Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
‘Korrupsie, kaping haal ANC nou in’

Vanjaar se verkiesing sal onthou word vir die lae stempersentasie.

Dit is die mening van Theo Venter, Netwerk24 se verkiesingsontleder, en emeritus-professor Pieter Labuschagne van Unisa.

Die WNNR en die SAUK het teen Donderdagmiddag voorspel die uiteindelike stempersentasie sal slegs 65,03% wees. Dit is die laagste sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Die uitslagbord in die OVK-uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Felix Dlangamandla

Die WNNR en die SAUK voorspel die ANC sal uiteindelik 57,63% van die stemme op hom verenig teenoor die DA se 20,96%, die EFF se 10,12%, die IVP se 3,53% en die VF Plus se 2,67%.

Die ANC se meerderheid in die vorige algemene verkiesing in 2014 was 62,15%.

Hoewel sy steun afgeneem het, meen kenners dit sal genoeg vir pres. Cyril Ramaphosa wees om die wolwe van sy deure weg te hou. Die situasie sou anders gewees het as die steun 55% of minder sou wees.

Die VF Plus het in die vorige verkiesing net 0,9% steun geniet en sy sterk vertoning vanjaar het baie waarnemers verras.

Intussen het die Verkiesingskommissie, wat onder skerp kritiek deurloop oor sy hantering van die verkiesing, Donderdagmiddag aangekondig 20 mense wat daarvan verdink word dat hulle die Kieswet oortree het deur meer as een keer te stem, is deur die polisie in hegtenis geneem.

Alle aanduidings Donderdagaand was dat die DA die Wes-Kaap sou behou.

In Gauteng was die uitslag op ’n naaldpunt  hoewel daar tekens is dat die ANC dié provinsie sal behou.

Venter sê wat vandeesweek in Suid-Afrika gebeur het, kom ooreen met wat in lande soos Brasilië gebeur het in reaksie op grootskaalse korrupsie.

“Die ANC betaal nou die prys vir staatskaping en korrupsie,” sê hy.

Die swart kiesers se protes daarteen was om Woensdag van die stembus weg te bly, terwyl baie wit kiesers hul lojaliteit (van die DA na die VF Plus) verskuif het.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê as die ANC nie ’n volstrekte meerderheid behaal nie, is die kanse baie skraal dat hy met die DA of die EFF in koalisie sal gaan.

Venter sê die fokus sal nou skuif na die munisipale verkiesing in 2021. Hy meen daar sal weens die ontevredenheid onder swart kiesers in die aanloop tot dié verkiesing ’n toename in dienstebetogings wees.

Labuschagne sê daar is ’n ontnugtering by kiesers. Dit word gesien in die feit dat min kiesers vir die verkiesing geregistreer het, die lae stempersentasie én die groot aantal bedorwe stembriewe.

“Jong kiesers verkies metodes buite die gewone kiesstelsel, terwyl die ouer kiesers politieke partye straf deur van die stembus weg te bly.

“Die land se kiesers is nie so geesdriftig soos pres. Ramaphosa dink nie. Die politieke partye het hul aantrekkingskrag vir die kiesers verloor,” sê Labuschagne.

Roland Henwood, politieke ontleder aan die Universiteit van Pretoria, meen die ANC sal ’n baie klein volstrekte meerderheid in Gauteng behaal.

As dit nie gebeur nie, sal die ANC met kleiner partye (en nie met die EFF nie) ’n koalisie vorm.

“Wat wel duidelik is, is dat die ANC voortaan ‘versigtiger’ in Gauteng moet regeer. Die ANC sal besef die opposisie gaan dinge in die aanloop tot 2021 (met die munisipale verkiesing) vir hom moeilik maak,” sê hy.

Hy meen die kiesers het ’n sterk boodskap aan die ANC gestuur dat hy sy sokkies sal moet optrek voor daardie verkiesing.

“Hy sal homself ook moet afvra of hy die regte leierskorps het om hom in dié verkiesing te lei,” sê Henwood.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê as die ANC nie ’n volstrekte meerderheid behaal nie, is die kanse baie skraal dat hy met die DA of die EFF in koalisie sal gaan.

“Hy sal eerder met kleiner partye ’n koalisieregering vorm.”

Meer oor:  Wnnr  |  Sauk  |  Theo Venter  |  Anc  |  Politiek  |  Verkiesing 2019  |  Stemuitslae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.