Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Korrupsie in die visier

Die regerende alliansie en die DA besef klaarblyklik dat korrupsie ’n teer punt onder kiesers is.

Hulle het dié tamboer Woensdag by Werkersdag-vieringe landwyd behoorlik geslaan.

Mmusi Maimane, DA-leier, het in Century City, Kaapstad, gesê die ANC se beste tak is in die hemel en die volgende tak van die ANC gaan in die Pollsmoor-gevangenis wees.

Mmusi Maimane, DA-leier, op die party se Werkersdag-saamtrek in die Hill-song-kerk by Century City in Kaapstad. Foto: Philda Essop

Hy sê die komende verkiesing gaan oor ’n keuse.

“Dit is ’n keuse teen korrupsie en ’n keuse vir ’n toekoms vir die land. Dit is ’n keuse oor of ons ’n gekaapte polisiediens of ’n eerlike en profes­sionele polisiediens wil hê.

“Dit is ’n keuse of ons verdeeld wil wees op grond van ras en of ons een Suid-Afrika vir almal wil bou.

“Wanneer 10 miljoen van ons mense elke dag wakker word en nie weet waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom nie omdat hulle nie die waardigheid van werk het nie, dink ek iets is verkeerd.

“Die misdaad van die afgelope 25 jaar is nie net korrupsie nie, maar dat te veel Suid-Afrikaners nie werk het nie. Dit is tyd vir verandering.”

Hy sê die regering se geld en idees het opgeraak.

“Nou wil hy van almal steel. Hy het dus ’n nuwe plan bewimpel – die nasionalisering van die Reserwebank.

“Hy wil ook gesondheidsorg nasionaliseer. Weet julle wat hy volgende gaan doen? Hy gaan die mense se pensioene nasionaliseer,” sê hy.

Volgens hom is die ANC besig om dood te gaan.

“Hy is gesteel, hy is klaar. Die vraag is, is dit nou of is dit later. As dit later is, gaan hy nog skade aanrig. As dit nou is, kan ons die land nog herbou.”

Pres. Cyril Ramaphosa spreek ’n Werkersdag-byeenkoms van Cosatu in die Raymond Xulu-stadion in Durban toe.Foto: Twitter

Pres. Cyril Ramaphosa het in die Durbanse township Clermont op ’n saamtrek van die vakverbond Cosatu gesê daar sal streng opgetree word teen diegene wat hulle aan korrupsie skuldig gemaak het.

Hulle sal met die volle mag van die reg te doen kry.

“Dié korrupsie is nie net korrup-sie teen die regering nie, maar korrupsie teen die mense van Suid-Afrika.”

Hy het ook van die geleentheid gebruik gemaak om Cosatu se lede heuning om die mond te smeer.

“Cosatu is die spies en die skild van die werkersklas. Jul teenwoordigheid hier wys hoe sterk en vol lewe Cosatu nog is.

“Jul belange as werkers moet voorop gestel word in alles wat ons doen. Die land sal nie ’n duim vorentoe beweeg as dit nie vir julle is nie.

“Júlle laat Suid-Afrika werk. Julle laat die land se wiele draai.”

Volgens Ramaphosa is die eenheid in die regerende alliansie baie belangrik en dit wat verwydering tussen die vennote bring, moet ter wille van eenheid opgelos word.

Hy het Cosatu ook geloof vir die rol wat hy gespeel het in die daarstelling van ’n verpligte minimum loon. “Dit is jul oorwinning,” sê Ramaphosa.

Hy doen ook ’n beroep “op mense in die landbousektor” om hul werkers toe te laat om te gaan stem.

Hy het nie meer besonderhede gegee nie, maar sê daar sal streng opgetree word teen oortreders in dié verband.

“Dit is hul (die plaaswerkers se) demokratiese reg om te gaan stem en hulle mag nie gekeer word om dit te doen nie,” sê hy.

Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC, in Kaapstad. Foto: Llewellyn Prince

Jeremy Cronin, voormalige adjunk-sekretaris-generaal van die SAKP – die derde alliansievennoot – sê ’n beduidende verkiesingsoorwinning vir die alliansie onder Rama­phosa se leiding is noodsaaklik om die “skurke en verraaiers” wat miljarde rande deur staatskaping verduister het, te vervolg en tronk toe te stuur.

Cronin, ook adjunkminister van openbare werke, het in die Athlone- sta­dion in Kaapstad gesê Suid-Afrika het onder Ramaphosa se leiding reeds die “gemors” van staatskaping en korrupsie begin opruim.

“Die skoonvee-momentum moet nou gekonsolideer en bespoedig word. Om ANC te stem, is die eerste boodskap wat ons moet oordra.

“Die skurke en verraaiers moet tronk toe. Die miljarde rande wat gesteel en onwettig na Dubai en elders gestuur is, moet teruggebring word.”

Hy was saam met Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, en Freda Oosthuysen, Cosatu se tesourier-generaal, die hoofsprekers by die geleentheid.

Ons gaan geld spaar deur die parlement van Kaapstad na Pretoria te skuif. Ons gaan die departemente verminder.
Julius Malema

Mashatile sê mense moet op 8 Mei in groot getalle vir die ANC stem om ’n oorwinning van tussen 60% en 65% te verseker.

“Ons soek ’n beslissende oorwinning, ook hier in die Wes-Kaap. Die Wes-Kaap moet terugkom ANC toe. Ons is moeg daarvoor om hier deur die DA regeer te word.”

Hy het belowe dat die ANC ná sy oorwinning sal verseker dat nasionale gesondheidsversekering (NGV) in werking gestel word.

Julius Malema, EFF-leier, het in Alexandra, Johannesburg, weer op kiesers se sakke gefokus.

Hy sê elke werker sal onder ’n EFF-regering ’n aandeelhouer word van die maatskappy waarvoor hy of sy werk.

“As ons die grond kry, het ons die maatskappye. Dit is dan ons s’n en moet aan die werkers behoort. Daar moenie ’n fabriek, myn of bank of enige ekonomies strategiese sektor wees waarvan die werkers nie aandeelhouers is nie.

“Werkers maak die maatskappy wat hy is en moet aandele (daarin) hê. As jy vir die Pick n Pay in Sandton werk, moet jy ’n aandeelhouer wees. Jy sal buiten jou salaris dividende kry.”

Hy het ook belowe dat hy die kabinet sal verklein en van adjunkministers ontslae sal raak.

“Ons gaan geld spaar deur die parlement van Kaapstad na Pretoria te skuif. Ons gaan die departemente verminder.

“Hoekom is daar ’n minister van hoër onderwys én ’n minister van wetenskap en tegnologie? Wetenskap en tegnologie is dan hoër onderwys.”

IOL berig Malema het ook belowe dat inwoners van informele buurte wat van gesteelde elektrisiteit gebruik maak nie gestraf sal word nie. – Philda Essop, Sarel van der Walt, Llewellyn Prince en Bonolo Selebano

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Jeremy Cronin  |  Julius Malema  |  Mmusi Maimane  |  Century City  |  Clermont  |  Anc  |  Eff  |  Korrupsie  |  Politiek  |  Verkiesing 2019  |  Da  |  Sakp  |  Verkiesingsveldtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.