Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Verkiesing 2019
Niehaus drink ANC-doepa met Ace, ja!

Die Zuma-lojalis Carl Niehaus help Ace Magashule, sekretaris-generaal (SG) van die ANC, met sy verkiesingsveldtog.

Niehaus, wat Vrydag nog vir oudpres. Jacob Zuma op sosiale media geluk gewens het met sy 77ste verjaarsdag, werk al sedert Januarie in Magashule se kantoor.

Ace Magashule en Carl Niehaus by ’n ANC-byeenkoms in Sebokeng.

Volgens Dakota Legoete, ANC-woordvoerder, is Niehaus op ’n jaarkontrak aangestel as bestuurder van spesiale projekte.

Niehaus sal ook vir Magashule bystaan in die aanloop en nadraai van die verkiesing. “Ek geniet dit om betrokke te wees by verkiesingsveldtogte. Ek sien myself as ’n veteraan in die politieke arena en is al sedert 1994 betrokke by verkiesingsveldtogte.”

Niehaus sê Magashule se kantoor probeer met die veldtog “algemene probleme van kiesers regstel, soos om toilette reg te maak”.

“Die SG is nie ’n man wat sit en wag en lank vat om ’n besluit te neem nie. Hy probeer dinge so vinnig as moontlik regmaak.”

Niehaus sê al was hy voorheen woordvoerder vir sowel die ANC as die Umkhonto weSizwe- militêre veteranevereniging (MKMVA), is hy nie verantwoordelik vir persverklarings uit Magashule se kantoor nie. “Ek vervul ’n praktiese rol in die SG se kantoor. Dis nie ’n kantoorwerk nie.”

Die verklarings van die MKMVA en die ANC wat die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture veroordeel het, is dus glo onafhanklik van mekaar uitgereik.

Die verklarings is ’n dag uitmekaar uitgereik, albei met die boodskap: “Hands off our SG.”

Legoete het drie dae ná die ANC se verklaring uitgereik is in ’n radio-onderhoud gesê die ANC gaan hul verklaring terugtrek, maar dit het nooit gebeur nie.

Volgens Niehaus het Myburgh se boek geen uitwerking op die werk van Magashule of sy kantoor nie.

“Ons gaan gewoon voort. Die SG se dagboek is vol.”

Magashule se Twitter-profiel is ook in Januarie 2019 geskep, dieselfde maand wat Niehaus vir sy kantoor begin werk het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.