Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Misdaad, grond, ekonomie: Só sê groot 5 partye oor belangrike kwessies

Politieke partye het in hul onderskeie verkiesingsveldtogte baie gefokus op hul planne vir ekonomiese groei, werkskepping, grondhervorming, misdaad, onderwys en rassespanning.

As jy nog twyfel vir wie om te stem, hier is kortliks ’n opsomming van wat vyf partye oor dié onderwerpe in hul onderskeie verkiesingsmanifes sê:

ekonomie
Ekonomiese groei en werkskepping

ANC: Die ANC onderneem om elke jaar ’n bykomende 275 000 werkgeleenthede te skep deur die plaaslike aanvraag na goedere ’n hupstoot te gee, meer in mynbou, vervaardiging en landbou te belê en uitvoermarkte uit te brei.

Die party wil ook internskappe en opleidingsgeleenthede vir jong mense op groot skaal uitbrei, die nasionale minimum loon in werking stel om die lewe van ses miljoen werkers te verbeter en R1 200 miljard in belegging oor vier jaar te mobiliseer. Die ANC se plan vir die uitbreiding van eienaarskap is daarop gemik om gemengde eienaarskap van die ekonomie te bevorder met die fokus om die eienaarskap van werkers oor die ekonomiese sektore uit te brei.

DA: Sal beleidsekerheid en leiding verskaf vir ekonomiese groei en werkskepping deur ’n wet op werkgeleenthede deur te voer wat ’n werk vir elke huis sal verseker, terwyl die party ook indiensnemingskorrupsie sal uitwis, verseker dat vakbonde die belange van werkers en nie dié van hul eie elite beskerm nie. Die party sal ook ’n vrywillige nasionale burgerlike diensjaar instel.

EFF: ’n EFF-regering streef na ekonomiese soewereiniteit wat gegrond is op inwaartse industrialisasie met uitvoerkapasiteit, die beskerming en bevordering van die arbeidsintensiewe vervaardigingsektor en die verskaffing van gehalte werkgeleenthede aan alle werkloses. Hy streef ook ekonomiese vooruitsig vir die land na waar die staat alle strategiese sektore van die ekonomie besit en eienaarskap en beheer van die private sektor wat die demografie van die land reflekteer.

Vryheidsfront Plus: Staatsbesteding moet verminder word deur onder meer alle staatsinstellings te privatiseer deur middel van ’n mengsel van gedeeltelike verkoping en volle verkoping. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en Eskom is eerste op die lys vir privatisering. Persoonlike en maatskappybelasting moet verlaag word om belegging in die ekonomie te stimuleer en werk te skep. Die brandstofheffing moet aansienlik verminder word. Ander tariewe en heffings moet ook afwaarts aangepas word om besteding en sodoende die ekonomie te stimuleer. Dit sluit in die omstrede e-tolstelsel in Gauteng.

Cope: Die party wil die strukturele struikelblokke tot ekonomiese groei verwyder deur beleidsekerheid te skep en vertroue tussen die regering, die private sektor, arbeid, die akademie en ander rolspelers te verbeter sodat inklusiewe ekonomiese groei kan plaasvind. Ooreenkomste vir werkskepping kan help om daardie groei vol te hou en uit te brei. Die party staan die verkoop van ’n 50%-aandeel in die SAL en Transnet aan die private sektor voor en is ten gunste daarvan dat Eskom ontknoop en die energiesektor spoedig hervorm word deur middel van mededinging.


 

Grondhervorming

ANC: Die ANC sal ’n volhoubare grondhervormingsprogram uitvoer wat deelname in en eienaarskap van landbouproduksie sal verhoog, voedselsekerheid sal bevorder en sal help om die ruimtelike apartheidskeiding van stede en dorpe uitwis. Dit sal gedoen word deur ’n reeks maatreëls, insluitende grondonteiening sonder vergoeding.

DA: Die DA verwerp planne om die Grondwet te wysig om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak. Die party stel grondhervorming voor wat werkgeleenthede kan laat toeneem, eienaarskap en die ekonomie kan uitbrei en wat ekonomiese geregtigheid verseker.

“Dit vereis nie die onteiening van grond sonder vergoeding of staatseienaarskap van grond nie, maar ’n regering wat bekwaam is om bestaande bepalings van ons Grondwet te gebruik.”

Die party het ook stedelike grondhervorming geprioritiseer deur titelaktes aan byna 100 000 huiseienaars te oorhandig.

EFF:

’n EFF-regering sal verseker dat die wysiging van die Grondwet - om die onteiening van grond sonder vergoeding vir herverdeling en gebruik - onmiddellik deurgevoer word. Die staat sal dan alle grond in die land besit en dit gelyk onder almal verdeel. Grondeienaarskap sal ook demografies verteenwoordigend wees, wat beteken dat swart mense die meerderheid grond sal beheer omdat hulle die meerderheid in Suid-Afrika uitmaak.

Vryheidsfront Plus: Die VF Plus is gekant teen onteiening sonder vergoeding en meen daar is genoeg grond vir herverdeling beskikbaar, maar dat administratiewe gesloer nadelige vertragings veroorsaak. Grond wat reeds verkry is deur grondhervorming en waarvan 90% van die projekte misluk het, asook ongebruikte staatsgrond kan volgens die party dadelik aangewend word vir herverdeling waarna die beginsel van “vrywillige verkoper, vrywillige koper” gevolg behoort te word. In die geval van onteiening in openbare belang moet dit met markverwante vergoeding gepaardgaan.

Cope: Cope wil verseker dat alle Suid-Afrikaners ten volle deel is van die proses van grondhervorming om aandag te gee aan restitusie, herverdeling, verblyfreg, markverwante waardasies en grondadministrasie om ’n wen-wen-situasie te bereik. ’n Meer betroubare en omvattende grondoudit moet onderneem word om te help met strategiese beplanning en praktiese strategieë oor grondhervorming. Grondonteiening tot die punt waar dit noodsaaklik is om grondhervorming te verseker, sal plaasvind op voorwaarde dat sodanige onteiening die toets van grondwetlikheid sal deurstaan.


misdaad
Misdaad:

ANC: Die party wil verseker dat wetstoepassingsbeamptes behoorlik opgelei is om sake te ondersoek om die vlak van sukses te verhoog. Die ANC belowe ook om hulpbronne te versterk en gesamentlike beplanning en begroting oor die hele strafregstelsel uit te voer; die sigbaarheid in gemeenskappe te verhoog deur die aantal beamptes in uniform te verhoog; misdaad te verminder en dwelmsindikate te teiken deur ’n nasionale teenbende-strategie en deur die hersiene nasionale dwelmmeesterplan toe te pas. Die party is ook daartoe verbind om korrupsie en staatskaping te bekamp.

DA: ’n DA-regering sal alle bekwame provinsies toelaat om verantwoordelikheid vir polisiëring in hul provinsies oor te neem. Dit sal ook die polisie ten volle hervorm deur polisiebeamptes weer op te lei, misdaadgeteisterde stedelike en landelike gebiede te prioritiseer kragtens hulpbronne en toerusting en alle aankoopstelselsels na provinsiale vlak skuif om korrupsie te voorkom. Dit sal ook vir die regte van verantwoordelike vuurwapeneienaars veg en die spoorwegpolisie op treine verbeter.

Die party sal ook ’n minimum outomatiese vonnis van 15 jaar instel vir enige staatsamptenaar wat skuldig bevind word aan korrupsie waar meer as R10 000 betrokke was.

EFF:

Die EFF-regering se benadering tot misdaadbekamping sal in ag neem dat misdaad ’n sosio-maatskaplike gevolg is en dat dit fundamenteel ontwortel kan word as gemeenskappe ekonomies ontwikkel word en gehaltewerk en loopbane aan misdadigers verskaf. Die EFF-regering sal teen 2024 ook satelliet-polisiekantore in elke wyk in die land hê. Dit sal 100 000 bykomende polisiebeamptes teen 2023 in diens neem en alle onklaar polisievoertuie teen 2020 herstel.

’n EFF-regering sal die doeltreffendheid van alle regeringsinstellings verhoog en verbeter om alle vorme van korrupsie te verhoed.

Vryheidsfront Plus: Die party meen dat die integriteit en funksionaliteit van die polisie herstel moet word deur van korrupte lede ontslae te raak; dat politieke aanstellings nie gemaak moet word nie en bevorderings op grond van kundigheid en ondervinding geskied. Die private besteding aan veiligheid moet van belasting aftrekbaar wees. Spesialiseenhede moet gestig word vir geweldsmisdaad en om die handel in onwettige vuurwapens te takel; die reg van bevoegde burgers om vuurwapens te besit moet beskerm word en plaasaanvalle moet as ’n prioriteitsmisdaad verklaar word en genoeg hulpbronne moet aan landelike beveiliging toegeken word.

Cope: Cope sal alle wetstoepassingsagentskappe depolitiseer, polisiebeamptes beter oplei, meer hulpbronne aan die polisie verskaf en gespesialiseerde polisie-eenhede terugbring. Hulle sal ook ’n onafhanklike teenkorrupsie-eenheid op die been bring wat in pas is met Suid-Afrika se internasionale verpligtinge en om korruptes vas te vat.


 

onderrig, onderwys
Onderwys:

ANC: Die party beplan om die kernverantwoordelikhede van die departement van basiese onderwys uit te brei om die verskaffing en monitor van vroeë kinderontwikkeling in te sluit. Die party wil ook universele toegang tot vroeë kinderontwikkeling verseker deur twee jaar van verpligte gehalte voorskoolse inskrywings te verseker vir vier- en vyfjariges voor gr. 1. Die party sal voortgaan om maatreëls toe te pas om toegang tot gratis hoër onderwys vir die arm en die “vermiste middel” te verseker.

DA: Die DA sal die gehalte van basiese onderwys radikaal verander, ontbyt en middagete vir leerlinge by skole verskaf en skoolhoofde, adjunkskoolhoofde, skoonmakers en personeel by skole as noodsaaklike dienste verklaar wat nie sonder vooraf kennisgewing kan staak nie.

Die party het ’n omvattende plan om die tersiêre onderwysstelsel reg te ruk, terwyl dit ook beurse aan arm studente sal gee wat nie terugbetaal hoef te word nie.

EFF:

’n EFF-regering sal vrye, gedekolonialiseerde onderwys vir almal bied en vakke met betrekking tot inheemse kennis, soewereiniteit en ekonomiese vryheid in skoolkurrikulums bevorder. Dit sal ook die gebruik van tegnologie en kommunikasietegnologie verhoog om alle Suid-Afrikaners teen 2024 rekenaargeletterd te kry.

Hulle sal gratis hoër onderwys tot die eerste graad verskaf en beurse vir nagraadse studies beskikbaar stel.

Vryheidsfront Plus: Gehalteonderwys hang van ’n nuwe onderwyskultuur af. ’n Kultuur van harde werk, stygende standaarde en eerlikheid is nodig. ’n Hoë standaard van onderwys met toegang vir almal tot moedertaalonderrig tot op die hoogste moontlike vlak wat ouer en gemeenskapgedrewe is word deur die party voorgestaan. Die basis van die VF Plus se onderwysbeleid is dat moedertaalonderrig vir elkeen beskikbaar moet wees – hoewel dit aan niemand opgedwing moet word nie.

Cope: ’n Cope-regering sal ’n “wêreldklas”-onderwysstelsel op basiese en tersiêre vlak verseker om alle leerlinge en studente toe te rus vir die vierde nywerheidsrevolusie. Dit sal ook volhoubare programme in stel om alle landstale te ontwikkel en uitgebreide gebruik in onderwys, handel, die regswese, kulturele omgewing en in die breër sameling te verseker. Cope ondersteun nie die marginalisering van enige taal om politieke redes nie.


 

rassisme, ras, rassehaat, apartheid
Oor ras:

ANC: Die party sal die voorgestelde wetgewing voor die parlement wat gemik is op die voorkoming en bekamping van haatmisdade en die vervolging van mense wat dié misdade begaan, finaliseer. Die wetgewing sal haatmisdade hanteer wat gemik is teen mense gegrond op hul ras, geslag, godsdiens, gestremdheid, seksuele oriëntasie of albinisme. Die party belowe om die waardes van nierassigheid en nieseksisme te bevorder deur die bevordering van kuns, kultuur, sport en aktiwiteite tussen godsdienste te bevorder en onderwysers en staatsamptenare op te lei oor hoe om alle vorme van diskriminasie te hanteer.

DA: Dit is die DA se grondbeginsel dat geen Suid-Afrikaner – ongeag ras, gender, seksuele oriëntasie - se lewe bepaal moet word deur die omstandighede van hul geboorte nie. As ’n regering sal die party onverpoos werk om te verseker dat alle Suid-Afrikaners die rykheid en volheid van hul onbeperkte potensiaal kan bereik en sodoende een Suid-Afrika vir almal bou.

EFF:

Die ekonomie in Suid-Afrika is steeds onder die eienaarskap en beheer van ’n wit minderheid wat veral die grond verkry het deur setlaar-kolonialisme en die onteiening van swart gekoloniseerdes. Ander sektore soos kettingwinkels, nywerhede en die finansiële sektor word ook deur die wit minderheid in Suid-Afrika besit en beheer. Die party meen dit moet verander en dat hy sal streef na die ekonomiese vryheid van swart Suid-Afrikaners.

Vryheidsfront-Plus:

Die party glo dat gelyke regte en geleenthede vir almal moet geld; dat regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging afgeskaf moet word en bemagtiging op grond van sosio-ekonomiese omstandighede moet geskied en nie op grond van velkleur nie. Nasiebou moet versterk word deur erkenning te gee aan groep-, taal- en kultuurregte. Gelyke regte vir minderhede en konsekwente optrede moet geld ten opsigte van haatspraak deur en teenoor alle rasse en gemeenskappe.

Cope: ’n Cope-regering sal aktief werk om rasgeïntegreerde en samehorige gemeenskappe te skep. Dit sal ook daarna streef om die verdeeldheid tussen Suid-Afrikaners te oorbrug. “Kwessies van etnisiteit, taal, kultuur, oorsprong, godsdiens en politieke affiliasie moet konstruktief, intelligent en oopkop benader word.

Meer oor:  Cope  |  Da  |  Vryheidsfront Plus  |  Ff Plus  |  Anc  |  Eff  |  Misdaad  |  Verkiesing2019  |  Ras  |  Grondhervorming  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.