Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
KYK: Cyril stuur sy ministers Alex toe om te help

Pres. Cyril Ramaphosa het verskeie van sy ministers opdrag gegee om teen volgende week met die gemeenskap van Alexandra in Johannesburg oor hul probleme te praat.

Pres. Cyril Ramaphosa (in die deur) verlaat Donderdagmiddag die ANC se mobiele verhoog in Alexandra nadat hy ANC-ondersteuners toegespreek het. Foto: Sarel van der Walt

Die ANC-leier het dié woongebied Donderdagmiddag besoek as deel van die party se verkiesingsveldtog voor die algemene verkiesing op 8 Mei.

Alexandra, of Alex soos hy onder sy inwoners bekend is, was die afgelope week ’n ernstige twispunt tussen die ANC en die Johannesburgse metro wat deur die DA gelei word. Die ANC beskuldig die DA van swak dienslewering, terwyl die DA sê die ANC het in die meer as 20 jaar dat hy in beheer van die metro was, nie veel gedoen het om dié mense te help nie.

Die DA beskuldig die ANC onder meer daarvan dat R1,7 miljard wat vir die Alexandra-hernuwingsprojek begroot is, weg is en die projek nie uitgevoer is nie.

Die Alex-inwoners eis al die laaste week sonder sukses dat Herman Mashaba, DA-burgemeester van Johannesburg, hulle moet toespreek.

David Makhura, Gautengse premier, het Dinsdag met die inwoners van Alexandra gaan praat en gesê ’n volledige oudit sal gedoen word oor die Alexandra-hernuwingsprojek om vas te stel wat presies van dié geld geword het.

Ramaphosa het onder groot toejuiging by die Alexandra-sportstadion aan ’n paar duisend ANC-ondersteuners gesê die ministers, onder wie Bheki Cele, minister van polisie, moet teen volgende week reeds met mense begin praat oor hul probleme.

Pres. Cyril Ramaphosa spreek Donderdagmiddag ANC-ondersteuners in Alexandra toe. Foto: Felix Dlangamandla
Pres. Cyril Ramaphosa besig om ANC-ondersteuners Donderdagmiddag in Alexandra toe te spreek. Foto: Felix Dlangamandla

Die ANC-leier sê hy gee Mashaba ’n paar dae tyd om amptenare van die metro by die gebied in te stuur om dinge reg te ruk.

“Mashaba-hulle moet dringend iets doen aan al die probleme. Ons as leiers moet altyd luister na die swaarkry en die pyn van ons mense en iets daaraan doen. Ons moet vir ons gemeenskappe werk en nie vir ons eie sakke nie. Ek wil nie meer verskonings hoor nie – dit wys vir my jy doen nie jou werk nie,” sê Ramaphosa.

“Ek weet julle is moeg vir slegte dienslewering en julle wil beter dienste hê. Julle wil nie rioolvuil in die strate sien afvloei nie. Ek het dit vandag met my eie oë hier in Alex gesien. Alex is op die oomblik baie vuil en dit is nie wat julle wil hê nie.”

Kinders op ’n muur van die Alexandra-stadion in Johannesburg waar pres. Cyril Ramaphosa Donderdag ’n ANC-verkiesingsbyeenkoms toegespreek het. Foto: Felix Dlangamandla

Die president sê hy weet daar is ’n groot behoefte aan huisvesting in Alexandra en die regering gaan help om dié nood te verlig. Die ANC het reeds 5 miljoen huise laat bou en hy beoog nog 1 miljoen.

“Ons weet ook julle is moeg vir die onwettige besetting van die huise. Julle het die volste reg om te betoog, maar as julle dit doen, doen dit op so ’n manier dat niemand seerkry of iemand anders se eiendom beskadig word nie.”

Alexandra is bekend daarom dat daar dikwels mense langs die Jukskeirivier verdrink wanneer dié rivier, wat deur die gebied vloei, afkom.

“Mense moenie onder die vloedlyn bou nie omdat te veel mense se lewe in gevaar gestel word,” sê die ANC-leier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.