Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Grond: Moenie hervorming vrees nie, vra Cyril
cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag aan die woord op die wynplaas Beyerskloof by Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Jong wit Suid-Afrikaners moenie die land verlaat nie en grondhervorming is nie ’n proses wat gevrees moet word nie.

Dít was Dinsdag die boodskap van pres. Cyril Ramaphosa toe hy met kommersiële boere, sakelui en akademici in Stellenbosch, waar hy gul en met ope arms ontvang is, gepraat het.

Ek wil nie hê jong wit Suid-Afrikaners moet die land verlaat nie. As ek kon, sal ek hulle aan ’n boom vasmaak en sê moenie weggaan nie, ons wil julle hier in die land hê.
Pres. Cyril Ramaphosa

Ramaphosa het in ’n wydlopende toespraak op die Beyerskloof-wynlandgoed gesê daar is ’n toekoms vir wit Suid-Afrikaners in die land. Suid-Afrikaners in die diaspora – swart en wit – wat na ander lande uitgewyk het, moet na die land terugkeer om die land te help bou.

“Ek wil nie hê jong wit Suid-Afrikaners moet die land verlaat nie. As ek kon, sal ek hulle aan ’n boom vasmaak en sê moenie weggaan nie, ons wil julle hier in die land hê,” het hy onder applous gesê.

“Ek wil al die vaardighede hê,” het Ramaphosa gesê.

“Ek dink die gevoel wat sommige van hulle het dat hulle nie hier welkom is nie, is geheel en al nie waar nie . . . ons moet ’n balans hê. Namate ons almal bemagtig en geleenthede gee aan diegene wat daarvan weerhou is, skep dit ander geleenthede – vir alle Suid-Afrikaners en veral vir wit Suid-Afrikaners.”

Daar is ruimte vir almal om ’n rol te speel, want uiteindelik behoort Suid-Afrika aan almal wat in die land woon, het hy gesê.

Hy het op vrae van hoofsaaklik kommersiële boere gereageer. Kwessies soos grondhervorming, voedselsekerheid, groeigeleenthede vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, burokratiese rompslomp, verblyfreg, asook wat die toekoms vir die land inhou, het onder die loep gekom.

Ramaphosa het met verwysing na grondhervorming gesê dit moet positief eerder as negatief benader word.

Die proses in die parlement is aan die gang. Daar sal ’n onteieningswetsontwerp wees wat “taamlik progressief” is oor hoe grondhervorming in die land bevorder kan word. “Ons kyk na grond wat aan die staat en staatsinstellings behoort, wat nie gebruik word nie en wat soms onwettig bekom is.

“Die grondhervormingsproses is iets wat nooit gevrees moet word nie. Dit sal plaasvind ingevolge die oppergesag van die reg en die Grondwet. Daar gaan nie grondvergrype wees waar grond buite die raamwerk van die wet gegryp word nie. Dit gaan op ’n manier gedoen word waar ’n balans gevind word waar almal in die land voel die Grondwet werk vir hulle.”

Dit gaan op ’n manier gedoen word waar ’n balans gevind word waar almal in die land voel die Grondwet werk vir hulle.
Pres. Cyril Ramaphosa

Boere moenie hulself as “eilande” beskou nie. Almal moet deel van die oplossing wees – dit beteken verandering moet verwelkom word, het hy gesê.

Ramaphosa het ook verwys na plaasuitsettings en gesê die stories wat hy op sy besoek aan Vredendal gehoor het van mense wat 25 jaar lank op plase gewerk het, maar uitgesit is, is werklik baie hartseer.

Hy het daarop gewys dat plaaseienaars in ’n baie sterker posisie as plaasarbeiders is en gevra dat kwessies met menswaardigheid en begrip benader moet word.

Foute is in die land gemaak, maar hy glo die glas is halfvol.

Ramaphosa het hom ook sterk uitgespreek teen korrupsie en gesê hy is vasbeslote om dit uit te roei. “Diegene wat dinge gedoen het wat tot korrupsie aanleiding gegee het, moet aanspreeklik gehou word. Hulle moet gaan waar hulle hoort – in die tronk.”

Dit is nie net van toepassing op die staat nie, maar ook op die privaat sektor. “Dit is oral, maar ons is vasbeslote om Suid-Afrika skoon te maak. Die kommissies wat nou ondersoeke doen, sal verseker dat wat gebeur het nooit, ooit in die mooi land Suid-Afrika herhaal word nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.