestings.

Moakes sê daar is vanjaar diep verdeeldheid in die ANC in albei provinsies en dat ’n wegblystem uit ANC-geledere in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap ’n groot uitwerking op die finale uitslag van die verkiesing kan hê.

“Dis onmoontlik om in dié stadium selfs te bespiegel wat in dié twee provinsies gaan gebeur,” sê Moakes.

Die EFF het volgens hom aanvanklik ’n aggressiewe veldtog in KwaZulu-Natal gevoer. Dr. Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se nasionale woordvoerder, was in beheer van die veldtog, maar hy is onlangs teruggeskuif Gauteng toe.

Die EFF het in 2014 geen verteenwoordigers in KwaZulu-Natal of in die Oos-Kaap gehad nie.

Die ANC en die EFF hou albei op Sondag 5 Mei hul laaste saamtrekke – die ANC in die Ellispark-stadion in Johannesburg en die EFF in die Orlando-stadion in Soweto.

“Die groot ontbrekende faktor in dié verkiesing gaan die wegbly-stemme wees. Dit gaan uiteindelik bepaal of die ANC daarin slaag om ’n meerderheid in die landwye uitslag en in Gauteng gaan kry,” sê Moakes.

Die DA se afsluitingsaamtrek vind op Saterdag 4 Mei in die Dobsonville-stadion in Soweto plaas. Moeilike onderhandelinge is verlede week met die SAUK gevoer oor die uitsending van dié saamtrekke, veral die twee saamtrekke wat die Sondag gelyktydig gehou word.

Moakes sê vir die DA is die groot uitdaging om te keer dat te veel stemme aan kleiner partye afgestaan word. Daarvoor is die VF Plus sy grootste bedreiging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.