Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Hanlie Retief op pad met Mmusi Maimane
Die pastoor met die X-faktor

Donderdag 05:45. Kaapstad-lughawe. Voor my, byna anoniem, wag Mmusi Maimane om deur die instap­hekke te gaan. Hy dra ’n Guess-jean, tekkies en ’n DA-baadjie. Saam met hom is sy bestuurder/lyfwag. Agter my fluister ’n vrou. “Dis mos Mmusi Maimane! Hy’s flippen hot!”

Toe sy Mmusi Maimane in die Dreyerstraat-mark langs Cavendish Square in Kaapstad raakloop, was Diane Honey oorstelp van blydskap. Hy het sy DA-T-hemp uitgetrek en vir haar gegee. Foto: Edrea du Toit

En so gaan dit “flippen hot” vir vier dae terwyl ons Maimane op sy verkiesingsveldtog volg. Kyk, hy teel nou wel nie buffels nie, is ook nie elke tweede dag geskok oor die toestand van ons land nie, maar dié pastoor is toe wel geseënd met die X-faktor.

Twee dae vroeër by die Dreyerstraat-mark langs Cavendish Square, Kaapstad, terwyl die Leader verkiesingspraatjies maak voor ’n groentestalletjie, gryp ’n tante met plooie hom ekstaties om die nek: “I’m so honoured to meet you! Do you know what I call you? I call you My Man!”

“Diane Honey, lovey,” stel sy haarself bekend “en hier op die Flats hou ons dit by blou, my skat.”

“Grandma, you made my day,” sê Mmusi en trek sy DA “South Africa For All” T-hemp net daar vir haar uit. “Dis nog skoon, ek het dit nou-nou net oor my hemp aangetrek.”

En so gaan dit aan. Vyf, ses optredes elke dag. Vandag Oos-Londen, vanaand Johannesburg, môre Pretoria. “Ek slaap gelukkig goed, soggens druk ek net die reset-knoppie in my kop.”

Ons begin half anders dink oor die DA. Daar’s nou meer swart mense.

06:05. Ons sit en wag by Hek C9. Heeltyd kom groet mense, unjani, hoesit my broe, sharp-sharp. Vriendelik, opgewek, nie die geoliede verhoog-Mmusi nie, die showtime-liggie brand nog nie.

Tussendeur vertel hy my hoe erg dit vir hom is, want oral op hierdie verkiesingsveldtog hoor hy hoe bekommerd mense oor die land is.

“Dis nie veronderstel om nodig te wees vir gewone mense om so te stres oor die politiek nie. Ek hoor dit by alle rassegroepe. Ons lewe nie in vrede hier nie. In ’n vliegtuig vra iemand my: Gee my een rede hoekom ek in die land moet bly. Ek sê maar altyd: Suid-Afrika was al hierdeur, en Suid-Afrika sal wéér hierdeur kom.”

Selfs met ’n dagbreekvlug soos dié hou Mmusi by sy gim-en-stiltetyd-roetine. Hy lees Bybel op ’n app op sy selfoon. Vanoggend was dit 1 Samuel, sien ek toevallig toe hy vir die instapkaartjie op sy foon klik.

Ouma, jy maak my dag, het Mmusi Maimane vir Diane Honey in die Dreyerstraat-mark langs Cavendish Square gesê nadat sy, oorstelp bly om hom te ontmoet, aan hom verklaar het: “Mmusi, you’re my man.” Hier trek hy sy T-hemp vir haar uit. Foto: Edrea du Toit

Ek vra hom oor die DA-steun wat volgens peilings ’n duik gaan vat. Hy sê: “Ons eie peilings sê anders”.

Mmusi skuif in by sitplek 2F, ek by 3F. Buite breek die dag. Ek gee Die Burger vensterlangs vir hom aan, by die berig waar Patricia de Lille die DA leuenaars noem oor hul telebemarkers sê sy is afgedank, en dat Maimane haar bewonder, hy het vir haar ge-SMS hy weet hoe dit voel om gemarginaliseer te word.

“Dit wys jou hoe oneerlik sy is,” sê hy en wys my die SMS op sy selfoon. Ons praat so half teen die venster, tussen die twee sitplekke deur.

Sy SMS was oor Patricia se struggle-rol, en sy het dit nou uit konteks gebruik. Hy wys haar antwoord: “Leader, thank you for your kind words. You have my word that I will never share it with everyone.”

Nog een: “Leader, my request is that the charges be withdrawn then I can resign.”

“Nou lieg sy in die openbaar daaroor.”

Hy is verby keelvol vir die Pat-warmpatat. Maar hulle wás aspris, sy is immers nie afgedank nie?

“Sy het twee mosies van wantroue in haar eie koukus verloor. Is dit nie billik om te sê haar kollegas het haar afgedank nie?”

’n Oomblik in ’n McDonald’s, besig om toespraaknotas af te rond. Foto: Elizabeth Sejake

Onder ons lê en blink die Suid-Kaapse kuslyn. “Ek is mal oor die see, as ek by kusstede oorslaap, gaan draf ek altyd langs die strand.”

Ek vra hom oor die kritiek dat hy nie ’n sterk leier is nie, soos dié van ’n bejaarde Engelse egpaar wat Dinsdag tydens sy verkiesingsblits in Cavendish Square vir my gesê het hulle stem nasionaal ANC, maar DA in die Wes-Kaap.

Hy huiwer. “Leierskap draai nie altyd om groot persoonlikhede nie. Partye met sogenaamde sterk leiers het meestal swak interne bestuurstelsels.

“Leierskap was in die verlede outokraties en voorskrywend. Nou is dit eerder konsulterend. Gaan lees The Myth of the Strong Leader.”

Hy lees drie, vier boeke op ’n slag, tans Benedict Anderson se Imagined Communities en Pieter-Louis Myburgh se Gangster State (die ANC se Vrystaat-manifes, spot hy). En ná ’n gesprek met die bekende politieke wetenskaplike Francis Fukuyama verlede week, ook The Origins of Political Order.

Sy gesig versag as hy oor Helen Zille praat, wat in City Press gesê het sy wil alles moontlik doen om hom die suksesvolste leier te maak wat ons land nog gesien het. “Die waardevolste ding wat sy my geleer het, is om vas te hou aan my oortuigings.”

Party mense meen die DA se taak is om minderhede te konsolideer, sê hy. “Nee, nee, die DA se werk is om Suid-Afrikaners te verenig rondom hul waardes. Dís my oortuiging. Ek het nie een oggend wakker geword en besluit ek wil ’n politikus word nie. Eerlikwaar, ek wou nooit. Dit gaan net oor een ding: my oortuigings.”

09:30. Betoging in Couttsstraat, Oos-Londen. Omtrent 200 mense – jonk, oud, meestal swart – sing en swaai plakkate voor die departement van landelike ontwikkeling. ’n Minibus stop met die mense van Gwatyu, ’n landelike gemeenskap wat al dekades lank probeer om titelaktes vir hul 88 plase te kry. Hulle rol ’n verkreukelde banier oop. ’n Oom met ’n sout-en-peperbaard druk met ’n knobbelhand op die DA-slagspreuk op sy T-hemp: 25 Years of broken promises. “Dis ons Gwatyu-mense se storie. Die DA help ons, al van Helen se tyd af. Ek was my lewe lank ANC,” stamp hy met sy kierie op die grond. “Nie meer nie. Broken promises.”

In hierdie Oos-Londenstraat met sy slaggate en rommel word die gronddebat lewendig. Dan arriveer Mmusi. Die mense jil, dis selfies, hulle dans, sing in Xhosa: Die tyd het gekom.

Kwanele Zonke (23) sê hy is al een uit sy ANC-familie wat DA stem. “My ouers aanvaar dit, ek soek ’n party wat vir die jonges hoop gee. Cyril is net ’n gesig en mens kan nie in een gesig glo nie.” Hy en ander jong DA-ondersteuners by Fort Hare word geteiken as hulle DA-T-hemde dra. “Hulle sê vir ons ons is te swart om wit te wees. Maar ek kyk vorentoe.” Nog een kom sê vir my hoe hy verlede week kliniek toe moes gaan nadat hy aangerand is.

Later oorhandig Angeline Matsheke, Gwatyu se verteenwoordiger, hul memorandum aan Dudu Nghona, waarnemende hoofdirekteur. Sy luister uitdrukkingloos, hande gevou, glitter op ’n geverfde vingernael, stadsvrou teenoor Angeline se landelike statigheid.

Ek hoor ’n staatsamptenaar opgewonde sê sy het Mmusi persoonlik gegroet, “en sy hand vasgehou”.

11:30. Fort Hare-kampus, Oos-Londen. In die biblioteek kyk die studente skaars op terwyl Mmusi met hulle probeer praat. Dis studenteraadsverkiesing. Die Pan Africanist Student Movement of Azania is groot op die kampus.

Sy sal miskien DA stem, sê ’n 18-jarige vrouestudent in maatskaplike studies. “Ons begin half anders dink oor die DA.” Haar vriendinne knik. “Dis dalk nie PC om te sê nie, maar die DA was altyd wit, maar dit lyk asof daar nou meer swart mense is.”

Vrydag 08:30. AfriForum-kantore, Centurion. Video-onderhoud met Kallie Kriel op Facebook. “Ek het my groen-en-oranje kouse spesiaal aangetrek vir julle,” skerts Mmusi.

Terwyl die poeierkwas oor Kallie se voorkop woerts, grap Kallie metroseksuele mans is nie skaam om voor mense gepoeier te word nie. Mmusi: “Maar ek is nog nie reg vir ’n manikuur nie.” Kallie: “Probeer dit, dis heel lekker!”

Nee, die DA is nie ANC-lite nie, antwoord hy ’n lid se vraag. “Die ANC is DA Lite.” Ramaphosa se New Dawn, die ANC se Gear-model, die Eskom-ontknoping, hernubare energie – alles DA-beleid, benadruk hy. “Die ANC begin nou eers hul ware kleure wys met die nasionaliseringpraatjies van die Reserwebank en grondonteiening.”

Ná die onderhoud praat Mmusi uit sy hart oor hoe die regte van minderhede deur meerderhede beskerm moet word, hoe hy kwotas verwerp, hoe hy as laerskoolkind in Dobsonville dit gehaat het om “Die Stem” te sing. Vandag baklei hy vir die reg om “Die Stem” te sing.

“As die EFF aandring dat ‘Die Stem’ moet waai, en die VF Plus sê dit moet bly, is ons in groot moeilikheid. Uitgestem. Net daar.”

10:30. McDonald’s, Centurion. ’n Stil oomblik voor ’n vergadering met Agri SA. Oor ’n glas lemoensap verduidelik hy hoekom ’n stem vir ’n klein party wél minder beteken. “Dis in die parlement se portefeuljekomitees waar die werk wat saakmaak, gebeur. ’n Party met net vier setels kan onmoontlik by al 30 portefeuljekomitees uitkom om ’n verskil te maak.”

Gisteraand halftien, ná nog vergaderings, het hy wegneem-vis gaan koop en alleen in hul huis in Johannesburg oorgeslaap. “Mense dink ek is ’n ekstrovert, maar ek is veel eerder ’n introvert.”

Om af te skakel voor slaaptyd, kyk hy TV-sportuitslae om iets te hê waaroor hy met sy sportmal seuntjie kan gesels. “As ek hom bel, weet ek minstens teen wie Liverpool gespeel het. Ons is Chiefs- en Liverpool-fêns en skree vir die Leeus, al speel van my vriende vir die Stormers. As ons ooit Uniegebou toe gaan, sal ons seker die Blou Bulle moet ondersteun, maar dít gaan lol.”

12:30. Johannesburg-middestad. Op ’n reuse-DA-banier staan: “Honour Mandela’s Vision to build One South Africa for all.” Niemand steur hulle aan die DA nie. Rastalokke word op die sypaadjie gedraai, ’n vrou skep water uit ’n slaggat om die R150-pruike wat sy verkoop glad te stryk.

Mmusi groet iemand met ’n hartlike druk. ’n Boemelaar wat in ’n asblik krap, sien dit. “Hoekom kry ek nie ’n druk nie?” Mmusi gryp hom om die lyf. Hulle lag vir mekaar. Sy naam is Notice.

“Mbeki was nooit hier nie, Zuma ook nie, Ramaphosa ook nie. Jy het gekom. Ek gaan vir jou stem.”

Notice, ge-notice.

Kameras en mikrofone en vrae oor hoekom Mmusi met annerman se Mandela ploeg. En vir die hoeveelste keer in hierdie paar dae staan Mmusi Maimane daar en jy hoor “diversiteit” en “one South Africa for all” en “ ’n job in elke huis” en hou op vaskyk in ras.

Die sweet tap hom af. En iewers word dit nie meer politiek nie. Dit word persoonlik.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Verkiesing 2019  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.