Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Hanlie Retief praat met Pieter Groenewald

‘Wil jy weet hoekom die Vryheidsfront Plus se steun meer as verdubbel het? Dis oor minderheidsgroepe soos die Afrikaner nou voos beskuldig is vir alles wat verkeerd gaan, ons het nou genoeg die pak gevat.

“Ons sê: Weet jy wat, ek wou nog altyd hierdie land gebou het. Maar nou kom die ANC-regering en blameer my vir als wat verkeerd gaan. Dis die wit mense wat die grond gesteel het, dis toe Jan van Riebeeck hier geland het . . . Alles wat die Afrikaner opgebou het, word nou verdag gemaak.

“En nou kom mense – já, DA-kiesers – na vore en sê ek en my voorvaders het hierdie land help opbou, hoekom moet ek die pak slae vat?

“En toe gaan trek hulle hul kruisies by die VF Plus.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, Vrydagaand voor die OVK se uitslagbord. Die party het sy steun meer as verdubbel. Foto: Deaan Vivier

Pieter Groenewald is vanaand nie net die gelukkigste man hier by die OVK se uitslagsentrum in Pretoria nie, dis die beste dag van sy 30 jaar lange politieke loopbaan. In 2014 het hulle 165 000 stemme gehad, teenoor die 414 000 vanjaar. Met byna ’n verdriedubbeling in steun is die VF Plus die (beskeie) suksesverhaal van die verkiesing.

Toe Groenewald ’n rukkie vroeër by die verkiesingslokaal se trappe afgestap het, het die groepie Vryheidsfronters hom met ’n luide handeklap verwelkom.

Heeltyd kom wens ANC-politici hom geluk. Ace Magashule in Afrikaans: “Jy lyk bly en opgepomp!” Groenewald: “Ek het baie minder probleme as jy, dis hoekom!”

Terwyl Magashule wegstap, en ja, hy lýk soos ’n moedelose oupatjie, leun Groenewald oor na ons toe: “Elke jaar voor ’n verkiesing kom sê die ANC’s: Ons hou van julle, maar dis nou koebaai, want julle gaan nie terugkom nie. En elke keer kom ons terug. En kyk nou net,” glimlag hy van oor tot oor. “Daar’s ’n salige tevredenheid in my, hoor!”

Hy glimlag ewe breed vir die libe­rales in die DA wat nou sê “good riddance” vir die sogenaamde regses in die DA wat nou oorgeswaai het VF Plus toe.

Dis ’n gerieflike manier om jul eie onvermoë om jul kiesers te behou, toe te smeer.

Vir hulle sê hy: “Kry julle nie skaam nie? Is dit nie ’n belediging vir jul eens lojale kiesers, dié wat julle as vanselfsprekend aanvaar het nie? Julle het gedink jul tradisionele kiesers is ’n gegewe. Julle het hulle onderskat.

“Om nou ook ewe slim te probeer wees en te sê ons is deel van die ultra-regse swaai wêreldwyd, die sogenaamde Trump-sindroom? Julle gebruik dit as verskoning vir jul power verkiesingsveldtog. Dis ’n gerieflike manier om jul eie onvermoë om jul kiesers te behou, toe te smeer. Ons is ook nie radikale regses nie, en ons groei is ook nie in reaksie op die radikale linkses, die EFF, nie. Ek verwerp daardie aanname met minagting.”

Dit was ’n baie intense verkiesing, knik hy. “As jy sukses wil hê, moet jy die regte ding op die regte tyd op die regte plek doen. Ons het.”

Hy het, deur die temperatuur onder Afrikaners en ander minderheidsgroepe fyn te lees. Die heel eerste ding wat Groenewald as nuwe leier gedoen het, was om ’n beroep op die kiesers te doen: Word weer trots op wie en wat jy is. Hou op verskoning vra.

“Mense was amper te bang om Afrikaners te wees. Max du Preez en Ruda Landman het in ’n stadium gesê hulle bedank by die Afrikaner. By wié, weet ek nie, want jy is wat jy is.

“Mense begin besef: jy mag wit wees, ’n minderheidsgroep, ’n Afrikaner – sonder om geëtiketteer te word as ’n rassis. Die ANC het effektief daarin geslaag om die Afrikaner te demoniseer. Apartheid is verklaar tot misdaad teen die mensdom. In sy laaste vraag-en-antwoordsessie het Cyril (Ramaphosa) vir ’n wit LP gesê omdat jy wit is, was jy deel van apartheid. Die ANC-strategie? Apartheid is ’n misdaad, as jy wit is, is jy deel van apartheid, so eintlik is jy ’n misdadiger. Wat ek nou begin doen het, is om blatant op te staan en te sê dis onaanvaarbaar. Maar nie met arrogansie nie, met respek.”

Vir die verkiesing gaan stof hy toe Tony Leon se slagspreuk af vir die VF Plus: Slaan terug.

Politieke ontleders noem die DA nie verniet die ANC Lite nie, reken Groenewald. “In hul dilemma om swart steun te probeer kry, gebruik hulle die verkeerde metodes deur die wit mense te beskuldig. Daar’s videotjies wat rondgaan van Mmusi Maimane wat lekker aangaan oor wit bevoorregting.

“En moenie ’n fout maak nie, die DA-reaksie op Elana Barkhuizen in Schweizer-Reneke het die ouens rooi laat sien. Die érgste is, dis die DA-jeugleiertjie, maar die leier, Mmusi, ondersteun hom, hy repudieer hom nie. En Mmusi is self skuldig, want met die Ashwin Willemse-geval op SuperSport het Maimane sommer dadelik die rassekaart gespeel, terwyl ek as leier van die VF Plus in albei gevalle gesê het kry eers die feite. Die VF Plus verwerp rassisme, maar jy maak darem nou sommer net ’n stelling, Mmusi!”

Ja, knik hy, Schweizer-Reneke was goud werd by die stembus vir Pieter Groenewald en sy Vryheidsfronters.

“Toe Schweizer en Willemse gebeur, het ek hulle dadelik in my kop geliasseer om in die verkiesing te gebruik.”

Sulke maklike onderskepdrieë wat die DA vir hulle aangegee het, nè, glimlag hy. “Hierdie is die begin, my kop hardloop al klaar met die 2021- en 2024-verkiesings.”

Hoe gaan die VF Plus keer dat die DA-verlooptes in 2024 nie weer wegloop nie? “Dis nou ’n groot verantwoordelikheid en uitdaging, hierdie, want daar is verwagtinge geskep. Ons sal moet lewer.”

Die politieke analis dr. Piet Croucamp sê Pieter Groenewald het ’n blaasvlam in sy maag, en dís hoekom die party sy groei kon verdubbel.

“Ek het ’n ander styl as ons vorige leier, Pieter Mulder. Bygesê, Pieter is al jare my mentor. Ek dink egter Suid-Afrika het op die punt gekom waar ons kiesers my styl aanvaarbaar vind.”

Verregs is lankal nie meer deel van die VF Plus se politiek nie, benadruk hy. “Mense maak die fout dat die VF Plus net ’n klomp ou KP’s is. Die geharde KP’s het nie in 1994 of daarna gaan stem nie. Ons 1994-kiesers was meestal ou NP’s wat vir genl. Constand Viljoen ondersteun het. Dis hoekom hulle in 1999 so maklik oorgespring het DA toe.”

Die VF Plus word daarvan beskuldig dat hulle vreespolitiek bedryf, sê hy. Dis egter die DA wat kiesers probeer wegrokkel het van ander partye deur te sê stop die ANC en die EFF. “En, die ergste, moenie jou stem mors op kleiner party nie. Die kiesers het nou vir die DA gesê moet ons nie probeer mislei nie, ek sal stem vir wie ek wil, en my stem is nié vermors nie, ons hét ’n proporsionele kiesstelsel.”

Hy stem nie met kommentators saam wat die grondkwessie as rede voorhou vir die VF Plus se sukses nie.

“Dit was die EFF en BLF se vreespolitiek: julle het ons grond gevat, ons gaan dit nasionaliseer, wat ons laat reageer het. Cyril Ramaphosa het ook in die parlement gesê die grond is gesteel en dit moet teruggegee word. Daardie narratief is geskep, en nie deur ons nie.”

Almal wou van 1994 af ’n sukses gemaak het van Suid-Afrika, herinner hy. “Daar het niks oorgebly van die reënboognasie nie. ’n Groot ontnugtering het ingetree. Ek is die enigste politikus wat in die parlement opgestaan het en vir die president gesê het doen weg met swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie. Daar is tans drie keer meer swart studente wat gradueer as wit studente. So, hoekom wil jy regstellende aksie hê? Ons sê reguit ons het net een kriterium en dis meriete.”

Daarenteen was die DA se beleid skisofrenies.

“Dán sê hulle hul SEB is op ras gebaseer, dan: h’m, nie eintlik nie. Daar is tog net een kriteria, en dis ras. Ons is nie bang om politiek inkorrek te wees nie. Die ander is té skaam om dit te sê, bang hulle verloor ondersteuners. Ek weet jy moet maksimum ondersteuners kry, maar wees ten minste ook eerlik.”

Kort voor die verkiesing het hy ’n groep meningsvormers in die Paarl toegespreek. Ná die tyd het “daai liberale Kaapse DA’s en oud-NP’s” reguit vir hom gesê hulle stem provinsiaal vir die DA, maar nasionaal vir die VF Plus. “Die tendens sien ons in die resultate, oral in die land. Dis dramaties.

“Ek hou nie daarvan nie, maar ek kan verstaan kiesers sê: Kom ons hou die ANC uit die Wes-Kaap. Ek het ook gesê die VF Plus wil nie toesien dat die ANC en EFF die Wes-Kaap saam regeer nie.”

Hy lag en sê hy’t pas gehoor Peter Marais is nou in die Wes-Kaapse wetgewer. “Ek is bly, want as daar een man is wat die DA op sy tone sal hou, is dit Peter Marais!”

Mense het hom heeltyd gevra wat’s die strategie agter Marais, grinnik Groenewald. “Daar was g’n strategie nie, ons het geadverteer, toe doen hy aansoek. As oudburgemeester en -premier, was hy verreweg die beste kandidaat.”

Die VF Plus het waardevolle lesse sedert 2014 in koalisiepolitiek geleer, sê hy. Hulle staan vas om nie met die EFF of die ANC in 'n koalisie te gaan nie. “Ek is reguit daaromtrent. Ek kan nie met ’n party saamwerk wat gaan sit as die Afrikaanse deel van die volkslied gesing word nie. Dis disrespekvol. Wat het van respek in ons land geword?

“Maar daar is alternatiewe vir koalisies. Ons kan doen wat die EFF doen, deur op ’n ad hoc-basis saam te werk.”

Die gevaarligte oor die Verkiesingskommissie het al begin wys toe hulle Black First Land First as party toegelaat het.

“Dis ’n blatante ignorering van die Verkiesingswet. Die dubbelstemmery en probleme by stemlokale sal aandag moet kry. Sy Mamabolo (OVK-hoof) kan nie hier kom staan en sê dis ’n ‘election of magnitude’ nie. Onaanvaarbaar. As dit so ’n ‘magnitude operation’ is, sorg dat jy streng by die reëls bly.”

Woensdagaand nege-uur, toe die stembusse sluit, het Pieter Groenewald in sy huis in Stilfontein gesit en die ure aftel voor die eerste uitslae uitkom.

“So . . .” hy glimlag en lyk baie verleë, “as jy rêrig wil weet wat ek toe gedoen het . . . uhm, ek kyk nogal na Game of Thrones . . . en was júis so drie, vier episodes agter. Teen eenuur toe ek die oorlog sit en kyk in Game of Thrones . . . toe kom die eerste uitslag uit.”

Koster. En hulle klop die DA.

Sy glimlag wys verligting, dit wys oorwinning.

“En die uitslae kom deur, en hulle kom deur. So mooi. En toe weet ek, iets is hier aan die gebeur . . .”

Meer oor:  Pieter Groenewald  |  Vryheidsfront Plus  |  Ff Plus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.