Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Hattingh groet politiek met 10de Twee Oseane-medalje

Die 70-jarige Chris Hattingh, ’n DA-lid in die nasionale raad van provinsies in die nasionale vergadering, het Saterdag sy tiende Twee Oseane-wedloop oor 56 km in Kaapstad voltooi en só gekwalifiseer vir sy permanente blou nommer (5797).

Chris Hattingh (70) Saterdag in aksie in die Twee Oseane-wedloop oor 56 km in die Kaap.

Hattingh, wat met die algemene verkiesing op 8 Mei uit die aktiewe politiek tree, het die eerste van sy tien medaljes 39 jaar gelede voltooi.

“Ek het destyds ses silwermedaljes verower, maar daarna die sewende een net-net gemis.

“Dit het my seker ’n bietjie depressief gemaak en ek het toe vir jare van die Twee Oseane weggebly.

“In 2012 het ek teruggekeer, die Vrydag die lang veldpad-wedloop oor 22 km gedoen en die volgende dag die 56 km-wedloop. Dit was ’n bietjie te veel,” het Hattingh gesê.

Hy het Saterdag die afdeling vir groot-grootmeesters (vir atlete ouer as 70 jaar) gewen met ’n tyd van 6:04:20.

Daar was altesame 27 atlete in dié afdeling. “Die kompetisie is taai,” sê hy laggend.

Hattingh se beste Twee Oseane-tyd is 3:42:10 (1985).

Die dag van die wedloop is seker nie goed vir jou lyf nie, maar die opbou daarna is goed vir jou gesondheid.

Hy sê hy gaan beslis nie ophou hardloop nie.

“Die dag van die wedloop is seker nie goed vir jou lyf nie, maar die opbou daarna is goed vir jou gesondheid.”

Hattingh het die Comrades 16 keer tussen 1978 en 2018 voltooi. In dié wedloop het hy ook ses silwermedaljes gewen en spog met ’n haastige beste tyd van 6:53:54.

Hattingh in sy jonger dae in aksie in die Twee Oseane.

Hy hardloop nou al meer as 40 jaar vir die McArthur-marathonklub in Potchefstroom. Dié klub is genoem na Kenneth McArthur, ’n Potchefstroomse polisieman wat in 1912 Suid-Afrika se eerste Olimpiese marathon-kampioen geword het.

Hattingh, wat 20 jaar heeltyds in die aktiewe politiek was, was vir 16 jaar die DA-leier in Noordwes. Hy is sedert 2015 ’n lid van die nasionale raad van provinsies.

Hy en sy vrou, Ina, keer permanent terug na Potchefstroom waar hy grootgeword, lank ’n apteker was en in 1998 ’n stadsraadslid geword het.

Hattingh sê hy weet nog nie waarmee hy hom ná sy aftrede gaan besig hou nie, maar oorweeg ’n paar moontlikhede.

“Ek kan myself nie sien as iemand wat soggens opstaan en nie weet wat ek vandag gaan doen nie.”

Hattingh is ’n ou bekende in Suid-Afrikaanse sport. Hy was baie jare lank betrokke by die toets vir verbode middels en het drie termyne in die direksie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport gedien.

Onder die atlete het hy bekend gestaan as “die oom wat piepie in sy tas ronddra”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.