Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
‘Moenie ANC straf omdat julle vir sy leiers kwaad is’

Swart kiesers moet nie die ANC straf omdat hulle kwaad is vir die party se leiers, waaronder hyself en pres. Cyril Ramaphosa, nie.

So het Ace Magashule, die ANC se beleërde sekretaris-generaal, Sondag in Kaapstad gesê.

Hy en ander ANC-leiers het in die Shekainah Healing Ministries-kerk in Philippi honderde kerkgangers toegespreek.

Ace Magashule
Gemeentelede bid Sondag vir Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, in die Shekainah Healing Ministries-kerk in Philippi, Kaapstad. Foto: LLEWELLYN PRINCE
Netwerk24 LLEWELLYN PRINCE

“Hierdie leiers is nie die ANC nie. Hulle kom en gaan. As ons verkeerde dinge as leiers doen, moet nie die ANC straf nie,” het Magashule gesê.

Hy het die kerkgangers in ’n bykans donker gebou toegespreek nadat die elektrisiteit onverwags voor sy aankoms, op die laaste dag van sy stemwerwery in die Kaapstadse townships, onderbreek is.

“Dit is so dat ons as leiers soms arrogant is en julle net besoek as ons stemme wil hê, maar dit is steeds die ANC van Nelson Mandela, O.R. Tambo en Walter Sisulu, wat nooit sal verander nie.”

Sondag het City Press en Rapport berig hoe hoëprofiel-ANC-leiers, onder wie adj.pres. David Mabuza, Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, en Fikile Mbalula, die ANC se nasionale verkiesingshoof, onder 22 mense op die ANC se kandidatelyste tel wat volgens die party se integriteitskomitee onbevoeg is om die party in die verkiesing te verteenwoordig.

City Press berig ander ANC-kandidate is glo van diegene teen wie besware by die Verkiesingskommissie (OVK) ingedien is, soos Zizi Kodwa, voormalige ANC-woordvoerder, en ander ministers soos Nomvula Mokonyane (kommunikasie), Bathabile Dlamini (in die presidensie, belas met vroue en kinders), Zweli Mkhize (samewerkende regering en tradisionele sake) en Bheki Cele (polisie).

Magashule, ’n voormalige Vrystaatse premier, is in omstredenheid gedompel weens verdoemende beweringe van staatskaping en korrupsie teen hom in die boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture.

Emosies oor dié boek van Pieter-Louis Myburgh het so hoog geloop dat die bekendstelling Dinsdag in Sandton ontwrig is en planne beraam is om eksemplare daarvan in Bloemfontein te verbrand.

Magashule is vroeër ook voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping van soortgelyke oortredings as dié in die boek beskuldig.

Met verwysing na die boek het Magashule in Philippi gesê: “Hulle kan maar boeke skryf, ek sal nie hoop verloor nie. Ek staan onverskrokke. Ek loop vol selfvertroue.”

Hy het ook ’n klag wat die DA by die OVK teen hom wil indien, nadat daar op ’n video gesien kan word hoe hy Saterdag ten tyde van ’n stemwerwingsveldtog R400 aan ’n inwoner van Philippi in haar huis gee, afgemaak as “nonsens”.

“As ’n gesin nie kos het nie, gee jy vir hulle iets. Dit is nie stemkopery nie. Wat ek vir daardie familie gedoen het, is die regte ding om te doen.”

Mike Moriarty, die DA se hoofverteenwoordiger in die skakelingskomitee van die OVK, sê die klag sal ingedien word omdat Magashule se optrede “neerkom op die koop van stemme wat ’n skending van klousules in die Kieswet is”.

Magashule het Sondag ook ’n beroep op veral swart Suid-Afrikaners gedoen om in hul massas op 8 Mei te gaan stem omdat “swart mense tot vandag steeds niks het nie. Die DA sal nie beter dinge vir julle doen nie.”

Volgens hom moet swart mense stem om die Wes-Kaap van die DA terug te neem. “Tyd en die Almagtige God is aan ons kant. Die ANC glo in God.”

  •  Intussen het Mmusi Maimane, DA-leier, Sondag in Johannesburg aangekondig dat hy binnekort weer met die polisie en die OVK wil vergader én aan die parlement sal skryf om onmiddellike stappe te eis om die “ANC-georkestreerde” anargie en protesoptogte wat tans townships in DA-beheerde metro’s teister, stop te sit.
Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Politiek  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.