Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Koalisie in Nelson Mandelabaai ‘werk nie’

Pres. Cyril Ramaphosa sê koalisieregerings werk nooit goed nie, en slegs een hoof- politieke party is nodig om te regeer.

Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa kom Sondag by die George Botha-gemeenskapsaal in Bethelsdorp, Port Elizabeth aan. Foto: Lulama Zenzile

Ramaphosa het die opmerking Sondag in ’n stampvol George Botha-gemeenskapsaal in Bethelsdorp in Port Elizabeth gemaak.

Hy sê die ANC is tans “vas” in ’n koalisieregering in die Nelson Mandelabaai-metro, wat nie werk nie.

Oscar Mabuyane, voorsitter van die ANC in die Oos-Kaap, het Sondag vir ’n derde keer die afgelope week die opmerking gemaak dat die koalisieregering in die metro nie werk nie en die ANC alleen moet regeer.

Die ANC‚ AIC en United Front werk tans saam as koalisieregering, met die UDM se Mongameli Bobani as burgemeester, nadat hulle verlede jaar vir Athol Trollip en sy DA-koalisieregering op ’n raadsvergadering uitgestem het.

Mabuyane het vroeër die week op ’n vergadering met verskeie burgemeesters in die Oos-Kaap gesê die metro is ’n swak presteerder met ’n afwaartse neiging.

“Dit is ’n metro wat ’n model vir ander munisipaliteite behoort te wees, maar is ’n swak presterende munisipaliteit.

“Duidelik werk die koalisieding nie, want hulle kan nie eers basiese vereistes haal nie.”

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa en Oscar Mabuyane (regs), voorsitter van die ANC in die Oos-Kaap, groet die besoekers by die George Botha-gemeenskapsaal in Bethelsdorp. Foto: Lulama Zenzile

Bobani wou nie op Mabuyane se uitlatings kommentaar lewer nie.

Intussen het Ramaphosa, wat in die stad was vir die ANC se verkiesingsveldtog, ook erken die metro het tans baie uitdagings, maar die ANC werk aan ’n plan om sake reg te stel.

“Ons gaan skoonmaak. Ons gaan seker maak ons maak skoon en roei korrupsie uit op munisipale vlak, provinsiale vlak en nasionale vlak.”

Volgens hom is korrupsie ’n onderwerp wat altyd na vore kom wanneer hy mense by hul huise besoek.

“Gewone mense, in hul huise, sê vir my, ‘president, raak ontslae van korrupsie, daardie (mense) wat van die regering geld steel, julle moet met hulle afreken,’ en dit is hoekom ons korrupsie sal uitroei.”

Ramaphosa sê ook hy is deeglik bewus van die vlaag van misdaad en geweld wat in Port Elizabeth en land heers.

“Daar is baie redes hoekom dit voortduur. Daarom het ons op kabinetsvlak ’n strategie gevorm om misdadigers agter tralies te kry.”

Hy het verwys na die teenbende-eenheid wat vroeër in Kaapstad op die been gebring is en toe na Gauteng uitgebrei is, wat volgens hom, reeds groot suksesse teen bendes behaal het.

’n Soortgelyke eenheid is ook na Port Elizabeth se bendegeteisterde gebiede op pad, het Ramaphosa beloof.

Hoofman Joseph Kreeling
Hoofman Joseph Kreeling oorhanding Sondag ’n onderbaadjie as geskenk van die Khoisan aan pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Lulama Zenzile

Hy sê dit is belangrik om gemeenskappe veilig te hou en ewe belangrik om die land misdaadvry te maak, aangesien dít Suid-Afrika vir beleggers aanloklik sal maak.

“Terwyl misdaad heers, sal beleggers nie na die land toe kom nie.”

Ramaphosa sê hy besef misdaad is oor die hele land ’n probleem en het beloof meer polisiebeamptes sal opgelei word om die wetsgehoorsame burgers te beskerm.

Hy meen met 9 miljoen mense in die land werkloos, is werkloosheid een van die redes vir misdaad en die ANC se fokus is daarop om werksgeleenthede te skep, veral deur beleggers na die land te lok.

“Verlede jaar het ons ’n beleggerskonferensie gehou waar ons bykans R300 miljard in beleggings ingesamel het om na Suid-Afrika te kom, om werksgeleenthede te skep.

“Ek wil hê van daardie geld moet na die Oos-Kaap kom, sodat werksgeleenthede hier geskep kan word.”

Ramaphosa het die saamtrek afgesluit deur te sê die ANC erken hulle het foute gemaak, maar ook goed gedoen en Suid-Afrika verander.

“Ons het geleer uit ons foute. Ons sê vir ons mense, julle kan ons wéér vertrou om die land vorentoe te vat.”

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Verkiesing 2019  |  Koalisies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.