Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
‘Net in Afrikaans kan jy van tjokker tot prof goeie onderrig kry’

Afrikaans is die enigste taal waarin ’n mens van kleuterskool af tot op universiteitsvlak ’n goeie onderrig kan kry, sê Solly Msimanga, DA-premierskandidaat in Gauteng.

Panyaza Lesufi, ANC-adjunkvoorsitter in Gauteng en LUR vir onderwys, sê enige individu wat glo ’n sekere taal gaan gepaard met sekere voorregte is verkeerd.

Msimanga en Lesufi het Woensdagaand ’n vurige debat gevoer op die kykNET-program Verslag in gesprek met Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, as aanbieder.

Panyaza Lesufi (links), adjunkvoorsitter van die ANC in Gauteng, en Solly Msimanga, DA-premierskandidaat in dié provinsie, voer ’n debat op die kykNET-program Verslag in gesprek. Foto: Skermgreep

Pelser het verskeie vrae aan dié politici gestel oor die onderskeie partye se sienings en beleide oor kwessies in Gauteng, veral in aanloop tot die verkiesing op 8 Mei.

’n Knelpunt in dié provinsie is die onderwysdepartement se nuwe toelatingsbeleid tot skole.

Luidens ’n dokument op die Gautengse onderwysdepartement se webblad is taal nie ’n toelatingskriterium nie.

“Die skool laat eerste leerlinge toe en bepaal dan die onderrigtaal gegrond op die bevolking van leerlinge en die

hulpbronne wat beskikbaar is,” lui dié dokument.

Dit beteken dat leerlinge van enige moedertaal by ’n skool met enige onderrigtaal van hul keuse geplaas kan word.

Msimanga sê instellings wat reeds werk, moet nie uitgeroei word om onreëlmatighede te normaliseer nie.

“As jy kyk na die geskiedenis van Afrika as ’n geheel, is Afrikaans die enigste taal waarin iemand van kleuterskool af tot op die vlak van ’n professor ’n goeie en omvattende opvoeding kan kry.”

Msimanga vra wat daar in die laaste 25 jaar gedoen is om te verseker dat ’n kind ’n soortgelyke opvoeding in Zoeloe kan ontvang.

“Kyk na ander lande soos China en Frankryk en ontwikkelde lande waar mense trots is op inheemse tale en waar daarin belê is om mense onderrig in dié tale te gee.”

Panyaza Lesufi sê in antwoord Suid-Afrikaners glo elke persoon se taal is belangrik. “Dit is waarom ons elf amptelike tale het. Jy kan studeer en leer in enige taal wat jy wil, of dit nou jou moedertaal of enige ander taal is.”

Hy sê as mense egter moedertaal wil gebruik om ander uit te sluit en om voorregte te verdedig, is daar probleme.

Pelser vra dan wat as dit nie dié mense se bedoeling is om moedertaal só te gebruik nie.

“Jy kan nie toelaat dat ons kinders saam dans by ’n restaurant, waar hulle by ’n verjaarsdagpartytjie eet nie, maar as hulle klaskamer toe gaan, mag hulle nie saam wees nie. Dit maak nie sin nie, ons kinders kan onder een dak saam leer.”

Jy kan nie toelaat dat ons kinders saam dans by ’n restaurant, waar hulle by ’n verjaarsdagpartytjie eet nie, maar as hulle klaskamer toe gaan, mag hulle nie saam wees nie.

Lesufi sê diegene wat in Engels wil leer, kan na die Engelse klas gaan en dieselfde geld Afrikaanse en Zoeloe-kinders.

“Maar as hulle sport beoefen, kan hulle saam rugby en sokker speel. Enige individu wat glo ’n sekere taal gaan gepaard met sekere voorregte is verkeerd. Alle tale is gelyk en alle tale moet regverdig hanteer word.”

Die twee mans het hewig oor ander kwessies in die provinsie gedebatteer, onder meer oor die DA en ANC se beleide oor grondonteiening, die e-tolstelsel en buitelanders wat in die provinsie woon. Hulle het gereeld gelyktydig gepraat.

Lesufi het op ’n kol gesê die DA weet nie waar hulle staan met hul beleide rondom grond nie en dat hulle Suid-Afrikaners mislei.

“ ’n Stem vir die DA is ’n stem vir die EFF, en andersom. Hierdie mense wat so verskil, sit plakkate op wat mense aanraai om nie vir die EFF te stem nie, maar hulle bestuur ’n regering saam met die EFF,” sê Lesufi.

Msimanga het gelag en sy kop geskud.

“Ek stem nie saam nie. Julle het ’n president en adjunkpresident wat die EFF smeek om terug te kom.”

Hy beskuldig pres. Cyril Ramaphosa daarvan dat hy in die buiteland sê geen grondonteiening sal plaasvind nie, maar wanneer hy terugkom sê hy vir mense in landelike gebiede iets heeltemal anders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.