Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Meeste mense nóg gereed om te stem

Vanjaar se verkiesing gaan die grootste in die land se geskiedenis wees met sowat 26,76 miljoen geregistreerde kiesers wat op 8 Mei hul kruisies kan gaan trek.

Mawethu Mosery, adjunk uitvoerende hoof van die Verkiesingskommissie (OVK) Foto: Jacob Rooi

Dit is sowat 74,6% van die kiesersbevolking van die land, sê Mawethu Mosery, adjunk-hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie (OVK).

Hy het Maandag by Unisa in Pretoria op ’n inligtingsessie gesê 74,6% is hoog vir ’n land waar kiesers op ’n vrywillige grondslag registreer om te kan stem, maar hy erken ook dat meer as 80% ideaal sou wees.

In 2014 het 80,8% van kiesers geregistreer, maar net 73,47% van hulle het gaan stem.

Die OVK voorspel dat tussen 72% en 74% van die geregistreerde kiesers vanjaar sal stem.

Die 76 politieke partye wat gaan deelneem (nasionaal en provinsiaal) word deur sowat 18 000 kandidate verteenwoordig. Die OVK moes sowat 52 besware oor nege verskillende politieke partye hanteer en net een kandidaat is onbevoeg bevind.

48 politieke partye is geregistreer vir die nasionale verkiesing.

Gauteng is die mees bestrede provinsie met die meeste partye wat sal deelneem, en die Noord-Kaap die minste bestrede.

Die getal geregistreerde kiesers vir dié provinsies is onderskeidelik 6 381 220 en 626 471.

Ons hou egter aan met ons opvoeding om die betogers aan te moedig om op 8 Mei te kom stem.
Mawethu Mosery

Luidens die OVK se webblad is die kommissie egter bekommerd oor 9,8 miljoen kiesers in die land wat nie geregistreer het nie. Sowat 6 miljoen van hulle is mense jonger as 30.

Mosery sê 55% van die geregistreerde kiesers is vroue.

Hy sê die OVK is effens bekommerd oor die vlaag protesoptrede wat ’n “fenomeen van die tyd is”.

“Ons hou egter aan met ons opvoeding om die betogers aan te moedig om op 8 Mei te kom stem.”

Hy sê ’n veiligheidskomitee sal seker maak die verkiesing word nie ontwrig nie. “Niemand mag op stemdag betoog nie.”

Volgens hom is daar 29 334 kiesers wat in die buiteland geregistreer is om te stem. 14 838 kiesers is in Europa, 7 174 in Asië en ’n skamele 2 868 in die hele Afrika. Die stad met die meeste kiesers (9 084) is Londen. Tweede in die ry is Dubai met 1 542 kiesers, gevolg deur 1 355 kiesers in Den Haag, Nederland.

Simon “Sy” Mamabolo, hoofkiesbeampte van die OVK, moes volgens Mosery inderhaas na Europa reis om te gaan planne beraam om die groot aantal kiesers by die onderskeie Suid-Afrikaanse ambassades te akkommodeer.

Volgens die Pew Research Center was daar in 2017 sowat 900 000 Suid-Afrikaners wat toe langer as ’n jaar in die buiteland gewoon het.

Datums

* Op Donderdag 18 April om 17:00 sluit die registrasies vir spesiale stemme. Mosery sê dit is vir almal, soos sakelui of nooddienswerkers en mediese personeel, wat weet dat hulle nie op 8 Mei sal kan stem nie. Spesiale stemme in dié verband word op 6 en 7 Mei uitgebring.

Hierdie kiesers sal twee koeverte elk ontvang. Die stembrief word in die een naamlose koevert geplaas. Dié koevert word dan in ’n gemerkte koevert met die kieser se besonderhede daarop geplaas.

* Kiesers in die buiteland stem op 27 April.

* Op 23 April word die lyste van partye en kandidate wat aan die verkiesing deelneem, gefinaliseer

* 8 Mei is stemdag in Suid-Afrika. Stemlokale is oop van 07:00 tot 21:00.

* Die finale uitslag van die verkiesing sal op Saterdag 11 Mei bekend gemaak word, sê Mosery.

* Teen 15 Mei sal die verteenwoordigers van die onderskeie partye vir die volgende vyf jaar bekend gemaak word.

Interessante feite tot dusver

* Meer as 220 000 stembusse is vervaardig.

* Kiesers gaan in 44 529 individuele kieshokkies stem.

* 24 974 pyle is gedruk as aanwysings na die stemlokale.

* 56 255 pakke skryfbehoeftes is gekoop.

* Meer as 67 miljoen stembriewe word gedruk. Dit is meer as 400 ton papier.

Meer oor:  Verkiesing 2019  |  Mawethu Mosery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.