Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
KYK: Stemdag kom en die middag proe na Jägermeister

Elvis is springlewendig en is ’n DJ in die onderdorp in Bloemfontein.

Hier in die Jy weet mos-kroeg in Watkeystraat word aan die vooraand van die verkiesing gekuier en gesokkie asof stemdag die eindtyd is.

As daar iets soos 'n Christelike party is, sal hy vir hulle wou stem, sê Shawne Muller (32) van Wilgehof, Bloemfontein. Hy bly op straat. Maar om op 8 Mei te stem gaan hy nie geld kan verdien nie. Foto: Charles Smith

“As ek moes kies tussen brandewyn en ’n party, kies ek brandewyn,” spot ’n kêrel. En bestel dadelik ’n dubbele dop brannas.

“One last kiss . . .” sing Elvis.

Rhoda Barnard, die nuwe eienaar, gooi ’n ronde Jägermeister.

Kobus van Biljon proe aan sy dop.

“Die mense dink ek is hier van die drank. Maar ek is eintlik agter die tannie aan . . .”

Hy beduie na Barnard, wat lekker lag. En nóg shooters skink.

Die Bulle druk ’n drie teen die Waratahs, maar niemand kyk televisie in die kroeg nie.

Johan King is lus om politiek te gesels.

“Wie van julle het geregistreer om te stem? Ja? So, jy stem ANC?”

“Nooit, ek stem EFF, my oom!” gooi ’n biker uit die hoek.

Dis die Harley Davidson se baas wat langs die geel Jaguar buite staan.

“Julle wil iets sê, maar julle is nie geregistreer nie,” sê King.

“Los ons, ons drink oom!”

“Ek stem vir Julius, oom,” sê die biker,

Almal lag.

'n Kruiwavrag Black Label vir 'n paartie. Mlabedi Loedi is net die koerier van hierdie krat dop. As sy Woensdag gaan stem, sal dit vir die DA wees. Hoekom? Want sy bly nie meer in die townships nie, sê sy. Foto: Charles Smith

Elvis sing “Forever in Blue Jeans” en so in die sing gee hy ’n stywe drukkie vir ’n vrou wat instap.

Dis regulars dié.

Money talks

But it don’t sing and dance

And it don’t walk

And as long as I can have you here with me

I’d much rather be

Forever in blue jeans

Buite klink ’n Halleluja uit die Fellowship with Us-kerk op.

Laaities met mullets jaag met tjoppers in die straat af.

’n Vrou stoot ’n krat Black Label met ’n kruiwa in die middel van die leë straat.

Die middag voel na ’n Neil Diamond-lied. Vol melankolie en ou karre.

Dis vir ’n paartie iewers bo, langs die kerk, beduie die vrou na die bier.

Mlabedi Loedi sê sy dink sy sal gaan stem, ja. Dalk sommer vir die DA.

Hoekom?

“Hoekom? Ek bly nie meer in die townships nie . . .”

Dan stoot sy die vrag bier straat-op.

Binne het Elvis die karaoke-masjien aan. Mense sokkie. Die brannas loop soos stroop.

Elizma Marais sing The Cranberries se “Zombie”. By die kroegtoonbank sing Miemie de Wet hard saam. Die bikers lag hard.

Shawne Muller (32) stoot ’n winkeltrollie verby die kroeg. Daar is twee emmers op die trollie met ’n paar leë blikkies in.

Hy bly op straat en verkwansel skrootmetaal vir R10/kg.

Is die lewe hard?

Hy lag hardop en herhaal die vraag.

“Jy kan so sê, ja.”

Gaan hy stem?

Hy lag weer. Sy oë lag nie saam nie.

“Ek gaan eers kyk vir iets om te verkoop. Vir iets om te eet die aand. Daar sal nie tyd wees om te stem nie.”

Hoop? Ja, enigiets sal help.

Sy droom was altyd ’n eie plaas. Maar dié droom het stuk-stuk verbrokkel nadat hy sy werk verloor het.

Nou is hy op straat. Met ’n trollie. Soms slaap hy by sy ouers in Wilgehof, maar hulle trek Reddersburg toe. Die toekoms lyk sleg.

"In your head, in your head, they are fighting . . ." sing Elizma Marais die liedjie “Zombie” van The Cranberries. Die atmosfeer in Jy weet mos-kroeg in Watkeystraat, Bloemfontein, styg 'n paar grade. Elvis die DJ beduie met sy hande en eenkant sing Miemie de Wet die woorde saam. Hier is dit paartie, paartie, paartie, eerder as Die Party wat met die verkiesing geld. Foto: Charles Smith

Elizma se stem dra tot hier buite in die straat.

But you see, it’s not me

It’s not my family

In your head, in your head, they are fighting

With their tanks, and their bombs

And their bombs, and their guns

In your head, in your head they are crying

’n Springsteen-nommer met die Bulle wat iewers ver voorloop. Maar hier maak rugby en politiek nie soveel saak nie. Foto: Charles Smith

Hy sal graag wil stem vir ’n Christelike party, sê Shawne.

Die kerk se gesang dra straaf-af, verby die ou Opel Kadets en tuindwergies, brakke wat flou blaf.

“Ek wou trokke ry en geld spaar om my eie plaas te koop . . .,” sê Shawne voordat hy sy winkeltrollie verder sleep die leë Saterdagmiddag in.

George en Marie Lindeque hou net stil. Hulle is karwagte wat by die Bloemskou diens gedoen het. Hy is ná 17 jaar en agt maande diens as BBP-bestuurder in die Vrystaatse regering (wat selfs vir premier Mosiuoa Lekota bestuur het) werkloos.

Hy is weens regstellende aksie laat gaan.

Hulle woon in ’n huis wat hul dogter gekoop het nadat ’n motor haar raakgery het. As hulle gelukkig is, maak hulle saam R300 per dag.

“Ons gaan beslis stem. Ons gaan hulle ’n ding of twee wys. Kyk hoe lyk die strate. Hier moet ’n verandering kom in die land. Ons kan nie altyd so bleddie onder druk bly nie,” sê George.

Woensdag gaan hulle stem. Kom wat wil, sê hulle albei beslis.

In die kroeg het die Bulle nog ’n drie gedruk. Rhoda Barnard sokkie met haar seun, PJ.

Iemand sing “I’ll Be Your Substitute”.

Die straat is leeg. Die middag buite word bleek en proe na Jägermeister.

Oor vier dae is dit stemdag.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.