Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
KZN in DA se visier

Die DA het sy oog op KwaZulu-Natal en meen dat die party goeie vordering teen die ANC in die provinsie kan maak. Hy steur hom ook nie aan onlangse peilings wat toon dat steun vir die party taan nie.

Jonathan Moakes, nasionale bestuurder van die DA se verkiesingsveldtog, het in ’n telefoniese onderhoud gesê  die party se interne meningspeiling vir die 2019-verkiesing stem nie ooreen met peilings onder kiesers waarin voorspel word dat die party minder steun gaan kry as in die 2014-verkiesing nie.

Jonathan Moakes

Volgens Moakes het die DA amper die Umgeni- plaaslike munisipaliteit in die 2016-verkiesing by die ANC afgerokkel toe hy 41,02% van die stemme op hom verenig het en die ANC 55,81%.

“Ons is positief oor ons vooruitsigte in KwaZulu-Natal, want die ANC is uiters kwesbaar en daar is geleentheid vir groei. Ons steun in Umgeni, Umlazi, KwaMashu en Imbali neem toe en ons steun in Chatsworth en Phoenix is gevestig.”

In die 2014-verkiesing, waarin 3 887 840 kiesers gestem het, het die ANC 64,52% van die provinsiale stemme op hom verenig, die DA 12,76% en die IVP 10,85%.

In 2016 het die ANC 57,79% van die stemme gekry, die IVP 20,22% en die DA 13,70% nadat 3 333 298 kiesers hul kruisies getrek het.

Moakes het na onlangse peilings deur onder meer Ipsos en die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) verwys wat toon dat steun vir die DA taan, en wat volgens hom “metodologies uiters gebrekkig” is.

Luidens dié peilings gaan die DA ’n terugslag in die 8 Mei-verkiesing kry.

“Die enigste stemmery wat saakmaak, is by die stembus. Ons het kennis geneem van die peilings, maar dit neem nie kiesers wat nog nie besluit het vir wie hulle gaan stem in ag nie. Dit is metodologies vaag en onderbeklemtoon deurgaans die steun wat die DA het,” meen Moakes.

Die realiteit is dat daar ’n ANC-uittog is van die swart middelklas. Hulle voel hulle word uitgebuit wat betref swart belasting en studieskuld.
Xolani Dube, ’n politieke ontleder van KwaZulu-Natal.

In ’n peiling deur die Universiteit van Johannesburg se sentrum vir maatskaplike ontwikkeling in Afrika (CSDA) is bevind dat steun vir die DA landwyd van 22% in 2014 tot 13% afgeneem het.

Luidens die IRV se jongste peiling geniet die DA 21,8% van die steun landwyd en Ipsos voorspel dat die party 18% van die stem op hom sal verenig.

Xolani Dube, ’n politieke ontleder van KwaZulu-Natal, wat verbonde is aan die Xubera Institute for Research and Development, is van mening dat die ANC die steun van die swart middelklas in die provinsie verloor.

“Die realiteit is dat daar ’n ANC-uittog is van die swart middelklas. Hulle voel hulle word uitgebuit wat betref swart belasting en studieskuld. Hulle kan ook nie met politici in die wetgewers identifiseer wie se insluiting in die middelklas onnatuurlik en gedwonge is nie.”

Al het die DA nog baie werk om te doen onder die swart middelklas, sal die party volgens Dube goed vaar onder die bruin en Indiërgemeenskap in die provinsie.

“Ek dink egter nie die swart middelklas sal noodwendig vir die DA stem nie, maar eerder vir partye soos die EFF.”

Meer oor:  Jonathan Moakes  |  Kwazulu-Natal (Kzn)  |  Politiek  |  Verkiesing 2019  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.