Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
KYK: DA-kandidate teken belofte oor werkskepping

Die DA se premierskandidate het Dinsdag ’n belofte onderteken om honderdduisende poste te skep in die provinsies wat hulle beheer en billike toegang tot werkgeleenthede te waarborg.

Mmusi Maimane, DA-leier, het die oggend in Kaapstad gesê die party glo hy sal sy suksesse in die Wes-Kaap in ander provinsie kan herhaal.

Alan Winde, DA-premierskandidaat in die Wes-Kaap, Mmusi Maimane, DA-leier, Solly Msimanga, Gautengse premierskandidaat, Patricia Kopane, Vrystaatse premierskandidaat, Andrew Louw, Noord-Kaapse premierskandidaat, en Joe McGluwa, Noordwes se premierskandidaat, staan Dinsdag voor die DA se jongste reklamebord in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

“Deur dié belofte te onderteken, gee ons premierskandidate die kiesers iets tasbaar waarvoor hulle verantwoordbaar gehou sal word. Ons sal nooit die vertroue van ons kiesers misbruik nie en beslis nie ’n spul skelms op die kiesers loslaat sodra hulle vir ons gestem het nie.”

Agt van die DA se premierskandidate het in ’n koffiewinkel in die middestad die belofte onderteken en ’n nuwe reklamebord bekend gestel waarop gevra word wie die ANC se premierskandidate is.

Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse kandidaat, kon weens die oorstromings in die provinsie nie die geleentheid bywoon nie en het reeds die belofte onderteken.

Die premierskandidate onderneem om rompslomp te verminder wat werkskepping kelder en gratis internettoegang aan werksoekers uit te brei.

Internskapsprogramme vir matrieks sal ook uitgebrei word sodat hulle nuwe vaardighede kan aanleer.

Provinsies sal ook ’n enkele handelbevorderingsagentskap soos Wesgro in die Wes-Kaap op die been bring om beleggings te lok.

Kandidate verbind hulle ook tot die opknap van paaie en teerpaaie in landelike gebiede.

Mmusi Maimane, DA-leier, staan Dinsdag voor die DA se nuwe reklamebord in die Kaapse middestad. Foto: Jaco Marais

Verder is hulle verbind tot die provinsiale bestuur van die polisie en spoordienste, sowel as die aanwys van ’n provinsiale polisie-ombudsman om onder meer seks vir werk te bekamp.

Volgens Maimane het Suid-Afrika 25 jaar van verbreekte beloftes – “soos ’n beter lewe vir almal” – gehad. Dit het net tot ’n beter lewe vir sommiges gelei.

“Ons wil hê kiesers moet weet wat dié kandidate sal doen as hulle tot premiers verkies word. Die kernfokus van elke DA-regering sal werkskepping wees. Die DA is vol vertroue dat hy ’n werk in elke huis kan bied indien hy verkies word.”

Hy het daarop gewys dat sowat 41% van Suid-Afrikaanse huishoudings in 2017 nie ’n enkele broodwinner gehad het nie en van toelaes afhanklik was, terwyl 74% van huishoudings in die Wes-Kaap minstens een broodwinner gehad het.

Maimane sê die DA het sy premierskandidate sewe maande gelede ná ’n strawwe keuringsproses en kortlys bekend gestel sodat kiesers kan weet vir wie hulle stem.

Hy het die ANC uitgedaag om – met net twee weke oor voor die verkiesing op 8 Mei – sy premierskandidate bekend te maak.

Ebrahim Rasool, ANC-verkiesingshoof in die Wes-Kaap, sê egter die party se gebruik om sy premierskandidate bekend te maak, is tien jaar gelede beëindig.

“Ons is nie ’n party wat vroegtydig kandidate aankondig nie en dit is nie vir ons ’n kwessie nie. Die DA ly groot verliese nadat Alan Winde vroegtydig as premierskandidaat bekend gestel is en dit het hulle gedwing om na foefies en bemarkingstaktieke te gryp.”

Agt van die DA se premierskandidate het Dinsdag in aanloop tot die verkiesing saam met Mmusi Maimane, DA-leier, ’n belofte om werkskepping te bevorder onderteken. Van links is Zwakele Mncwango, KwaZulu-Natal se kandidaat, Joe McGluwa, Noordwes se kandidaat, Andrew Louw, Noord-Kaapse kandidaat, Alan Winde, Wes-Kaapse kandidaat, Maimane, Solly Msimanga, Gautengse kandidaat, Patricia Kopane, Vrystaatse kandidaat, Jacques Smalle, Limpopo se kandidaat, en Jane Sithole, Mpumalanga se kandidaat. Foto: Jaco Marais

Volgens Rasool het die DA se keuse van Winde as premierskandidaat bo Bonginkosi Madikizela, provinsiale leier, aan veral swart kiesers gewys “dat hulle net stemvee is”.

Maimane is ook gevra oor die klagte van Patricia de Lille, leier van Good, by die Verkiesingskommissie (OVK) oor die DA wat aanvoer dat sy as burgemeester van Kaapstad afgedank is en die bevinding dat die party haar om verskoning moet vra.

Hy sê die party wil dié bevinding laat hersien en die DA sal “wag op wat in die verkiesingshof gebeur”.

Die DA is op 17 April beveel om De Lille binne drie dae verskoning te vra en op te hou om te beweer dat sy as DA-burgemeester afgedank is.

Intussen het De Lille aangedui dat sy aansoek gaan doen om ’n hofinterdik teen die party om te keer dat “leuens” oor haar verder versprei word.

Maimane sê dit is enigiemand se reg om hulle na die hof te wend en mense is welkom om dit te doen.

“Ons is gemaklik met dié saak en sal hulle in die hof sien. Sou ’n mens dus nie kon sê dat kiesers in Gauteng die ANC afgedank het deur hom uit te stem nie? Laat ons sien wat in die verkiesingshof gebeur.”

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Da  |  Mmusi Maimane  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.