Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Hanlie Retief op pad met Cyril Ramaphosa

Jy is deel van die droom, mnr. Ramaphosa, maar jammer, jou party is deel van die nagmerrie.

Die atmosfeer was elektries toe die teoloog Hoffie Hofmeyr Maandagaand op ’n ANC-verkiesingsbyeenkoms in ’n stampvol Atterbury-teater in Pretoria opstaan en Cyril Ramaphosa vra om daarop te antwoord.

Pres. Cyril Ramaphosa Vrydag in die doodsnikke van ’n lang verkiesingsveldtog. Hier is hy in ’n halfvol saal in Mitchells Plain. In 2014 het die DA hier met ’n groot meerderheid gewen, en in 2016 het al die wyke in Mitchells Plain vir die DA gestem. Foto: Edrea du Toit

Vyf dae later volg ons Ramaphosa se verkiesingsveldtog op die Kaapse Vlakte. Laatmiddag, nadat hy Khayelitsha-kiesers vanaf ’n Hilux se bak probeer oorreed het om ANC te stem, voer sy entourage en lyfwagte hom vinnig weg, maar ek kry my pad oopgestoei tot reg voor hom. Één vraag, gee hy vriendelik toe.

En ek herhaal Hoffie Hofmeyr se vraag.

“O ja, dis gevra by die ongelooflike aand in die Atterbury-teater?”

Sy gesig is sentimeters weg en hy kyk my stip in die oë. “Die mense van hierdie land het nog steeds vertroue in die ANC. Ek kan nie geskei word van die ANC nie, en die ANC kan nie van my geskei word nie. Die kombinasie van ek en die ANC is die magneet wat mense na ons toe trek. Dís wat ons gaan gebruik om die verkiesing te wen.

“Maar ons mense soek verandering en ek gaan hierdie verandering lei en seker maak dat ons die land hernuwe en herposisioneer.

“Ons gaan Suid-Afrika op soveel maniere weer ’n grootse land maak.”

Die gevoel was as die politici nie ons land red nie, gaan ons as gewone mense dit self doen.

En dan is die president met ’n geloei van sirenes in die blinkswart RSA1-BMW weg ná ’n dag van gemengde sukses. By elke verkiesingsvergadering was hy byna twee uur laat, en in Mitchells Plain het dinge veral gelol want dit was al Vrydag-moskee-tyd. In Guguletu kon jy die geel ANC-T-hemde sien wegstreep voor die vergadering klaar was. Moeg gewag in die son.

Gister uit Malawi sê prof. Hofmeyr, tans rektor by die Nkhoma-Universiteit, hy was redelik beïndruk met Maandagaand se vergadering, maar skepties daaroor dat Ramaphosa altyd aandring dat die slegte elemente in die ANC slegs kragtens korrekte regsvoorskrifte uitgekry kan word.

“Ramaphosa se alles-sal-regkom-à-la-Jan-Brand-antwoorde bevredig nie, want daar is ’n geweldige vlak van ongeduld en moedeloosheid onder mense. Daar is meer wanhoop as hoop.

“As ons oor honderd dae nog nie by ’n antwoord uitgekom het nie, raak dit vir my apokalipties. Ramaphosa het my nie eintlik daarop geantwoord nie.”

Soos soveel mense, het Hofmeyr opgemerk hoe hoopvol die gehoor se gees by die vergadering was. “Die gevoel was as die politici nie ons land red nie, gaan ons as gewone mense dit self doen.”

In die Atterbury-teater in Pretoria het Ramaphosa 20 moeilike vrae van ’n uitgelese gehoor beantwoord. Foto: Deaan Vivier

In die gehoor was etlike vername Afrikanerfigure. Waar die organiseerders aanvanklik onseker was of hulle die teater se 400 sitplekke gaan vol kry, moes hulle naderhand mense in die paadjies laat sit. Regstreekse video-dekking vir die foyer is gereël.

’n Driekwartier voor dit sou begin, het almal reeds gesit, en daar was iets in die lug wat Ramaphosa se span laat besef het: hier kom ’n ding vanaand.

Langs my het ’n oudweermagkolonel gesê hy het al die partymanifeste gelees en hy is vanaand hier om Rama­phosa in die gesig te kyk, “want ek wil weet of ek hom kan vertrou as politikus”. ’n Topsakeman agter my: “Ek wil vanaand die kamer voel, veral sy visie oor die ekonomie.”

Barbara Creecy, Gautengse LUR vir finansies, het die verrigtinge soos ’n streng dirigent gelei. Ná elkeen van die 20 vrae het die gehoor spontaan hande geklap. Die vrae was op die man af, ’n verwoording van die gehoor se gemeenskaplike kommer oor ons land se toekoms.

“Meneer die president, my naam is Gert van der Walt. Ek en my agtjarige seuntjie stap elke oggend skool toe, en toe wys hy na ’n plakkaat van die man met die rooi hoed en sê hy’t daai oom al op TV gesien en hy dink die oom is heeltyd kwaad vir wit mense. Het wit mense iets verkeerd gedoen?

“Dit het op ’n lang gesprek met my seun uitgeloop, meneer die president, ’n moeilike een. Ek kan verstaan dat individue in ’n ras skuldig bevind kan word. Maar kan ’n ras skuldig bevind word?”

Nee, het Ramaphosa geantwoord, ’n ras kan nie skuldig bevind word vir die sondes van individue nie.

Nee, ook, vir “dié wat ons met retoriek en slagspreuke uitmekaar probeer trek. Ons omhels ’n nuwe toekoms, en kollegas, kom ons hou daaraan vas.”

Toe iemand later uitroep: “Wat van BLF?’ het Ramaphosa Andile Mngxitama se Black First Land First vergelyk met die Boeremag.

“Albei stemme in die woestyn!”

Ná die aand het Van der Walt, ’n 42-jarige chemiese ingenieur van Brooklyn, in ’n selfoongesprek gesê Rama­phosa se antwoord was vir hom ’n wenner. “Ek wou hê ons moet daaroor praat, want die Zuma-jare het ons laat gly na ’n rasverdeelde samelewing, presies die teenoorgestelde as dit waarvoor Madiba-hulle so hard gewerk het.

Maar ’n mens moet in die verkiesingsmalligheid alles seker maar met ’n knippie sout neem, voeg hy by.

Op sy sjarmante manier het Rama­phosa later die aand gesê hy wil graag Van der Walt se seun ontmoet en hom persoonlik gerusstel oor die man met die rooi baret.

Op #BlackTwitter het Ramaphosa agterna baie houe gevat, vertel Van der Walt. Hy is uitgekryt dat hy met die vyand praat, eintlik net in die sakewêreld op sy gemak is, en in aanraking met die Ruperts is.

Magic, was Theo Venter, politieke ontleder by die Noordwes-Universiteit se sakeskool, se opsomming van die aand. “Die magic is deur Ramaphosa self gemaak. Mens kon hoor hy het ’n grieperigheid, maar hy het elkeen van die 20 vrae beantwoord.

“Vir my was die belangrikste dít wat hy in kode gesê het. Dit was oor die drie mandate wat hy in 2017 by Nasrec gekry het: om die ANC skoon te maak – kode wat bitter hard moet klink in Ace Magashule en DD Mabuza se ore. Sy tweede mandaat is om Suid-Afrika op ’n beter pad kry. Nie alleen moet die ANC beter funksioneer nie, maar ook die land. En die derde een: bo en behalwe alles moet hy die ANC verenig hou.”

Wat mens duidelik in die vergadering kon aanvoel, sê Venter, is dat die groot geveg binne die ANC wag vir ná die verkiesing. “Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State is seker manna vir Cyril. My groot vraag: Die ANC se tradisie is as hulle genoeg druk op jou sit, loop jy, maar Ace is arrogant . . .”

Fred Camphor, hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters-en-Wildbewaringsvereniging, se vraag oor wapenbeleid het groot reaksie ontlok: “Ons wil graag wettige landsburgers wees met wettige wapens, maar die vuurwapenregister is in chaos.”

Op sosiale media was daar kritiek op Ramaphosa se antwoord waarin hy Suid-Afrika vergelyk het met post-konflik-Viëtnam, toe wapens op groot skaal uit die samelewing verwyder is. Dis ’n slegte vergelyking, ons is nie post-konflik nie, en ons het reeds streng wetgewing, maar dit word nie goed toegepas nie, sê Venter. “Sy uitnodiging dat die kwessie ondersoek moet word, is nou ’n geleentheid, en ons weet dié gesprek gaan vuurwarm wees.”

Die oudweermagkolonel het later gesê hy was ontsteld oor ’n WhatsApp agterna wat die ronde gedoen het dat Ramaphosa landsburgers wil ontwapen. “Dit was ’n laagtepunt ná ’n inspirerende aand. Ek het van Cyril verstaan hy sien uit na ’n samelewing waar wapens nie meer nodig is nie. Hy het duidelik erken ons is nog lank nie daar nie.”

Die oudkolonel gaan nie Woensdag ANC stem nie. “Cyril is die ANC, maar die ANC is nié Cyril nie.”

Die 32-jarige Johan Erasmus van die groep Betereinders (hul motto: “Betereinders kla nie, doen goed, en werk saam met almal”) het vir die president gesê hy koop nie in op “hierdie wit slagoffermentaliteit” nie, dit frustreer hom, maar hy is bekommerd oor die retoriek dat grondonteiening sonder vergoeding die oersonde is, asook die nuwe soort swart nasionalisme wat nou na vore tree.

Agterna het Erasmus vir my gesê hy gaan waarskynlik vir Ramaphosa stem, al het hy nie sy vraag beantwoord nie.

“Ek het wel waardering vir sy begrip dat Afrikanernasionalisme ontstaan het uit die pyn van Britse onderdrukking.”

Ramaphosa het voorts gesê anders as Afrikanernasionaliste wil swart nasionaliste nie ander groepe onderdruk nie.

Van der Walt: “Ja, maar George Orwell sê anders in Animal Farm . . .”

Daar is nie nou omgekeerde apartheid nie, sê Erasmus. “Maar wanneer jy jouself net sien as slagoffer, deur swart pyn, kan jy naderhand die onderdrukker word sonder dat jy dit besef.”

Die Tuks-prof in entrepreneurskap, Jurie van Vuuren, het Donderdag met ’n lag gesê hy wag ook nog vir Rama­phosa om sy effe aspris-vrae te antwoord.

“Ek wou presies, stap-vir-stap, weet hoe hy grond gaan onteien sonder vergoeding. Ek het gehoop ek kan daar wegstap en sê die president is in beheer van die land en dat ons ’n visie het om stapsgewys vorentoe te gaan. Ek kon nie.”

Soos Ramaphosa in Pretoria erken het die ANC het weggedryf van sy nie­rassige karakter, het hy Vrydag voor ’n oorwegend bruin gehoor in die DA-beheerde Mitchells Plain die ANC se verbintenis tot nierassigheid beklemtoon en gesê dis hartseer dat bruin mense voel hulle word “teruggeskuif agtertoe”. Ook die ras-aftikblokkie op amptelike vorms is ’n apartheidspraktyk wat moet verdwyn.

Sy slotwoorde “ons is almal kinders van Suid-Afrika en kinders van Mandela”, is met ’n gejuig en ’n klomp amens begroet. Jy is ons volgende Mandela, jil ’n vrou in ’n ANC-kopdoek.

Die tannie langs my was minder beïndruk. “Daai een moet hy eers prove. Talk is cheap, nè, but money buys whisky.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.